Thursday 23 August 2018

Die Dood van 'n Bedelaar

Ek hoor gister hy is dood
Die bedelaar - die bedelaar by die Garsfontein afrit
Verlede week
Hy het in die pad gesit, kop gebuig
Geen oogkontak, vuil, met sy kombers
In die pad - ook wanneer dit donker was
Moeilik om te sien - dit was seker 'n kwessie van tyd
Al wat oor is, is 'n bietjie bloed op die teer
Sy kombers en bottel is nog daar, 'n week later
Photo credit Google

Ek wonder wie mis hom?
Is daar dalk iemand wat wag?
Weet die owerhede wie op die staalblad le - het hy 'n naam?
Of ... gaan hy wat onbekend gelewe het, ook onbekend begrawe word?

Ek wonder of hy, net soos my kinders, ook drome gehad het?
Gewonder het oor 'n betekenisvolle lewe, net soos ek?
Woedend geword het oor die onregverdige lewe, net soos ons?
Shame - hoor ek
arme man - seg iemand anders

Die bedelaar is dood
'n Ander het sy plek gevat
Op sy kniee, met 'n vuil kombers
Hy kyk ook nie op nie!