Ek het "gehoor"
moeksie soek 'n spesifieke kombuis implement; sy maak kos vir 'n lewe. Lekker
kos, gevries of vars op die tafel, persoonlik of besigheid.
Sy werk
hard en ek hoor.
Maandag
het ek verjaar. Ek kry baie
gelukwensinge van vroegoggend af; nie gedink so baie mense gee om nie. Sommige bel en ander stuur 'n boodskap. Almal
is kosbaar.
Ek
besluit om vir moeksie daardie implement te gaan koop - sommer vir Valentynsdag
ook. Sal 'n paar blomme bysit vir
kleur. Sy behoort aangenaam verras te
wees.
Oppad
winkel toe ry ek by verskeie mense verby - baie met 'n bord en 'n
boodskap. Sommige kruip weg agter die
bode, kan jou nie in die oë kyk nie.
Ander kruip nie meer weg nie; dit maak nie meer saak nie. Ander, lyk dit vir my, weet daar is mense met
klein harte. Hulle is oral, elke robot
word beset deur swaarkry mense en opportunistiese verkoopsmense. Toe ene agterkom ek wil niks koop nie, is die
nonchalante opmerking "hoe lyk dit met 'n 20, ek het nog nie geeët
nie". Die robot red my.
Ek koop
die implement, ek is opgewonde, kry een van moeksie se vriendinne in die
winkel, sy reken "goeie keuse".
Wat weet ek, al wat ek wil hê is dat moeksie moet happy wees.
Ek is
dankbaar ek hoef nie by 'n robot te staan nie.
Dis
middag; ek spandeer 'n uur of wat saam met moeksie, ons kyk vir Bobby op die
PVR. Hy besoek 'n polisieman van Ceres
wat in sy eie tyd en koste 'n hengse verskil maak in die omgewing. Hy werk veral met kinders en slaap 3-4 ure
per nag. Vrywillig. Al wat hy wil hê is 'n vliegkaartjie vir sy
vrou se 50ste om oorsee te gaan. Sy was
nog nie daar nie.
Maar ek
is gepla.
Die
polisieman sê as elke polisieman 10 ure, elke maand, ekstra tyd werk, sonder
vergoeding - dan is daar 200 000 x 10 ure per maand waarmee 'n moerse verskil
gemaak kan word. 2 Miljoen man ure, ekstra.
Terwyl
ek skryf kry ek nog 'n oproep of twee - ek word vir 'n ontbyt genooi. Dit voel goed.
Ek kry
'n oproep van Koos - hy laat my dink; wat maak ek met al hierdie coaching
skills van my?
Ek dink
ek verstaan skielik iets van die gepla in my binneste - wat gee ek verniet vir
mense wat nie het nie omdat ek wil gee sodat hulle 'n beter kans het?
My
Staffie kom verduidelik vir my dis etenstyd - ek gehoorsaam.
Valentynsdag
– moeksie gaan stap vroeg en ek gaan ry op ‘n fiets wat nêrens heen gaan nie. Sy kry die blomme en die kombuisimplement. Sy is happy.
Dis goed so. Ons gaan drink
koffie later die aand – ‘n magdom mense sit orals, sommiges duidelik verlief,
ander gaan deur die motions.
Woensdag
– die rooi hartjie sjokolades van Woolies is 50% goedkoper. Jy kan weer bekostig om blomme te koop. Alles is terug na normaal toe, of nie. Bemarking van liefde was weereens
suksesvol. Hier en daar is ‘n paar
glimlaggende gesigte, daar is egter meer ontnugterdes, hulle verwagtinge het
nie gerealiseer nie. Waaroor gaan
hierdie commotion nou weer? Mense se
gesigte en wat hulle nie sê nie vertel die waarheid.
Ek
wonder weer - sal dit nie beter wees as ons die moeite wat ons insit vir Valentynsdag
deurlopend maak nie? In plaas van een
keer per jaar, hoekom maak ons nie eerder tyd een keer per dag om toegewyd met
mekaar te gesels nie, hoekom drink ons nie eerder een keer ‘n week koffie nie, hoekom
maak ons nie moeite om elke dag in liefde met mekaar om te gaan nie? Of is dit makliker om voor die TV te sit, jou
stokperdjie te bedryf, saam met pelle te kuier, jou ding te doen. Asof Valentynsdag in een dag gaan regmaak wat
in ‘n hele jaar geen aandag gekry het nie.
‘n Vuur wat toegelaat is om dood te gaan steek moeiliker aan as ene
waarvan die kole aan die smeul gehou word.
Jy kan nie ‘n maraton hardloop as jy nie weekliks tyd op die pad
spandeer nie.
Ek dink
aan my geliefde stelling – “die klontkop waarmee jy gaan oud word is die ene
wat langs jou slaap”. (OK, dis die “nice”
weergawe.) Hoe lyk jou oudword plan, prentjie?
More is
Donderdag en teen Vrydag behoort baie van die gemoedere oor Valentynsdag mislukkings
(fails) te normaliseer. Wat het
verander?
Kom ons
maak eerder soos daardie polisieman en deel jou liefde mildelik uit, daagliks,
aan die naby jou en ver van jou. Dan maak
liefde die wêreld weer rond. En
dan vier ons volgende jaar se Valentynsdag die vordering wat ons gemaak het,
ons maak dit ‘n dag van oorwinning en verwondering – eerder as ‘n dag van
verwagtinge.
Kom ons
kyk wat ons kan doen, 1 uur op 'n slag, vir die mense rondom ons.
Kom ons
toets mekaar volgende jaar hierdie tyd.
Manne,
onthou om julle vrouens lief te hê.
Vroue, doen moeite met die ou knorpot van jou.
En
nou? Ek voel beter, daar is mense wat
lief is vir my, ek dink ek het 'n plan.
Ek is dankbaar ek hoef nie by ‘n robot te staan nie. Ek is dankbaar ek kan elke middag huistoe
gaan, na my vrou toe wat vir my lief is.
En my dogter. Ek is dankbaar ek
kon my vrou al oorsee laat kuier.
MooiLoop
No comments:
Post a Comment