Tuesday 30 January 2018

Dubbele Standaarde

Wanneer daar verskillende reels is vir verskillende mense in dieselfde omstandighede.

Ons ken dit goed - ek mag sekere goed doen, maar as iemand anders dit doen dan is dit verkeerd.  Byvoorbeeld - ouens wat vinniger as jy ry is maniake en die wat stadiger as jy ry is idiote.  

Dubbele standaarde.

So lees ek vanoggend in die Beeld van Ouma Lies wat reken Roger Fereder, wat sy 20ste Grand Slam gewen het, is seker al 'n miljarder en moet van sy prysgeld vir liefdadigheid skenk.  Waarskynlik goed bedoel, maar dan kan ek aanspraak maak op jou salaris, want as jy meer as Rx verdien is jy ryk en daarom moet jy jou geldjies deel.
Wengeld is salaris vir ander.

Dan trek ons die wat hard werk en presteer, en daarvoor beloon word af sodat ander opgetel kan word ....

As ek van Federer verwag om 'n deel te gee, kom ons se 10%, gaan jy jou hand in die sak druk en 10% ook ingooi?  Is dit 'n ongeldige argument, moontlik, maar in beginsel kan jy nie van een ou verwag wat nie van 'n ander in gelyke maat verwag word nie.

Hoekom word rugby spelers meer betaal as swemmers?  Hoekom sukkel paalspringers om borge te kry terwyl naellopers makliker kry?  Vraag en aanbod, sal ek dink. Opportunity.  Hoekom word sokkerspelers vir miljoene verkoop en veerpyltjies maak dit nie uit die kroeg uit nie (hipoteties natuurlik)?

En so kan ek aangaan.
Ek het 'n kleintjie dood aan dubbele standaarde - en so is ek self 'n meester daarvan.
Ons moet mooi dink voor ons reels maak vir ander.

Sunday 28 January 2018

Goed en Swaar is Bure!

Ek lewer verlede Vrydag 'n motiveringspraatjie oor "Hoe om Gemotiveerd te Bly en Veerkragtigheid". Resilience - vir die wat frons.

Die groep trek swaar, dis vroeg in die nuwe jaar en die donker wolke hang.
Hoe motiveer jy mense wat in die spreekwoordelike dal van doodskaduwee is - jy kan nie!

Dis toe dat ek vir hulle vertel van hoe k@k (net so) dit met my gaan.  Verbasing, die ou wat hulle moet vertel van motivering pak op hulle af.  Toe ek die groot woord weer gebruik is daar 'n paar fronse en toe ek nie ophou nie kon ek verwarring op 'n paar gesigte sien.  Wat nou?

Ek vertel hulle van my vriend wie se vrou oorlede is en wat baie swaartrek.  Ek vertel hulle van 'n vriend wie se vrou Woensdag gehoor het die kanker is terug. Ek vertel hulle van 'n vriend van my wat sommer net doodgegaan het - stres en 'n gevolglike hartaanval.  Ek vertel hulle van my seun wat nie werk het nie en my kontrak wat amper op 'n einde is.
Want sien - as jy vir iemand vertel van jou moeilikheid, dan sal daar altyd iemand wees wat vir jou sal se; jy het nog nie van my moeilikheid gehoor nie .... en dan sal die volgende mater sy deeltjie bylas - want ons moet mekaar tog altyd oordoen.

(Image from Pinterest)
En toe vertel ek hulle van 'n klient wat Donderdag vir my vertel sy is in remissie, ek vertel hulle van my ma wat al 16 jaar skoon is, ek vertel hulle van Retha, wat ongeag haar hartseer aangaan met haar lewe. En nog.

Ek vertel hulle dat goedgaan en sleggaan bure is - hulle bly langs mekaar.  Daar is altyd, orals, goed en sleg.

Ek vertel vir hulle dat ek hulle nie kan motiveer nie - dis hulle besluit.  Ek vra hulle om te begin gee wat hulle het - tyd, liefde aandag, betrokkenheid, om 'n klein verskil iewers te maak.  Kry 'n purpose! Maak planne! So sal die positiewe energie wat hulle skep, terugkeer na hulle toe.  Want sien, sodra ons opkyk van die stofpad voor ons, kan ons dalk die lig in die verte sien, kan ons dalk die verskil sien wat ons maak - met niks, net met liefde.

Ek vra hulle om seker te maak dat die goed wat hulle kan doen, nie deur die dinge wat hulle nie kan doen nie, oorskadu word nie.  Ek vra hulle om anderkant hulle huidige moeilikheid te kyk, waar hulle graag wil wees, en hulle energie daar te gaan haal.  Ek vra hulle om te soek vir die goeie in hulle lewens, nou, veral daar waar hulle dink dit gaan net swaar.

Goed en swaar bly langs mekaar - by 'n robot staan 'n bedelaar langs 'n Porche, in die winkelsentrum staan "ryk" en arm in dieselfde ry, in 'n hospitaal hardloop mense bekommer in, terwyl ander op dieselfde oomblik bly is om ontslaan te word.

Ek kan jou nie motiveer nie - maar ek kan jou vertel wat gedoen kan word om gemotiveerd te lewe.  As jy wil luister. Uiteindelik maak die swaar nie saak nie, net die goeie gaan aan.  

Dit gaan regtig nie so sleg met ons nie!