Friday 22 September 2017

Fotos is my Tonnel na Vryheid

Fotos is my tonnel na vryheid
Waar ek kan ontsnap van die gekkigheid van hierdie wêreld
Waar ek kan inklim en na die lig toe kruip, ‘n ander wêreld, waar ek en ander saakmaak
Verlustig ek my aan die skoonheid van die mens
Besit ek vir ‘n oomblik ‘n 6 pack
Is ek van ‘n cowboy tot ‘n vegvlieënier
Staan die ’63 Apache what ek nog altyd wou gehad het, in my oprit
Volg ek die vlug van my 1150 orals waar daar stofpaaie is
Dit gee my ‘n blik op die wêreld van berge en dale, strome, mere en damme - waar ek nooit sal kom nie
Vlieg my gedagtes na sonsondergange en sonopkomste wat nie oorvertel kan word nie
Sien ek die detail van ‘n vlieg se oog, die skerpte van ‘n skerpioen se angel, die vlug van ‘n arend
Beleef ek die wel en weë van mense wat ek nie ken nie en ook nooit sal ontmoet nie
Ervaar ek honger saam met die kind wat vir mieliepitte in die grond krap en die uitbundigheid van ‘n “food fight”
Ek huil saam met die verweerde gesig van ‘n boemelaar en verwonder my aan die perfekte vel van ‘n sproetbevlekte gesig

 Sien ek die uitputting op ‘n brandweerman se gesig en beleef ek die vrees van ‘n soldaat

Dit lig my siel as ek die grootheid van God se skepping sien en maak my wrewilrig as ek die vernielsug van  die mense ervaar – besoedeling, oorlog, brassery, vermakerigheid, eiewaan en grootheidswaan; alles in prentjies met raampies – ‘n snapshot van die lewe
My tonnel na vryheid lei my na elke enkele emosie, spreek elke droom en vrees aan, laat my onthou van gister en maak my bewus van nou, met ‘n verwagting van more
My fotos vertel my storie, en die van ander ook
En wanneer ek nie meer kan praat nie, of verhuis het, dan sal my fotos vertel – ek was daar
Ek was daar! 

En die feit dat daar geen punte aan die einde van my sinne is nie sê doodeenvoudig; daar kom nog

Friday 15 September 2017

'n Kultuur van Respek

Ek kry ‘n paar aande gelede ‘n video waar die aanbieder aangaan oor Japan, en hoe lekker dit in Japan is en hoe goed mense daar behandel word.  Ongeag hoe waar alles is wat hy gesê het, was daar iets treffends – sy opmerking was dat daar in Japan “’n Kultuur van Respek” is.

Dit het vasgesteek – en skielik maak baie dinge sin (of nie).  In ons land en in die oorgrote deel van die wêreld is daar ‘n kultuur van disrespek, ‘n kultuur van onverdraagsaamheid (intolerance).  Dink daaroor, en wat nou volg is verseker ‘n baie breë kwas, of vir die wat nog nie seker is wat ek bedoel nie – ek gaan nou verskriklik veralgemeen.  En dis hier waar “as die skoen jou pas” ter sprake kom.

Ouers respekteer nie gesag nie. Kinders respekteer nie ouers nie. Ouers respekteer nie onderwysers nie.  Daarom respekteer kinders nie onderwysers nie.  Ouers respekteer hulself nie, anders sou hulle waarskynlik ‘n groter poging ingesit het om hulle kinders met dissipline groot te maak en nie verwag dat onderwysers dit moet doen nie.  Ouers maak van afrigters ‘n grap en die kleinspan volg onmiddelik.

Die publiek respekteer nie die polisie nie, ook nie die regering nie, ook nie die kerk nie.  Nie een van die drie respekteer die publiek nie.  Taxis probeer oral indruk en ons probeer hulle oral uithou – respek, verdraagsaamheid?  Die wet (rule of the law) word nie gerespekteer nie, nie deur Jan Publiek of die mense wat aangestel is om dit af te dwing nie.  Die wat het, respekteer nie die wat nie het nie, en die wat nie het nie, respekteer nie die wat het nie.  Die wat vinniger as jy ry is onverskillig en die wat stadiger as jy ry is idiote.

Almal wil hê en min wil werk daarvoor.  Meeste mense wil kits-rykdom, kits-verhoudings, kits-sukses, hê.  Meeste wil eet wat hulle wil en drink soveel hulle kan, maar die bank mag nie leegloop nie en jou pens mag nie oor jou toekoms hang nie.  Almal wil graag spiertiere wees en bikini lyfies hê, terwyl hulle op die bank in die voorkamer sit of op die kroeg se stoep ‘n dop vat.  Ons lag vir oorgewig mense wat om ‘n baan stap – terwyl ons na ‘n TV program kyk; dink so daaroor, daai sukkelende person het jou sopas verbygesteek.  Die eer behoort aan hom/haar.

Baie min mense neem verantwoordelikheid vir hulself en hul aksies, dis altyd iemand anders se skuld OF hulle doen dit, nou kan ek ook.  My ouers kon nie.  Ek het arm grootgeword.  Ek kon nie gaan studeer nie.  Regtig?  Indien jy jouself respekteer sou jy ophou regverdiging soek, maar eerder soek vir nog ‘n geleentheid, nog ‘n leidraad, nog ‘n kans, nog ‘n plan – sonder ophou.

Daar is geen gevolge vir swak gedrag en/of misdadigheid nie.  Ons lewe met wat ons en die mense voor ons geskep het – wat is ons nalatenskap?.  Moet ons die doodstraf inbring – ek dink nie dit gaan help nie, want “it’s not the severity of the punishment that deters, it’s the certainty of punishment that deters” (haal ek nou een of ander Sherrif in die VSA aan).  Sien, daar is geen respek nie omdat daar geen gevolge is nie.  Daar is geen respek omdat die waardes wat ons najaag vals is – rykdom, roem, bekendheid, stuff.

Net om seker te maak, kultuur beteken “hoe ons goed doen”, of soos die kinders sal sê, “dis hoe ons rol”. 

Ons kinders praat soos ons praat, dink soos ons dink, maak soos ons maak.  Dink daaroor.  Daar is egter geen verskoning nie – sodra jy 16 verbysteek het jy oor as genoeg breinkapasiteit om te besluit wat reg en verkeerd is, wat pas jou en wat nie, hoe jy behandel wil word en hoe jy ander behandel.  Uiteindelik is daar geen verskoning vir ‘n kultuur van disrespek nie – dis gekweek. Om die teenoorgestelde te hê sal ‘n nuwe kultuur gekweek moet word.  Of soos die eeu oue beginsel dit stel – “wat jy saai sal jy maai.” 

Die belangrikste vraag is daarom – wat wil jy hê?  Om die vraag te vra is die maklike deel.  Moeiliker is om te weet wat jy wil hê.  Nog moeiliker is om die karakter te hê (to show character), jou hande uit jou sake te haal, jou bas van die stoel af te kry en met respek te begin lewe.  Orals.  Aktief. Elke dag.

Hoe lyk ‘n kultuur van respek?  Kyk vir iemand as hy met jou praat.  Luister as iemand met jou praat.  Antwoord die persoon – respekvol. Behandel die person soos jy behandel sal wil word.  Doen wat van jou verwag word, en meer indien nodig.  Lewer jou diens met ‘n glimlag.  Laat jou kliente goed voel.  Eer jou buurman.  Respekteer jou ouers.  Leer jou kinders respek en ‘n lus vir die lewe.  Ondersteun die onderwysers en daardie arme siele wat jou kinders leer om te skryf en te tel.  Stop by die stop straat en die rooi robot.  Maak plek vir die taxi.  Glimlag en groet – dalk maak jy iemand se dag wat erger as joune is.  Wees beleefd.  Hanteer vrouens soos dames (al verdien sommiges dit nie).  Kyk uit vir die klein outjies wat geboelie word.  Kyk uit vir die groot en sterk ouens en vrouens wat seer het, maar dit nie wys nie.  Jy hoef nie iemand se kop af te kap as hulle nie met jou saamstem nie.  Moenie met kos mors nie.  Moenie besoedel nie – jou kinders moet die water drink; wanneer jy nie meer hier is nie. 

Oorhoofs – wees teenwoordig (present), kyk op van jou foon af en lewe doelgerig (purpose).  Dit maak nie saak wat ander doen nie, om ‘n kultuur van respek oor 20 jaar te skep begin vandag met ‘n verandering in jou denke en gedrag.  Verander vandag. Iets kleins.  Maak ‘n verskil.  En vir die wat ‘n bietjie byt nodig het – onthou, daar is klontkoppe orals. 


Alles begin by jou.  Respekteer die lewe.  Respekteer jouself.  En as ons gelukkig is, sal ons dalk in ons leeftyd ‘n klein verskil kan begin sien.