Verlede –
Blumfelde. Namibia. 1970’s. Kerssangdienste was iets anders – veral as jy terugkyk.Ons het daar naby geboer, met Karakul skape,
en bokke. My pa het in die koor gesing,
iets wat hy kon doen. Musiekmaak was hy
goed mee.
Desember in die Kalahari is nie ‘n grap nie,
veral nie in die sinkgebou op Blumfelde waar die Kerssangdiens elke jaar gehou
was nie. Die sinkgebou waarvan die hele
kante op en oopgeslaan het – om lug deur te laat. Asof dit sou gehelp het.
Almal was daar, netjies aangetrek – ek vermoed
die mans het pakke aangehad, en ek kan nie onthou of die tannies hoede gedra
het nie. Al wat ek kan onthou is dat ons
moes stil sit, en dat dit warm was. Dat
niemand omgeval het van hitte-uitputting nie, gaan my verstand te bowe. Op almal se voorkoppe kon jy sweetdruppels
sien, wat blink paadjies maak het teen die slape en agter in die nek af, net om
tussen die kraag en die nek te verdwyn. Warm. Taai. Maar jy het nie geroer nie.
Dan was daar tafels met vliegnette op. Wittes, netjies omgeborduur – om die
vlieë weg te hou. Onder die nette was
daar drinkgoed en eetgoed, flesse met koffie en hertzoggies en broodjies. Dit is heel moontlik waar ek met
Marmite en fyn biltong deurmekaar geraak het – op ‘n broodjie met botter wat
geblink het van die son.
Iewers daar naby was daar altyd Poue wat “help”
geroep het - terwyl almal gesing, gebid, sweet afgevee en gesels het - gesels oor
die weer en weiding en familie. Die
bakkies het vuurplakke opgehad, en water – net vir ingeval. Dit was warm en die veld droog, en amper
Kersfees. En net sodra dit draaglik
begin raak het, is die saal se sink kante laat sak, geslot, en dan is almal in
die bakkies, huis toe.
Hede –
Ek wonder of die saal op Blumfelde nog
bestaan? Dalk het dit ‘n stoor geword,
vervang deur ‘n baksteengebou, met ‘n groot lugversorger – want ”niemand kan
dit in hierdie hitte hou nie”. Opgerig
met skenkings van die boere.
Ek wonder of daar nog bakkies onder die bome staan, Hilux’e en Cruisers dalk, met ‘n Isuzu hier en daar – en dalk ‘n Land Rover, net om my gelukkig te hou. Die nuwe gebou het dalk nou ‘n kombuis met ‘n yskas, sodat botterbroodjies nie meer blink nie. Ek dink nie die put toilette sal nog diens doen nie – en is daar nog Poue wat “help” skree?
Vandag –
Gistermiddag was hier ‘n vrou wat stikwerk verkoop – plekmatjies en strykplankoortreksels, netjies gewerk en plat gestryk. Hoeveel daarvan kan jy koop. Vanoggend is hier ‘n man met besems by die hek – ek gaar al op. Drie dae terug was Johannes hier – hy maak bymekaar vir ‘n kinderhuis, iewers. By elke kruising staan iemand met ‘n bordjie – “God Bless”. Die petroljoggies begin al glimlag as ek by die vulstasie inry – hulle weet Kersfees beteken worsbroodjies, ‘n tradisie wat ons lank gelede begin het.
Ek wonder of kinders nog gewone trapfietse
kry vir Kersfees, of moet dit nou ‘n “full suspension” hê? Of dalk met ‘n battery – om te help met die
trap? Ek weet nie.
Black Friday is nog aan die gang, en dis nou ‘n week lank. Almal soek goeters en dinge.
Almal pleit Kersfees. En hou sang dienste. Ons kerk is nie meer vol nie.
Dalk moet ons net vra vir vrede en reën – dis eintlik al wat ons nodig het. En Liefde! Vir ons en ons naaste – baie daarvan. En werk, ja, en werk ook.
Dan sal “skenk ons ‘n helder somer Kersfees” dalk sin maak – selfs in Blumfelde se sinkgebou.
Of hoe?
MooiLoop!
Vreemd hoe alles verander - en tog eintlik dieselfde bly. God was nog altyd daar en sal altyd daar wees. Ons moet Hom net in elke stukkie samesyn rondom ons, met baie liefde in ons harte, raaksien. Blumfelde of Eldoraigne - die genade bly groot.
ReplyDeleteBaie lewe en liefde in onthoudae Johan. Min is nog diesefde. Tog bly ons behoefte en verlang na samesyn. Dan liefde in eenwees en alleenwees.
ReplyDelete