Wednesday 19 February 2020

Toksies


Praat gisteraand met 'n dame.  Sy is in trane oor die werksomgewing - dis sleg, moeilik, toksies.

Sy dreig om haar goed te vat en te loop.

Sy is hartseer omdat sy haar bes probeer en ander maak haar af. Dit frustreer haar want die prosesse wat daar is om haar te beskerm - maak dit moeiliker vir haar; dit los nie die probleem op nie.

Die HR bestuurder praat haar klagtes weg - hy wil nie hoor nie.  Die baas sê hy kan niks doen nie, want hy sien niks nie - die skuldiges is vriendelik voor hom en vieslik agter.

Ek gee vir haar slegte nuus- dit gaan nie help om 'n ander werk te soek nie, want die bullebakkery gaan daar ook gebeur.  Sy verpersoonlik die profiel van iemand wat deur bullebakke (of kooiebakke) geteiken word.  Vriendelik, pleaser, helper, instaner, onseker, sensitief en meer.

Sy is deel van die probleem, want sy laat toe dat mense haar verniel - geen grense nie, jammer dat sy iets gedoen het, wil graag hê almal moet van haar hou.

Gedeeltelik is die oplossing haar eie uitdaging - doen jou werk, moenie ander se verantwoordelikhede neem nie, stel grense oor taal, gedrag, optrede en houding teenoor jou.  Maak duidelik wat jou pla en moenie in 'n hoekie gaan sit en huil nie - dit help nie.  Begin klein en pen jou gebied duidelik af soos jy aangaan.  Dit gaan nie maklik wees nie, maar niemand gaan dit namens jou doen nie.  Jy is verantwoordelik vir jouself.

En as dit nie werk nie - werk aan 'n exit-strategy, doelbewus, bepland, en gaan.  Skud hulle stof van jou voete af.  Geen plek of mens het die reg om jou siel te vernietig nie.  Dit gaan ten koste van iets wees, maar dalk wen jy meer as wat jy verloor.

Jou besluit.

Gaan luister gerus na die potgooi (of podcast) oor Toksiese Werksomgewings op RSG http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20200213_PRAAT_SAAM.mp3



Saturday 8 February 2020

Liefdadigheid by Ster Kinekor

Het gaan fliek vanaand. 1917. Uitstekende fliek, gaan kyk gerus.
Wat my opgeval het is dat jy R35 betaal vir 'n klein houer springmielies. Pop corn. R35. Diefstal. 
Maar dis niks. Dan is daar met elke kaartjie 'n versoek om R2.50 te skenk vir een of ander goedbedoelde saak. My geld. Net R2.50 bo-op 'n kaartjie, en dan moet ek nog R35 betaal vir 'n d#$%&se boks springmielies.

Hoekom krap dit my om?  Jy sien, SK vra my 'n normale prys vir die kaartjie, vra diefstal pryse vir versnapperinge, sit nog by vir 'n goeie saak - dan gee hulle die fondse bymekaargemaak aan ander, geen koste tot hulle nie. 

Wat van SK gee R2.50 vir elke R2.50 wat die fliekgangers gee? Maar ek weet  nie of hulle dit sal doen nie. 

Dis mos regverdig - gee jou eie geld vir liefdadigheid, nie ander s'n nie. Of hoe?
En dan, met die eerste en enigste pit wat ek byt, is daar 'n dop tussen my tande!