Sunday 23 June 2019

Stay Alive and Come Back to Me

"Stay alive and come back to me!"
Dis die uitroep van die jong dame aan Tolkien net voor hy op die boot klim om teen die Duitsers te gaan veg.  Wêreld oorlog. Duisende sterf daagliks.
"Stay alive and come back to me" is ook derduisende kere deur moeders en vaders en vrouens en meisies gesê, aan jong manne wat oorlog toe gaan.
Oorlog wat geromatiseer word, heldeverering vir die wat terugkeer. Medaljes vir die dapperes. Parades vir die gesneuweldes. Begraafplase met wit kruise - militêr presies in reguit lyne geplant, met naambordjies, sodat ons nie moet vergeet nie. En tog vergeet ons.
'n Vlag en 'n handdruk vir die weduwee. 'n Kopknik vir die kinders. 'n Handdruk vir die vaders. Dan gaan ons aan - duty calls. Die vyand wag vir niemand.
Vyande wat deur politisie en fundamentaliste en gierigaards geskep word. Oorlog is goeie besigheid. Oorlogverklarings wat deur selfgesentreerde vet omies met bolkuile uitgereik word. Opdragte wat deur generaals ver agter die gevegslyne gegee word. Maar dis jong manne wat uit die loopgraaf moet klim, wat die vyand moet bestorm, wat die sneller moet trek, wat dood in die oë moet staar. En as hy gelukkig is om huistoe te gaan, geestelik stukkend  sukkel om die pyn en woede te verwerk.
Oorlog het geen wenners nie, net verloorders.
En so sterf geslagte vir die ideale van ander.
En tog, wanneer alles stil raak en die gemoedere kalm, wanneer jy in die lig van 'n kers voor die voete van jou God sit, dan raak alles 'n skaduwee, 'n mistigheid, en 'n nuwe hoop word gebore.  Hoop gebasseer op iets wat ons nie verstaan nie. Liefde wat ons nie ken nie. En 'n vrede wat ons verstand tebowe gaan, word gebore.
God, die groot opdraggewer, se opdrag is liefde; en Hy sterf self in die uitvoering daarvan.
En waar ek nou is, verstaan ek weereens dat dit Christus is wat ook roep dat ons na Hom toe terug moet kom.
Gaan kyk die fliek - Tolkien.

Friday 21 June 2019

Pitsere - of "Boils" soos die Engelse sou sê!


Pitsere, het my ma gesê, kry jy wanneer jou bloed vuil is.
Om jou bloed skoon te kry, moet jy jou sisteem skoonkry.  Om jou sisteem skoon te kry moet jy Engelse Sout gebruik (dis nou as ek reg kan onthou).  Dan kan jy hulle uittrek deur 'n glasbottel wat warm gemaak is, daaroor te druk.  'n Vakuum word in die bottel gevorm en suig die pit uit.  Morsig. Vrek seer.


Soms, as jy een van die ongelukkiges is, kry jy ‘n “sewe kop pitseer”.  
Logies, dis wanneer daar sewe pitte in een seer is. Nagmerrie. En hulle moet almal uit.  Deur een gat. Een na die ander.  Een op ‘n slag.
Dan moet die wond van binne gesond word!


As jy kyk die aanstellings wat die ANC regering nou weer gemaak het is dit duidelik dat hulle nie die sisteem skoon kry nie. Cyril sout lyk my is nie sterk genoeg nie – want dieselfde koppe kom weer tevoorskyn, net op ander plekke.
En die vorige wonde is nog nie eers gesond nie!

Monday 10 June 2019

Desperaat

Ek ry gistermiddag huistoe en by die Saxby/Ou Jhb kruising staan Connie. Netjies aangetrek. Ek ken hom. Hy het 'n kleurvolle bord wat sê hy soek werk.  Nie geld nie; werk. Ek het hom by Jakob se Put gesien, soekende na werk.
Hordes gedagtes stroom deur my kop - hoe help ek hom?
Ekself. Ek weet nie eens of ek iets voel nie. Emosies - hartseer, verstarring, skok, onvergenoegsaamheid, seer, seer, seer.  Iemand teen my lyf, wat werk soek, nie geld nie.
Werk, in hierdie tyd van swak ekonomie en swak leierskap. Politici wat 'n spel speel. Wat besluite maak wat hulle sakke bevoordeel. Besluite maak wat hulle partye bevoordeel .... hoe draai ons dit om?
Hoe vertel ek vir Connie dis OK, alles werk uit, God het 'n plan - terwyl niks vir hom OK is nie, niks uitwerk nie en God se plan onduidelik is!
Connie, 60+, wit, man, B Comm, ervare, wil werk - staan op die hoek van 'n straat met 'n plakkaat en soek werk - soos baie ander. Ander wat ek nie ken nie.
Regtig? Hoe lank nog?