Wednesday 15 February 2017

Valentyndag Nabetragting – Die dag voor en na.

Dis Woensdag middagete, en ek peins oor Valentynsdag.  Kom ons begin by Maandag.
Ek het "gehoor" moeksie soek 'n spesifieke kombuis implement; sy maak kos vir 'n lewe. Lekker kos, gevries of vars op die tafel, persoonlik of besigheid.
Sy werk hard en ek hoor.
Maandag het ek verjaar.  Ek kry baie gelukwensinge van vroegoggend af; nie gedink so baie mense gee om nie.  Sommige bel en ander stuur 'n boodskap. Almal is kosbaar.
Ek besluit om vir moeksie daardie implement te gaan koop - sommer vir Valentynsdag ook.  Sal 'n paar blomme bysit vir kleur.  Sy behoort aangenaam verras te wees.
Oppad winkel toe ry ek by verskeie mense verby - baie met 'n bord en 'n boodskap.  Sommige kruip weg agter die bode, kan jou nie in die oë kyk nie.  Ander kruip nie meer weg nie; dit maak nie meer saak nie.  Ander, lyk dit vir my, weet daar is mense met klein harte.  Hulle is oral, elke robot word beset deur swaarkry mense en opportunistiese verkoopsmense.  Toe ene agterkom ek wil niks koop nie, is die nonchalante opmerking "hoe lyk dit met 'n 20, ek het nog nie geeët nie".  Die robot red my.
Ek koop die implement, ek is opgewonde, kry een van moeksie se vriendinne in die winkel, sy reken "goeie keuse".  Wat weet ek, al wat ek wil hê is dat moeksie moet happy wees.
Ek is dankbaar ek hoef nie by 'n robot te staan nie.
Dis middag; ek spandeer 'n uur of wat saam met moeksie, ons kyk vir Bobby op die PVR.  Hy besoek 'n polisieman van Ceres wat in sy eie tyd en koste 'n hengse verskil maak in die omgewing.  Hy werk veral met kinders en slaap 3-4 ure per nag.  Vrywillig.  Al wat hy wil hê is 'n vliegkaartjie vir sy vrou se 50ste om oorsee te gaan.  Sy was nog nie daar nie.
Maar ek is gepla. 
Die polisieman sê as elke polisieman 10 ure, elke maand, ekstra tyd werk, sonder vergoeding - dan is daar 200 000 x 10 ure per maand waarmee 'n moerse verskil gemaak kan word.  2 Miljoen man ure, ekstra.
Terwyl ek skryf kry ek nog 'n oproep of twee - ek word vir 'n ontbyt genooi.  Dit voel goed.
Ek kry 'n oproep van Koos - hy laat my dink; wat maak ek met al hierdie coaching skills van my?
Ek dink ek verstaan skielik iets van die gepla in my binneste - wat gee ek verniet vir mense wat nie het nie omdat ek wil gee sodat hulle 'n beter kans het?
My Staffie kom verduidelik vir my dis etenstyd - ek gehoorsaam.
Valentynsdag – moeksie gaan stap vroeg en ek gaan ry op ‘n fiets wat nêrens heen gaan nie.  Sy kry die blomme en die kombuisimplement.  Sy is happy.  Dis goed so.  Ons gaan drink koffie later die aand – ‘n magdom mense sit orals, sommiges duidelik verlief, ander gaan deur die motions. 
Woensdag – die rooi hartjie sjokolades van Woolies is 50% goedkoper.  Jy kan weer bekostig om blomme te koop.  Alles is terug na normaal toe, of nie.  Bemarking van liefde was weereens suksesvol.  Hier en daar is ‘n paar glimlaggende gesigte, daar is egter meer ontnugterdes, hulle verwagtinge het nie gerealiseer nie.  Waaroor gaan hierdie commotion nou weer?  Mense se gesigte en wat hulle nie sê nie vertel die waarheid.
Ek wonder weer - sal dit nie beter wees as ons die moeite wat ons insit vir Valentynsdag deurlopend maak nie?  In plaas van een keer per jaar, hoekom maak ons nie eerder tyd een keer per dag om toegewyd met mekaar te gesels nie, hoekom drink ons nie eerder een keer ‘n week koffie nie, hoekom maak ons nie moeite om elke dag in liefde met mekaar om te gaan nie?  Of is dit makliker om voor die TV te sit, jou stokperdjie te bedryf, saam met pelle te kuier, jou ding te doen.  Asof Valentynsdag in een dag gaan regmaak wat in ‘n hele jaar geen aandag gekry het nie.  ‘n Vuur wat toegelaat is om dood te gaan steek moeiliker aan as ene waarvan die kole aan die smeul gehou word.  Jy kan nie ‘n maraton hardloop as jy nie weekliks tyd op die pad spandeer nie.
Ek dink aan my geliefde stelling – “die klontkop waarmee jy gaan oud word is die ene wat langs jou slaap”.  (OK, dis die “nice” weergawe.) Hoe lyk jou oudword plan, prentjie?
More is Donderdag en teen Vrydag behoort baie van die gemoedere oor Valentynsdag mislukkings (fails) te normaliseer.  Wat het verander?
Kom ons maak eerder soos daardie polisieman en deel jou liefde mildelik uit, daagliks, aan die naby jou en ver van jou.  Dan maak liefde die wêreld weer rond.  En dan vier ons volgende jaar se Valentynsdag die vordering wat ons gemaak het, ons maak dit ‘n dag van oorwinning en verwondering – eerder as ‘n dag van verwagtinge.
Kom ons kyk wat ons kan doen, 1 uur op 'n slag, vir die mense rondom ons.
Kom ons toets mekaar volgende jaar hierdie tyd.
Manne, onthou om julle vrouens lief te hê.  Vroue, doen moeite met die ou knorpot van jou.
En nou?  Ek voel beter, daar is mense wat lief is vir my, ek dink ek het 'n plan.  Ek is dankbaar ek hoef nie by ‘n robot te staan nie.  Ek is dankbaar ek kan elke middag huistoe gaan, na my vrou toe wat vir my lief is.  En my dogter.  Ek is dankbaar ek kon my vrou al oorsee laat kuier.

MooiLoop