Monday 4 June 2018

Wie is die Regte Helde?


Almal van ons het helde – van kleins af is daar iemand of iets wat jou held of heldin is.
Kleintyd was dit Superman of Superwoman – of dalk die Joker in die Batman reeks.  Dogtertjies het gewoonlik ‘n heldeverering vir hulle pa’s.  Veral in die begin is mans die helde van hulle vrouens.
Baie van ons het sport helde … Pierre Spies of Naas Botha of Kwagga of Nadal of wie ookal jou tone laat krul.
Helde uit die geskiedenis – Racheltjie de Beer red haar broer van die koue. Amakeia  – wat haar lewe gee vir weerlose kinders toe vyandige Impi’s hulle aanval. Wolraad Woltemade jaag die see in op sy perd – verskeie kere, om mense te red wat hy nie ken nie.
Hedendaagse helde - die Somaliër wat 4 verdiepings se balkonne geklim het om ‘n kind te red wat besig was om oor te val.  ‘n Onderwyser wat sy liggaam gebruik as skans teen ‘n skool skieter.
Wat is ‘n held?
Helde is nie volmaakte wesens nie – of die spreekwoordelike ridder op die wit perd.
‘n Held is eerder iemand wat ander se belange voor sy eie sit.
Helde is mense wat bereid is om alles te gee vir ander – selfs om te sterf.
Helde is mense na wie ons opkyk en bewonder.
Helde kyk uit vir ander.
Helde doen wat gedoen moet word.
Helde sien ander se behoeftes en nood raak.
Wat is heldedade?
Dit kan groot wees – soos om op ‘n handgranaat te val om jou makkers te red.
Dit kan iets “kleins” wees – soos om vir hongeres kos te gee of ‘n baba uit ‘n swembad te red, of om ‘n hond van die hoofweg te red.  Dit kan klein wees in jou oë, maar groot in ander s’n.
Ons almal het die vermoë om helde te wees – ons moet net van onsself wegkyk, en ander se behoeftes begin raaksien.
Is daar regtig helde?
Buitengewone helde – verseker:
  • Nick Vujicic – man sonder arms en bene.
  • Tiaan – vriende van se briljante ingeneur seun wat nadat hy klaar gestudeer het die pad in Afrika in geval het om te bedien, volg die stem van God.  Buitengewoon.  Ongewoon.
  • Victor Frankl - 'n Oostenrykse psigiater wat 3 konsentrasie kampe in die 2de Wereld oorlog oorleef het.

Geloofshelde – lees Hebreers 11.
  • Omdat Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses se ouers, Moses, Israeliete, Ragab die prostituut …. geglo het, het goed gebeur.  Gaan lees ‘n bietjie.

 Wat is die probleem?
Soms verander die ridder op die wit perd in ‘n knopkop op ‘n donkie …..
Baie keer is die sogenaamde helde (motiverings sprekers) op TV en YOUTUBE mense wat buitengewone omstandighede moes oorkom – maar baie keer as gevolg van hulle eie dom foute.  Ouens wat moes leer loop na ‘n ongeluk, ‘n man wat sy hande verloor het omdat hy met petrol gespeel het, dwelms – en so aan. 
Die feit dat hulle dit oorkom het is prysenswaardig, maak geen fout nie.
Wie is die “regte” helde?
Nog steeds stry ek met die vraag; “wie is die regte helde?”  Wie is die mense na wie toe ons regtig kan opkyk?
In my oë is die regte helde van die wêreld die gewone mense rondom ons.  Elke dag se mense.  Ons mense – ek en jy!
Kyk bietjie rondom jou – wat sien jy?  Kyk verby die uiterlike …. en sien die moedige persoon wat opstaan en veg en voortbeur en planne maak en huil en pyn maar wat bly veg.  Soos ‘n bokser stap hulle elke oggend uit vir nog ‘n rondte in die kryt van die lewe.  Mense wat nie ophou tot en met die laaste rondte nie.
Dis die helde, die regte helde – die helde wat nooit erkenning kry nie en soms deur hulle eie mense verguis word.  Daardie wat opstaan en voortbeur ongeag die “odds”.  Mense wat die bodem skraap en tog nie opgee nie.  Dis die mense rondom jou – dis julle – dis ons, wat vashou en aangaan.
Regte helde het “purpose” – hulle staan op vir ander, baie keer ten koste van hulself.
Regte helde het “attitude” – ‘n “never give up” attitude. Kannie dood.
En soms wen regte helde, en soms nie – maar dit laat hulle nie ophou nie.

Ek laat julle met ‘n aanhaling
"It's not the critic who counts, not the one who points out how the strong man stumbled or where the doer of good deeds could have done better.
"The credit belongs to the man who is actually in the arena: Whose face is marred by dust and sweat and blood; who strives valiantly; who errs and comes short again and again…
"Who knows the great enthusiasms, the great devotions, and spends himself in a worthy cause…
"And who, at worst, if he fails at least fails while daring greatly so his place shall never be with those cold and timid souls who know neither victory nor defeat."  (Theodore Roosevelt)
Die regte helde is jy en die mense rondom jou!