Wednesday 29 January 2020

Lord Nelson en die Posman

 Nelson. Lord Nelson was 'n Staffie.

Hy was te stout om Lord genoem te word - toe word hy maar net Nelson.
Nelson het gelyk soos 'n Kelvinator met 'n kop op. Borskas so breed soos die agterkant van 'n John Dear Trekker, 'n kop soos 'n blokhammer, en 'n frons soos 'n erosiesloot in die Drakensberge.


Nelson was eintlik vriendelik - met mense. Ander honde, katte en goed wat in die nag rondloop het hom so ietwat nukkerig gemaak.

Dit was die dae toe huise meestal net jakkalsdraad gehad het, daardie met die groterige gate - en posmanne het pos by die huis afgelewer, eers met sulke rooi fietse en later met rooi bromponies. Met 'n trommeltjie aan die voorkant, mooi gepak in volgorde van aflewering.

Ons het naby die werk gebly en ek het met my geel fiets werk toe gery. Toe fietsry nog nie 'n fisieke uitdaging was nie.

Ons huis was op die hoek teen 'n afdraende, en die Posman met sy rooi bromponie met die trommeltjie pos het dit goed gedink om die tuinhekkie te gebruik as 'n stopblok. Dit was nie 'n slegte plan nie want die hekkie se draad het ingebuig en het dan gekeer dat die bromponie nie verder teen die afdraende afrol nie. Hy kon dan gemaklik oorleun, die pos uit die gerangskikte trommetjie haal en in die grys geverfde, blik posbus, net regs van die hekkie plaas.

Die hekkie was, soos meeste hekke in daardie omgewing, met 'n bloudraad lus aan die ankerpaal vasgemaak, net links van die posbus.

Nelson, vredeliewende hond wat hy was, het om die een of ander onbekende rede ernstig eksepsie geneem rakende die voorwiel teen die hekkie plan van die Posman. Sy eksepsie het geleidelik meer ernstig geword wanneer die Posman, teen die advies van Moeksie (my vrou), die hekkie stiptelik met die voorwiel stamp. Eers het Nelson net kennis geneem tot op 'n punt waar sy kringspier duidelik sigbaar was onder sy stert, en hy die jakkalsdraad gebruik het om sy tande te vlos.

Posman was duidelik nie ongemaklik oor die saak nie. Sy bromponie staan stil en kan sy pos maklik in die posbus druk - daai ene net regs van die hekkie.

Ek ontvang 'n dringende oproep by die werk - op my landlyn, toe telefone nog met draad aan die muur vasgemaak was. Moeksie is histeries - Nelson en die Posman het 'n meningsverskil en Nelson wil nie vir haar luister nie. Ek moet NOU kom. Nou as Moeksie daardie toonhoogte haal, dan luister jy onmiddelik.
Ek sien voorspooksels en mediese eise, gryp met geel fiets en trap daardie fiets dat die speke sukkel om by te bly - huistoe. Die hel is los toe ek om die draai kom.

Die Posman het hom misgis met sy stop. Die hek het oopgespring en Nelson het aan hom begin verduidelik dat hy ietwat krapperig is. Hy kon al sy opgekropte wrewel op sy vyand loslaat - die Posman se rooi bromponie.

Nelson het die bromponie, wat nie meer heeltemal rooi is nie, aan sy spatbord beet - en sleep dit oor die teerpad rond. Met die nodige byklanke.  Die Posman is histeries want sy rooi bromponie tel ernstige byt en skuurmerke op. Sy sorgvuldig georganiseerde posstukke word oor die pad versprei - en hy kan nie dink hoe om hierdie aan sy baas en kollegas te verduidelik nie.

Elke keer wat die Posman die moed bymekaarskraap om sy bromponie te herwin loods Nelson 'n onmiddelike teenaanval - wat die Posman in die teenoorgestelde rigting laat spaander.  Dit neem 'n paar minute om Nelson van sy buit te laat afsien en terug te gaan, die erf in.

Die Posman herwin Poskantoor helmet en bromponie, hy skraap die vernielde en verstrooide posstukke bymekaar en jaag brom-brom die bult uit. Geen verskoning van my kant af maak hond haaraf nie.

Nadat ek die hek sorgvuldig toegemaak het, Nelson gevryf en vir Moeksie gekalmeer het - herleef ons die petalje met onbeheersde lagbuie.

Wat ek egter nie verstaan nie, is dat my pos daarna baie minder geword het.
MooiLoop!