Sunday 28 April 2019

Petrol en Eredienste

Ek is 'n petrolkop.
Ek kan my verstom en verlustig en sommer meegevoer raak oor wat alles op een oomblik gebeur wanneer jy met jou voertuig ry.
En dit maak nie saak of dit 'n klaarbetaalde, goedgebruikte, sonverbleikte galoppie is - en of dit 'n DDM (Duur Duitste Motor) is nie. Ja, en Land Rovers tel ook.
Vir 'n oomblik, probeer jou voorstel hoeveel duisende parte en stelsels en elektroniese boodskappe op elke gegewe oomblik skuur, draai, druk, trek, stuur, ontvang, verwerk, bereken ..... om jou en jou wiele aan die gang en oppad na jou bestemming te hou.
'n Meganiese wonderwerk, wat ons as totaal vanselfsprekend aanvaar.
Ons ry vanoggend met my LR kerk toe. Ek verlustig my in die klank van die enjin, die gladde oorskakeling van die ratkas, die skerp dog presiese werking van die remme, die klank van die radio - en ek staan (of sit om meer presies te wees) verstom oor hoe mens dit regkry om al hierdie komponente in harmonie te laat saamwerk, net sodat jy vinniger oor afstand kan beweeg na 'n plek van keuse. Verstommend.
Ons ry kerk toe vanoggend en stap by die kerkgebou in. Ons begin om mense te groet.
Die koffie span is op hulle pos, pak koppies en pierings uit, kook die water, sit die suiker uit - teelepels netjies in die pierings. Reg vir tee na die diens.
By die deur word ons verwelkom deur 'n selgroep.
Agter in die kas is die data span reg vir die hantering van die musiek en die aanbieding.
In die konsistorie is die musiekgroep besig om die laaste reëlings vas te maak - hulle het reeds in die week die liedjies gekies en geoefen, vanoggend voor kerk weer.
Voor in die kerk is die liturgiese ruimte versorg - pragtige blomme en bande en kleure - en die sewe kerse brand by die kruis. Almal brand want Jesus het mos opgestaan.
In die sandbak voor die kruis brand kleiner kerse, opgesteek deur mense wat wil - reggesit deur die Gebedsbediening.
Die kinders sing Jesus het my omgedop en word begelei deur die Kinderbediening.
Die sanggroep begelei ons, die dominee preek sy hart uit, die diakens neem kollekte op - ons word (en is) geseën.
Ons stroom na buite - daar is eetgoed op die tafels, die tannies sorg vir ons. Tee word gedrink en ons kuier saam - reël gou 'n fliek vir volgende naweek. Life is good.
En vir 'n oomblik besef ek dat die gemeente in hierdie gebou, net soos my motor, 'n verstommende hoeveelheid parte en dele is wat met mekaar interaksie het en sorg vir 'n gemeenskap. 'n Gemeenskap van gelowiges, met verhoudinge en intriges en uitdagings, nie altyd in harmonie nie, maar saamgebind deur die liefde vir Jesus Christus. 
'n Mellemeule rit deur die lewe. 
Ongelooflik.
Ek is 'n petrolkop - en 'n gelowige.


Wat 'n rit! 😊