Ek kry ‘n paar aande gelede ‘n
video waar die aanbieder aangaan oor Japan, en hoe lekker dit in Japan is en
hoe goed mense daar behandel word.
Ongeag hoe waar alles is wat hy gesê het, was daar iets treffends – sy opmerking
was dat daar in Japan “’n Kultuur van
Respek” is.
Dit het vasgesteek – en skielik
maak baie dinge sin (of nie). In ons
land en in die oorgrote deel van die wêreld is daar ‘n kultuur van disrespek,
‘n kultuur van onverdraagsaamheid (intolerance). Dink daaroor, en wat nou volg is verseker ‘n
baie breë kwas, of vir die wat nog nie seker is wat ek bedoel nie – ek gaan nou
verskriklik veralgemeen. En dis hier
waar “as die skoen jou pas” ter sprake kom.
Ouers respekteer nie gesag nie. Kinders
respekteer nie ouers nie. Ouers respekteer nie onderwysers nie. Daarom respekteer kinders nie onderwysers
nie. Ouers respekteer hulself nie,
anders sou hulle waarskynlik ‘n groter poging ingesit het om hulle kinders met
dissipline groot te maak en nie verwag dat onderwysers dit moet doen nie. Ouers maak van afrigters ‘n grap en die
kleinspan volg onmiddelik.
Die publiek respekteer nie die
polisie nie, ook nie die regering nie, ook nie die kerk nie. Nie een van die drie respekteer die publiek
nie. Taxis probeer oral indruk en ons
probeer hulle oral uithou – respek, verdraagsaamheid? Die wet (rule of the law) word nie gerespekteer
nie, nie deur Jan Publiek of die mense wat aangestel is om dit af te dwing
nie. Die wat het, respekteer nie die wat
nie het nie, en die wat nie het nie, respekteer nie die wat het nie. Die wat vinniger as jy ry is onverskillig en
die wat stadiger as jy ry is idiote.
Almal wil hê en min wil werk
daarvoor. Meeste mense wil kits-rykdom,
kits-verhoudings, kits-sukses, hê.
Meeste wil eet wat hulle wil en drink soveel hulle kan, maar die bank
mag nie leegloop nie en jou pens mag nie oor jou toekoms hang nie. Almal wil graag spiertiere wees en bikini
lyfies hê, terwyl hulle op die bank in die voorkamer sit of op die kroeg se
stoep ‘n dop vat. Ons lag vir oorgewig
mense wat om ‘n baan stap – terwyl ons na ‘n TV program kyk; dink so daaroor,
daai sukkelende person het jou sopas verbygesteek. Die eer behoort aan hom/haar.
Baie min mense neem
verantwoordelikheid vir hulself en hul aksies, dis altyd iemand anders se skuld
OF hulle doen dit, nou kan ek ook. My
ouers kon nie. Ek het arm
grootgeword. Ek kon nie gaan studeer
nie. Regtig? Indien jy jouself respekteer sou jy ophou regverdiging
soek, maar eerder soek vir nog ‘n geleentheid, nog ‘n leidraad, nog ‘n kans,
nog ‘n plan – sonder ophou.
Daar is geen gevolge vir swak
gedrag en/of misdadigheid nie. Ons lewe met
wat ons en die mense voor ons geskep het – wat is ons nalatenskap?. Moet ons die doodstraf inbring – ek dink nie
dit gaan help nie, want “it’s not the severity of the punishment that deters,
it’s the certainty of punishment that deters” (haal ek nou een of ander Sherrif
in die VSA aan). Sien, daar is geen respek
nie omdat daar geen gevolge is nie. Daar
is geen respek omdat die waardes wat ons najaag vals is – rykdom, roem,
bekendheid, stuff.
Net om seker te maak, kultuur
beteken “hoe ons goed doen”, of soos die kinders sal sê, “dis hoe ons
rol”.
Ons kinders praat soos ons praat,
dink soos ons dink, maak soos ons maak.
Dink daaroor. Daar is egter geen
verskoning nie – sodra jy 16 verbysteek het jy oor as genoeg breinkapasiteit om
te besluit wat reg en verkeerd is, wat pas jou en wat nie, hoe jy behandel wil
word en hoe jy ander behandel.
Uiteindelik is daar geen verskoning vir ‘n kultuur van disrespek nie –
dis gekweek. Om die teenoorgestelde te hê sal ‘n nuwe kultuur gekweek moet
word. Of soos die eeu oue beginsel dit
stel – “wat jy saai sal jy maai.”
Die belangrikste vraag is daarom
– wat wil jy hê? Om die vraag te vra is
die maklike deel. Moeiliker is om te
weet wat jy wil hê. Nog moeiliker is om
die karakter te hê (to show character), jou hande uit jou sake te haal, jou bas
van die stoel af te kry en met respek te begin lewe. Orals.
Aktief. Elke dag.
Hoe lyk ‘n kultuur van respek? Kyk vir iemand as hy met jou praat. Luister as iemand met jou praat. Antwoord die persoon – respekvol. Behandel
die person soos jy behandel sal wil word.
Doen wat van jou verwag word, en meer indien nodig. Lewer jou diens met ‘n glimlag. Laat jou kliente goed voel. Eer jou buurman. Respekteer jou ouers. Leer jou kinders respek en ‘n lus vir die
lewe. Ondersteun die onderwysers en
daardie arme siele wat jou kinders leer om te skryf en te tel. Stop by die stop straat en die rooi
robot. Maak plek vir die taxi. Glimlag en groet – dalk maak jy iemand se dag
wat erger as joune is. Wees
beleefd. Hanteer vrouens soos dames (al
verdien sommiges dit nie). Kyk uit vir
die klein outjies wat geboelie word. Kyk
uit vir die groot en sterk ouens en vrouens wat seer het, maar dit nie wys
nie. Jy hoef nie iemand se kop af te kap
as hulle nie met jou saamstem nie.
Moenie met kos mors nie. Moenie
besoedel nie – jou kinders moet die water drink; wanneer jy nie meer hier is
nie.
Oorhoofs – wees teenwoordig
(present), kyk op van jou foon af en lewe doelgerig (purpose). Dit maak nie saak wat ander doen nie, om ‘n
kultuur van respek oor 20 jaar te skep begin vandag met ‘n verandering in jou denke
en gedrag. Verander vandag. Iets kleins.
Maak ‘n verskil. En vir die wat ‘n bietjie byt nodig het –
onthou, daar is klontkoppe orals.
Alles begin by jou. Respekteer die lewe. Respekteer jouself. En as ons gelukkig is, sal ons dalk in
ons leeftyd ‘n klein verskil kan begin sien.
No comments:
Post a Comment