Thursday 23 July 2020

'n COVID Psalm

As ek 'n Psalm sou skryf.
Soos Dawid.
Sou my Psalm ook 'n nommer kry - en in die Groot Boek opgeneem word?
Sou my Psalm borrel van vreugde en lesers opbeur?
Of sou my Psalm hartseer wees? Vir God en mens vertel van my seer, van my eie moegheid, van my afgestompte opgekropte gevoelens, my behoeftes - van my vrese?
Sou die woorde van my Psalm die seer in mense se oë kon beskryf, eens trotse mense nou platgeslaan?
Wat van my woede wanneer mense (met werk) kla - terwyl daar genoeg is. 
Sou my Psalm iets kon sê oor selfgeregtigde mense, entitled mislike mense - wat ander  niks gun nie? Mense wat soos witgepleisterde grafte die Christelike waardes van liefde, versorging, gasvryheid, mededeelsaamheid verlê het. Kerk mense.
Sal my pen die prentjie kan skilder van die jong man wat werk soek by my hek, die help asseblief op plakkate, die CVs op facebook. Sou ek kon raakskryf van die straatverkoper, die besemverkoper - die man by my hek wat vir hulp vra, hy het sy werk verloor. Hy bly net straatop. In ons middelklasbuurt.
Sou ek ook soos Dawid op God kom skree - hoe lank nog. 
Here. Hoor U my dan nie. Ons nie. Waarom antwoord U ons nie - of hoor ons maar net nie?
Waar is die wysheid waarvoor ons bid, wat ons soek, Here, in hierdie moeilike en deurmekaar tyd. Wysheid, soos Salomo s'n. En kalmte.
Hoeveel keer sal ek "hoekom" sê? Vra?
As ek 'n Psalm kon skryf, sou ek God daar vind?
Sou dit begin as 'n klaaglied en eindig in 'n jubellied?
As ek 'n Psalm sou skryf, sou God ook daar wees?
'n Psalm.