"Stay alive and come back to me!"
Dis die uitroep van die jong dame aan Tolkien net voor hy op die boot klim om teen die Duitsers te gaan veg. Wêreld oorlog. Duisende sterf daagliks.
"Stay alive and come back to me" is ook derduisende kere deur moeders en vaders en vrouens en meisies gesê, aan jong manne wat oorlog toe gaan.
Oorlog wat geromatiseer word, heldeverering vir die wat terugkeer. Medaljes vir die dapperes. Parades vir die gesneuweldes. Begraafplase met wit kruise - militêr presies in reguit lyne geplant, met naambordjies, sodat ons nie moet vergeet nie. En tog vergeet ons.
'n Vlag en 'n handdruk vir die weduwee. 'n Kopknik vir die kinders. 'n Handdruk vir die vaders. Dan gaan ons aan - duty calls. Die vyand wag vir niemand.
Vyande wat deur politisie en fundamentaliste en gierigaards geskep word. Oorlog is goeie besigheid. Oorlogverklarings wat deur selfgesentreerde vet omies met bolkuile uitgereik word. Opdragte wat deur generaals ver agter die gevegslyne gegee word. Maar dis jong manne wat uit die loopgraaf moet klim, wat die vyand moet bestorm, wat die sneller moet trek, wat dood in die oë moet staar. En as hy gelukkig is om huistoe te gaan, geestelik stukkend sukkel om die pyn en woede te verwerk.
Oorlog het geen wenners nie, net verloorders.
En so sterf geslagte vir die ideale van ander.
En tog, wanneer alles stil raak en die gemoedere kalm, wanneer jy in die lig van 'n kers voor die voete van jou God sit, dan raak alles 'n skaduwee, 'n mistigheid, en 'n nuwe hoop word gebore. Hoop gebasseer op iets wat ons nie verstaan nie. Liefde wat ons nie ken nie. En 'n vrede wat ons verstand tebowe gaan, word gebore.
God, die groot opdraggewer, se opdrag is liefde; en Hy sterf self in die uitvoering daarvan.
En waar ek nou is, verstaan ek weereens dat dit Christus is wat ook roep dat ons na Hom toe terug moet kom.
Gaan kyk die fliek - Tolkien.
No comments:
Post a Comment