Wednesday, 29 April 2020

Oom Johny en die KWV Kwota


1975, Desember. Ek is 'n laaitie in Standerd 5 - Kalkrand Laerskool, 29 kinders groot.
Ons boer Botswana se kant toe, net anderkant Hoachanans. Rooi Kalahari duine plaas, met Karakoel skaap en Boerbokke.
Dinge kners - die pelspryse is nie wat dit moet wees nie, die reën ook nie.  Vakansie hou was 'n vreemde konsep - in effek, ek het eers gehoor jy gaan weg tydens skoolvakansies toe ek klaar was met skool.
Hierdie jaar is dit egter anders - Oom Coenraad van die buurplaas het ons genooi om saam met hulle Swakop toe te gaan, visvang, vroeg in Desember. Ons bly in die Munisipale A-raam huisies.  Opsigself was dit 'n vreemde ervaring, 5 uur in die oggende op om iewers heen te ry en vis te vang, dan laat namiddag terug om die vis skoon te maak en dan te vries vir die lang pad terug. Ek vermoed dis waar ek my knou gekry het, ek hou vandag nog nie van viswerk nie - o ja, en toe kry ek nog "arc eyes" van die son op die see. Nie geweet dis hoe 'n mens vakansie hou nie.
Die pad terug was lank, 400 km Windhoek toe, 200 km Kalkrand toe, dan oos, verby Hoachanas, laai af by Oom Coeraad, en dan die laaste paar myl plaas toe. In 'n Series 3 Land Rover.
Ek dink nie ek was al ooit in my lewe so bly om die laaste duin se kruin oor te steek nie, dan regs op die tweespoorpad wat al langs die duin, rooi rooi kronkel, tot by die opstal. Die ou opstal wat my pa besig was om reg te maak, groot stoep en dak oor die sitkamer - eintlik was dit 'n buitepos waarvan my pa al die geboue aanmekaar gelas het met steen en sement, en 'n enorme dak reg bo-oor.
By die hek, voor die opstal, het 'n Kameeldoring en Witgatboom gestaan waaronder die ou Breakneck generator/sweismasjien op 'n sleepwa gestaan het - koelte. Wat ek wel baie goed kan onthou is dat die Perdebye besonders lief was vir die Witgatboom, en minder lief vir diegene wat daar geroer het.
Maar daar is fout - daar staan 'n vreemde motor en nog 'n kontrapsie op ons erf? Versigtig ry ons nader, en my pa doen navraag. Groot was sy verbasing toe hy sien dis Oom Johny - al die pad van Gordonsbaai af. Oom Johny en Tannie Maude, met hulle Valiant bakkie en karavaan. My eerste kennismaking met 'n karavaan, 'n vreemde kontrapsie waarbinne jy kan bly en dit agter jou motor aansleep.
(Foto geleen)
Ek is nie seker wat die konneksie tussen Oom Johny en my pa was nie, en of hy geweet het hulle kom kuier, is ek nie seker van nie. Hulle staan al 'n week daar, die Valiant bakkie onder die Witgatboom en die karavaan in die namiddag skaduwee, langsaan. Vir die ablusie behoeftes het hulle toegang 
deur een van die vensters op die stoep gekry, en so hulle gang gegaan - 5 dae al.

Ons pak af. My ma kyk my pa vreemd aan; waar slaap die mense - in die karavaan sê Oom Johnny. Ons kinders skarrel heen en weer om alles te dra en uit te pak.
Oom Johny roep my pa - hy het vir hom darem 'n bietjie wyn saamgebring, vir die verblyf, hy het mos 'n KWV kwota. Dis reg so, reken my pa. Die laaibak van die Valiant is soos die weduwee se kruik - boks na boks kom te voorskyn onder die seiltjie uit. Na 'n menigte bokse, wyer as wat ek kan lê en hoër as wat ek kan staan, keer my pa – “oom hoef nie al jou wyn vir my te gee nie.” Oom Johny kyk hom geskok aan, “nee man, moenie bekommer nie - ek het nog my eie ook, dis in die karavaan.”  Oom Johny en Tannie Maude is net na Kersfees daar weg, suid, Gordonsbaai toe.


Nuwejaar - my pa besluit om die boere rondom ons te nooi vir vieringe, ons het mos oom Johnny se KWV kwota, voldoende. Braai gaan ons braai, en wyn gaan daar gedrink word.  Die genooides daag op, wyn word oopgemaak en ek braai skaaptjops en wors - op hardekool kole met 'n toeklaprooster. Ma het die slaai aanmekaargeslaan, gaste het bykosse gebring, pap en sous word gemaak - die tafel kreun van doodgewone Kalahari gasvryheid. Die gees is goed.
My ma herwaardeer die gebruik van haar beste eetgerei - dit word verander na papierborde in gevlegde grasmandjies. 
Daar word geeët en gekuier, een van die ooms het sy kierrie verloor - die kwota wyn het sy pyn weggeneem. Ek kyk grootoog na die aapstreke van groot mense op wyn.

“Kom help opruim”, kommandeer ma, geen argument nie. Ek stop by oom Dieter, tel die papierbord op - net die rand van die bord is oor, die binnekant van die bord is saam met die vleis, pap en sous opge-eet!
Verbaas sê oom Dieter; "my herre Rinatjie, g'n wonder die vleis was so taai nie."
Die wyn het sy werk gedoen.  KWV verrig wonderwerke!
Vandag verstaan ek!
MooiLoop

(Nota: Vandag se fotos is geleen ter illustrasie)

2 comments: