Thursday 14 May 2015

VROT EN OMGEKOOP!?



Daar gaan byna nie ‘n dag verby wat korrupsie en omkopery nie deel van die media of gesprekke is nie.  In sekere gevalle is ons briesend daaroor (soos vir die wat miljoene maak deur tenderpreneurs te wees) en soms giggel ons daaroor (soos wanneer ons vir die verkeersman ‘n paar note “glip”).
Sonder om moralisties te wees het ek ‘n besondere geirriteerdheid wanneer mense geld wil hê vir iets wat hulle elk geval moet doen, om my deur die grenspos te laat, my krag of telefoon gou aan te skakel, of om ‘n afspraak by ‘n belangrike person te bekom.  Daardie misbruik van mag wat jou dwing of om te swig en die geldjie te oorhandig, of om te “suffer in silence”.  Waar omkopery en korrupsie die norm in ons samelewing word, raak dit belangrik om daaroor te besin – sodat jy kan weet wat om te doen wanneer hierdie monster aan jou deur klop.

Die vraag is, hoe bepaal jy of omkopery reg of verkeerd is?  Ek is van mening dat jy hierdie teen jou waarde sisteem of morele kompas moet toets.  Myne is Christenskap. 
Die volgende vraag is dan; wat sê die Woord oor omkopery?  Hier is ‘n paar voorbeelde:

  • Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate ‘n groot som geld gegee en gesê: "Julle moet sê:... (Mat 28:12-13)
  • Hy (Feliks) het die hele tyd ook gehoop Paulus sou hom omkoopgeld aanbied om los te kom. (Hand 24:26) 
  • Jou vorste is in opstand teen My, hulle is kop in een mus met diewe. Hulle is almal versot op korrupsie en is agter omkoopgeskenke aan. (Jes 1:23)
  • Vir wie dit gee, het omkoopgeskenke towerkrag; vir hom moet dit sukses verseker waar hy ook gaan. (Spr 17:8)
  • Wie hom verryk ten koste van 'n ander, maak dat sy gesin verstoot word; wie omkoopgeskenke weier, sal lewe. (Spr 15:27)
  • 'n Omkoopgeskenk vernietig die goeie oordeel. (Pred 7:7(b))
  •  Die Here jou God, …..(neem) ook nie omkoopgeld aan nie. (Deut 10:17)
  • Wanneer jy regspreek, mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want dit maak dié wat van beter moet weet, blind en laat die saak van die onskuldige skeef loop. (Deut 16:19)

Om korrup te leef en jou aan omkopery skuldig te maak doen jy (1) God oneer aan - want ons is na sy beeld gemaak en Hy aanvaar nie omkoopgeld nie, (2) dit korrupteer jou medemens, (3) jy korrupteer jouself en ondermyn jou eie gewete – terwyl dit belangrik is dat ons met ‘n goeie gewete sal lewe (1 Pet 3:16) en (4) jy verrot die samelewing en die omgewing verder.
Dink so daaroor – die eens magtige Romeinse Ryk met sy uitstekende administratiewe stelsel en ‘n regsstelsel wat vandag nog gebruik word, het deels as gevolg van korrupsie uiteindelik ondergegaan.  Gaan dit by ons anders wees?
Die moeilike vraag is nou – wat staan ons te doen?  Ons kan stof uit hierdie vraag uit redeneer, maar hier is ‘n paar gedagtes:

  • Lees weer die teksverse hierbo en doen vandag jou werk met die wete dat die Bybel ons leer dat God van ons verwag om eerlik te lewe en besigheid te doen.
  • Paulus het eerder in die tronk gebly as om omkoopgeld te betaal.
  • Ek het nie ‘n keuse nie: regtig?

Waar begin ons om hierdie verskynsel en verrottende probleem aan te spreek – elkeen by onsself.  Moenie omkoop nie, leef eerlik, doen etiese besigheid, al is dit hoe moeilik.  Dis wat van ons verwag word.
OF pas ons ons waardes aan en val in by die groterwordende groep wat sê “dis hoe dit is”?