Sunday 26 November 2023

Blumfelde en die Kerssangdiens

 Verlede –

Blumfelde.  Namibia. 1970’s.  Kerssangdienste was iets anders – veral as jy terugkyk.

Ons het daar naby geboer, met Karakul skape, en bokke.  My pa het in die koor gesing, iets wat hy kon doen.  Musiekmaak was hy goed mee.

Desember in die Kalahari is nie ‘n grap nie, veral nie in die sinkgebou op Blumfelde waar die Kerssangdiens elke jaar gehou was nie.  Die sinkgebou waarvan die hele kante op en oopgeslaan het – om lug deur te laat. Asof dit sou gehelp het.

Almal was daar, netjies aangetrek – ek vermoed die mans het pakke aangehad, en ek kan nie onthou of die tannies hoede gedra het nie.  Al wat ek kan onthou is dat ons moes stil sit, en dat dit warm was.  Dat niemand omgeval het van hitte-uitputting nie, gaan my verstand te bowe.  Op almal se voorkoppe kon jy sweetdruppels sien, wat blink paadjies maak het teen die slape en agter in die nek af, net om tussen die kraag en die nek te verdwyn. Warm. Taai.  Maar jy het nie geroer nie.

Onder die bome het Ford en Chev bakkies gestaan, uit die son uit – want die son sal jou voorruit laat kraak.  So entjie van die sinkgebou af was twee put toilette, langs mekaar, gereed om enigiemand in sy (uiterste) nood by te staan - snakkend na jou asem.  Hulle was meeste van die tyd in die skaduwee, net bo waar die sand begin afsak het na die rivier toe – die Olifantsrivier, wat altyd droog was.  Sonder Olifante.

Dan was daar tafels met vliegnette op.  Wittes, netjies omgeborduur – om die vlieë weg te hou.  Onder die nette was daar drinkgoed en eetgoed, flesse met koffie en hertzoggies en broodjies.  Dit is heel moontlik waar ek met Marmite en fyn biltong deurmekaar geraak het – op ‘n broodjie met botter wat geblink het van die son.

Iewers daar naby was daar altyd Poue wat “help” geroep het - terwyl almal gesing, gebid, sweet afgevee en gesels het - gesels oor die weer en weiding en familie.  Die bakkies het vuurplakke opgehad, en water – net vir ingeval.  Dit was warm en die veld droog, en amper Kersfees.  En net sodra dit draaglik begin raak het, is die saal se sink kante laat sak, geslot, en dan is almal in die bakkies, huis toe.

Hede –

Ek wonder of die saal op Blumfelde nog bestaan?  Dalk het dit ‘n stoor geword, vervang deur ‘n baksteengebou, met ‘n groot lugversorger – want ”niemand kan dit in hierdie hitte hou nie”.  Opgerig met skenkings van die boere.

Ek wonder of daar nog bakkies onder die bome staan, Hilux’e en Cruisers dalk, met ‘n Isuzu hier en daar – en dalk ‘n Land Rover, net om my gelukkig te hou.  Die nuwe gebou het dalk nou ‘n kombuis met ‘n yskas, sodat botterbroodjies nie meer blink nie.  Ek dink nie die put toilette sal nog diens doen nie – en is daar nog Poue wat “help” skree?


Ek kan nie regtig geskenke onthou nie – geskenke was daar wel, maar nie in oormaat nie.  Ek onthou egter my Chopper fiets, 1973, perserige kleur, met 'n "shifter". 



Vandag –

Gistermiddag was hier ‘n vrou wat stikwerk verkoop – plekmatjies en strykplankoortreksels, netjies gewerk en plat gestryk.  Hoeveel daarvan kan jy koop.  Vanoggend is hier ‘n man met besems by die hek – ek gaar al op.  Drie dae terug was Johannes hier – hy maak bymekaar vir ‘n kinderhuis, iewers.  By elke kruising staan iemand met ‘n bordjie – “God Bless”.  Die petroljoggies begin al glimlag as ek by die vulstasie inry – hulle weet Kersfees beteken worsbroodjies, ‘n tradisie wat ons lank gelede begin het.  

Ek wonder of kinders nog gewone trapfietse kry vir Kersfees, of moet dit nou ‘n “full suspension” hê?  Of dalk met ‘n battery – om te help met die trap?  Ek weet nie.

Black Friday is nog aan die gang, en dis nou ‘n week lank.  Almal soek goeters en dinge.

Almal pleit Kersfees.  En hou sang dienste.  Ons kerk is nie meer vol nie.

Dalk moet ons net vra vir vrede en reën – dis eintlik al wat ons nodig het. En Liefde! Vir ons en ons naaste – baie daarvan. En werk, ja, en werk ook.  

Dan sal “skenk ons ‘n helder somer Kersfees” dalk sin maak – selfs in Blumfelde se sinkgebou.

Of hoe?

MooiLoop!