Sunday 2 December 2018

Kersfees kom!

Dis Sondag. Oggend. Dis reeds vrek warm.
Dis ons jaarlikse Kerssangdiens.
Die weerlig het ons krag uitgeslaan - dit gee 'n nuwe betekenis aan kers sangdiens.
Die musiekbediening is buitengewoon, soos gewoonlik.

Ons sing lekker - maar my hart bloei
Kersfees kom ..... vir wie?  In die straat kruip 'n sonverbrande man weg agter 'n bord wat lees ... 'ek weet ek is net 'n stuk gemors ....' - ek lees nie verder nie want dis tyd om te ry.
Gee aan God die eer .... regtig? Doen ons dit?
Gee aan ons 'n helder somer Kersfees, O heer .... ek huil - die beelde van droogte en verhongerde, dors diere; hongersnood maal in my kop.
Die kindjie bring vir ons 'n boodskap van vrede ..... ere aan God en vrede op aarde .... en ons leiers predik die teenoorgestelde - land or death, kill the boer, disappropriation, Sasol en Discovery verdeel die land met aandele as jy die regte kleur is. Ons sing vrede maar pleeg misleiding en verdeling - want die doel heilig mos die middele.
O God ons verlange .... regtig? Is ons land verteenwoordigend van hoe 'n Christelike volk leef?
Stille nag, heilige nag .... en iewers is daar boere wat nog 'n nag vrees, iemand wat te bang is om in die donker te loop, rampokkers en hooggeplaasdes wat geweld en bedrog beplan.
Ek huil in my binneste - maar met 'n glimlag op my gesig stap ek gemeente tee toe.  Daar is koek.
My seun is oppad huistoe - God reis saam met hom, dankie.
Ons gaan aan.