Friday 12 May 2017

Laat ek my kinders toe om hulle eie foute te maak?

Laat jy jou kinders toe om hulle eie foute te maak? vra 'n pa my.
Nee antwoord ek.
Hoe so?
Na 'n paar sekondes antwoord ek.
Ek laat my kinders toe om hulle eie besluite te neem.
My rol as ouer is nie om hulle te keer om foute te maak nie, maar om eerder hulle te leer HOE om besluite te maak. Om hulle te leer wat om te oorweeg en hoe om te evalueer en op te weeg.
My plig is om hulle te adviseer met alles wat ek in my het, en dan om hulle toe te laat om te besluit.
Dis nou hulle "speeltyd".
En dan, as die besluit goeie vrugte afwerp - vier ek fees saam met hulle en help ek evalueer hoekom dit die "regte" besluit was.
As die besluit nie so vars was nie - dan is ek daar om te steun, die stukke te help optel en hulle te help om die volgende besluit te neem. Om hulle te help om aanspreeklikheid te aanvaar vir hulle besluite, hulle gedrag, hulle aksies en die gevolge daarvan.
My rol is nie om hulle toe te laat om hulle eie foute te maak nie, eerder is dit my rol hulle te help om weldeerdagte besluite te maak. Belangriker is om hulle te leer om aanspreeklikheid te aanvaar vir goeie en slegte gevolge.
Dis die moeilike deel, om terug te staan en te kyk hoe hulle "speel".