Sunday 26 May 2019

Coenie

Coenie de Villiers. Sanger. Klavierspeler. Musikant. Storieverteller. Leunnaar. Coenie het gisteraand in ons kerk opgetree - wat 'n "show".
Op note het hy ons vertel van Anna, sy ma, Solly en die Buick. Almal stories wat hy in die middel van die nag uitdink - sê hy - liegstories. Lekker sing stories.
Hy het gesing van vriende verby, die laaste maal, van die groot afgrond, die finale armdruk - tussen ons en die ewige. Vir 'n wyle was daar 'n geur van Leonard Cohen.
Hy het vertel van verlange as jy oorsee bly - en baie van ons het 'n oomblik gehuiwer. Wie word nie meer daardeur geraak nie. Die moderne eeu van bedreiging en winkende voorspoed, van trekarbeid en verspreiding.
Sy storie oor 'n optrede in Kanada het 'n senuwee geraak. Na die optrede kom 'n dame by hom aan. Bloedrooi oë. Emosioneel. Sy sê sy het "terrible" dinge van ons taal, Afrikaans, gehoor. Dat dit klink om soos met lemmetjies te gorrel - hoe weet jy elk geval hoe dit voel om met lemmetjies te gorrel, en dan nog leef om dit oor te vertel? Sy het egter die hele optrede met geslote oë gesit en alhoewel sy nie die taal verstaan nie, was sy nog nooit so meegevoer deur 'n taal soos Afrikaans nie. Geen lemmetjies nie. Geen gegorrel!
Dit is soos jy sê Coenie  - musiek is samebindend. Dit verdeel nie. Ook - musiek is 'n gawe van bo - net soos jy sing. Dit was uitstekend.
O ja, vir die wat nie weet nie, Land Rovers het lank gebruik gemaak van Buick enjins 😉
MooiLoop. Vrede. Afrikaans.