Oom Johan stap al verby 80, 84 om presies te wees - maar nog steeds regop en fors, met sy hare perfek gekam en voorarms waarvoor Popeye skrikkerig sou wees.
Hy was nog altyd 'n man wat sy geloof en die Bybel baie ernstig opgeneem het, en daarom is dit nie snaaks dat die gou deel van enige gesprek raak wanneer hy in die omtrek is nie.
Soos dit maar met almal gaan, haal die jare ons in, en kort voor lank moet ons uit die groot woonhuis met die groentetuin trek, na 'n meer geskikte huis met minder uitdagings. So bly oom Johan deesdae oos van Windhoek in 'n estate, met sy rug teen die lyndraad, en op 'n goeie dag kan hy die stad sien. Die wind waai altyd daar. Soms staan die wild van buite en kyk na die mense en hulle dinge in die binnekant van die draad - wat hulle moet veilig hou.
In estates is daar altyd 'n gekap en 'n gebou, en hier is dit niks anders nie. En waar daar gebou word is daar voormanne en arbeiders - baie voormanne is Basters en baie arbeiders is Ovambos. In die sweet van jou aangesig sal jy 'n ander man se huis bou.
Dis ook nie lank nie of daar is 'n paar arbeiders wat oom Johan raakloop en gou loop die woord dat jy 'n Bybel by oom Johan kan kry.
Man met inbors wat hy is, aanvaar hy geen besoeke buite etenstyd nie, en moet die manne eers werk voor hulle by oom Johan 'n draai kan maak. Saam met die Bybel gaan daar dan ook gesprek oor die Woord.
Weerbarstig vra 'n voorman toe mos vir oom Johan "wat maak jy", want die manne moet werk. Dis toe dat oom Johan met 'n ystere kalmte vir die voorman aandui dat die etenstyd is - en met 'n vraag opvolg ..... "het jy 'n Bybel?"
"Ja, ek het" is die antwoord!
"Nou lees hom dan" volg die aanbeveling soomloos.
Einde van gesprek.
No comments:
Post a Comment