Tuesday 22 January 2019

Week van Gebed

Dis vroeg Januarie en ons begin die jaar op ons knieë.
Ons hou 'n gebedsweek en Ds Martin gesels met ons oor die gesindheid en nodigheid van gebed.
Ons moet nie soos die Fariseers bid nie - op die straathoeke en met 'n groot omhaal van woorde.  Maar dis hoe hulle dit gedoen het, want dis hoe hulle geleer is - jy moet beindruk, mens en God.  Ek wonder - wat is dit wat ons vandag doen met die insig wat ons het - wat oor 'n jaar of 100 oor gefrons sal word.
Dis soos die Afrikaanse boer vir die Engelse meisie sê - jy is mooi, maar jy is Engels, dis moeilik!
Ons moet eerder soos die tollenaar bid - sonder opkyk, met die hand op die hart, vergewe my sondaar - asseblief.  Rou, eenvoud, sonder baie woorde. Sê wat jy bedoel.  Maar self dit is moeilik.  Gelukkig vul die Heilige Gees in waar ons tekort skiet - ek dink in my geval word alles ingevul wat tussen "Liefdevolle God" en "Amen" kom.
Ek bekyk ons kerk - daar is baie ruimtes. 'n Ruimte waar die dominee kan opdraf en sy ding doen, 'n ruimte waar daar gebid en kerse opgesteek kan word, 'n ruimte waar die voorsangers staan ..... en daar is 'n ruimte in my seerkry hart wat volgemaak wil word.
Ek sien - om geen verklaarbare rede - die boeresaal in Blumfelde, net anderkant Derm, in Namibia - waar die boeregemeenskap gereeld bymekaargekom het vir preke, biddienste en vergaderings; politiek, oorlog, droogte en boerdery vergaderings. 'n Sink skuur om die minste daarvan te sê, waarvan die kante soos vlerke opgelig kan word. Heeltemal horisontaal sodat daar 'n briesie kan deurkom om die versengende Desember hitte beveg. Met twee puttoilette, ook van sink, langs mekaar op die rivierwal - om te verseker dat daar verligting kan wees as die natuur roep.  En hy roep. Almal.
Ek wonder hoeveel gebede is daar al gebid. Terwyl die sweet van die bidders afdrup - dalk omdat dit warm is, dalk omdat die moeilikheid groot is.  Soos Jesus se sweet wat in bloed verander het.
Ek wonder hoeveel van daardie gebede is verhoor? Hoe vurig die omies kon bid - met 'n groot omhaal van woorde, asof hulle vergeet het dat God weet, asof hulle vergeet het om Amen te sê.
Ek buig my hoof en ek word stil, ek wonder of God hoor - soms twyfel ek, dis moeilik!
Dis gebedsweek - ons begin die jaar op ons knieë! In afhanklikheid.



Sunday 20 January 2019

Oom Johan, die Voorman en die Bybel

Oom Johan stap al verby 80, 84 om presies te wees - maar nog steeds regop en fors, met sy hare perfek gekam en voorarms waarvoor Popeye skrikkerig sou wees.
Hy was nog altyd 'n man wat sy geloof en die Bybel baie ernstig opgeneem het, en daarom is dit nie snaaks dat die gou deel van enige gesprek raak wanneer hy in die omtrek is nie.
Soos dit maar met almal gaan, haal die jare ons in, en kort voor lank moet ons uit die groot woonhuis met die groentetuin trek, na 'n meer geskikte huis met minder uitdagings. So bly oom Johan deesdae oos van Windhoek in 'n estate, met sy rug teen die lyndraad, en op 'n goeie dag kan hy die stad sien.  Die wind waai altyd daar. Soms staan die wild van buite en kyk na die mense en hulle dinge in die binnekant van die draad - wat hulle moet veilig hou.
In estates is daar altyd 'n gekap en 'n gebou, en hier is dit niks anders nie. En waar daar gebou word is daar voormanne en arbeiders - baie voormanne is Basters en baie arbeiders is Ovambos. In die sweet van jou aangesig sal jy 'n ander man se huis bou.
Dis ook nie lank nie of daar is 'n paar arbeiders wat oom Johan raakloop en gou loop die woord dat jy 'n Bybel by oom Johan kan kry.
Man met inbors wat hy is, aanvaar hy geen besoeke buite etenstyd nie, en moet die manne eers werk voor hulle by oom Johan 'n draai kan maak. Saam met die Bybel gaan daar dan ook gesprek oor die Woord.
Weerbarstig vra 'n voorman toe mos  vir oom Johan "wat maak jy", want die manne moet werk. Dis toe dat oom Johan met 'n ystere kalmte vir die voorman aandui dat die etenstyd is - en met 'n vraag opvolg ..... "het jy 'n Bybel?"
"Ja, ek het" is die antwoord!
"Nou lees hom dan" volg die aanbeveling soomloos.
Einde van gesprek.