Saturday 16 April 2022

Die Reis Herberg

 


Meeste van ons het al gereis.  Iewers heen, vir plesier of plig.

Vir sommige van ons is die reis moeilik en uitputted - ons moet anderkant kom sodat ons kan rus.  Vir sommige is die tyd gespandeer op die roete 'n verkwikking, 'n leermeester, 'n versterking, 'n stille verwysig van 'n skepping waarvan ons eintlik niks verstaan nie.  Reis leer jou van ander plekke, ander mense en hulle dinge, hulle swaarkry en geluk, hulle drome en verwagtinge, ander paaie met nuwe gesigte, ander stories, ander huise se reuke en spoke.

Om te reis toets  jou voorbereiding, jou vaardighede, jou humorsin, jou verhoudinge - iewers kry almal 'n pap band, wonder jy of jy op die regte pad is, lag iemand vir jou en jy vir hulle, frustreer jou reisgenoot jou. Orals.

As die dag verdaag moet jy rus. Daarvoor sleep sommige van ons 'n kaserne saam - 'n gehuggie op wiele, met mure en 'n dak van seil of iets meer solied.  Ander wil tussen vier mure slaap, in 'n herberg of iets - want moeder het moeg geword het vir die gehuggie op wiele.

Herberge in die vreemde is misleidend - advertensies lieg soms. Groen grasperke was afgeneem voor die droogte. Wit linne en gepofte kussings het hulle reinheid verloor. Die swembad het sy sprankel verloor. Tog is daar die juweel herberge wat min mense van weet, wat wegkruip op die laaste bladsy van die soektog, of totdat 'n medereisiger jou daarvan vertel.

Dan is daar verwagting - daardie lysie van kriteria waaraan die herberg vir die lang termyn of sommer net oorslaap, moet voldoen. Daardie blokkies moet een-vir-een afgemerk word, anders is iemand ongemaklik, en dit wil ons tog nie hê nie. Ruim kamers, skoon linne, 'n koffie stasie, self catering of 'n aansit ontbyt, veilige parkering vir jou gewillige ryperd, regte ligging, stilte, naby besienswaardigehede, gesellige luim, uitsig, prys, vriendelike personeel, goeie kos - want ons betaal mos.

En dan, nadat ons die betaling gedoen en ons moeë lywe ingeteken, al die tasse ingedra en die ryperd veilig op stal gesit is - dan duik die eerste kinkel op; hierdie herberg is nie soos ons ons voorgestel het nie.  Die moeilikheid is dat herberge se ware kleure eers na vore kom nadat jy ingetrek het, wanneer jy vir die sleutel teken, wanneer die personeel se skof verby en hulle huistoe is. Wanneer jy en jou reismaat al is wat oor is.  Dis wanneer 'n herberg hemel of nagmerrie word.

Ongeag wat almal sê en die deeglikheid van jou voorbereiding - kort voor lank dop die verf af, lek die dak, drup 'n kraan, raak die swembad groen, tel die paving op, is daar onkruid op die grasperk, kraak die bed, raak die wasgoed vuil, en is jou reisgenoot dik vir jou en jy vir hom/haar - en dis wanneer die herberg sy gekoesterde gevoel verloor, wanneer jy agterkom dat die boksies wat jy afgemerk het, 'n klug was. 

Dis nie hoe ek gedink het dit gaan wees nie.

Dis nie waarvoor ek "op-gesign" het nie.

Dis wanneer keuses gemaak moet word - herstel of verkoop.

Ons lewensreis is baie dieselfde - as kinders het ons nie baie te sê oor die reis, die bestemming of die herberg nie. Gou-gou raak ons egter verantwoordelik vir ons eie avonture, eie heil, eie roetes, eie bestemmings, ons eie keuse van herberg.

Jou lewensmaat is jou herberg - self uitgekies met 'n belofte dat dit vir ewig sal wees. Tot die dood ons skei. Langtermyn. Dit maak ons beide herbergier en inwoner. Ons sal herberge wees vir mekaar, apart maar saam, waar ons mekaar sal koester en toelaat om te groei. Vir altyd.

En tog, soms, is ons keuses nie so vars nie en na afloop van tyd begin die eens perfekte herberg sy krake wys. Soos die euforie vervaag sien ons die werklike prentjie - soms is dit nog steeds die moeite werd en soms, soms word verwagtinge nie ge-eer nie.  Soms raak instandhouding meer 'n herbou.  Die prys moet bereken word - tyd vir keuses.

Op 'n gewone reis is dit maklik om van herberg te verwissel, of om net vir die aand vas te byt - op jou lewensreis is dit ietwat moeiliker.  Geen herberg is volmaak nie, al voel dit in die begin so - daar is altyd iets wat skort, wat nie aan die aanvanklike verwagtinge voldoen nie.  Dis daardie deel wat jou oë laat dwaal, wat jou laat sug - hoekom sal jy wat jy het by 'n ander herberg gaan soek?  Dink mooi, waag jy wat jy het vir dit wat jy dink jy dalk gaan kry?

Gly jy of investeer jy? Beide kos jou iets – tyd, energie, geld, lewenskwaliteit, satisfaksie, verwyte, hartseer, moeite .... Om te bly het twee keuses - om vas te byt en aan te gaan, of om skouer aan die wiel te sit en die herberg te herstel na sy verwagte glorie.


Jou herberg is jou verantwoordelikheid, niemand kan namens jou jou herberg instand hou en verbeter nie. Jou herberg was jou keuse.  En hoe ouer die herberg, hoe meer (gereeld) is instandhouding nodig. Hoe beter jou instandhouding is, hoe minder is die kans vir groot skade.

En selfs met goeie instandhouding, kom daar soms skade.

Maar dis jou herberg - jou reis, jou keuse!