Monday 23 January 2017

So, wat staan ons almal te doen?

Koerante en TV nuus is “depressing”.

Die probleem is dat as jy nie koerant lees nie, is jy oningelig.  Indien jy wel koerante lees, is jy verkeerd ingelig (of misinformed).

Ek begin survival programme kyk sodat ek kan leer hoe om in die sneeu te oorleef, of weet wat om te doen as ek by ‘n vulkaan beland, of om te oorleef as een-of-ander duistere rede op ‘n klein boodjie op die oseaan dobber, of hoe om nie by ‘n uitstalling of straatmark geskiet te word nie.  Absurd.

My grootste uitdaging is om nie, soos ons vrinne van oorkant die oseaan wat houtskoene dra sou sê, ‘n gemoedsbekakking te kry nie!  Dis asof daar ‘n swart stroom media is wat jou wil insluk en vertel hoe sleg dit gaan en hoe gevaarlik dit is en net wys wat hulle wil hê jy moet sien.  Genade.

Dan is daar die stortkop brigade (maw politici).  Van gewone stortkoppe tot goue stortkoppe.  En hulle vertel graag vir ons hoe hulle dinge gaan regruk.  Sien, niemand doen niks verniet nie, veral nie ‘n beroepspolitikus nie.  Jy sien, dis juis hierdie sogenaamde leiers wat ons in hierdie gemors ingekry het – wat gaan hulle nou anders doen.  Daar is wel ‘n paar wat probeer.

Die oplossing is dat ons verantwoordelikheid moet aanvaar vir onsself en ons heil.  Dis egter moeilik, want dan is daar niemand om te blameer nie.  Indien ons doen wat gedoen moet word SAL dinge uitwerk.  Punt.  Wat ons moet doen is egter maklik om oor te praat en moeilik om te doen. 

Wat dink ek is die oplossing?  Die oplossing lê by die verandering van ons harte!
Hou om Vadersnaam op kla,
Staan vroeg op,
Werk hard,
Wees tevrede met wat jy het – daar is ‘n verskil tussen “wants and needs”,
Wees geduldig – Rome is regtig nie in een dag gebou nie,
Werk mooi met jou geld – as kontant koning is, is kontantvloei die koningin (maw die baas)
“Be nice” met almal, insluitende jouself,
Smile, maak net seker jou gesig weet dit,
Al gaan dit hoe moeilik, tel jou “blessings”, daar is baie,
Groet mense wat by jou verby loop, al dink hulle jy is gek – dalk is jy die sonstraal wat hulle nodig het,
Gee jou man of vrou ‘n soen. Druk hom of haar so ‘n klein bietjie langer, totdat jy voel dit kom van binne af,
Kyk jou seun in sy oë en erken hom as ‘n man – en gee hom ‘n druk,
Sit by jou dogter en luister na haar – sien die vrou wat sy word. Hou haar vas; dis jou kind.
Let op die eerste woorde wat jy sê wanneer jy mense sien – en die laaste woorde voordat jy wegstap / of wanneer jy jou kop op die kussing neerlê.  Wat is jou boodskap?  Dink jy mense sal uitsien om weer met jou te gesels?
Aanvaar dat ander nie soos jy is nie; omarm die verskille – dalk maak dit jou ‘n beter mens!?
Vergewe jouself en ander – dis makliker as om met al daai laste en wroegings rond te loop.

Ek, jy, ons, die gesin, die stad, die provinsie, ons land en die wêreld is nie afhanklik van leiers en politiek nie.  Alles begin by jou en my – ons maak die verskil.


Ongelukkig is daar net een van twee keuses – (1) maak ‘n verskil of (2) vrot in jou donker gat.  Daar is niks tussenin nie – jou keuse!  Daar is baie van ons wat ‘n verskil wil maak.