Fotos is my tonnel na vryheid
Waar ek kan ontsnap van die gekkigheid van hierdie wêreld
Waar ek kan inklim en na die lig toe kruip, ‘n ander wêreld, waar ek en ander saakmaak
Verlustig ek my aan die skoonheid van die mens
Besit ek vir ‘n oomblik ‘n 6 pack
Is ek van ‘n cowboy tot ‘n vegvlieënier
Staan die ’63 Apache what ek nog altyd wou gehad het, in my oprit
Volg ek die vlug van my 1150 orals waar daar stofpaaie is
Dit gee my ‘n blik op die wêreld van berge en dale, strome, mere en damme - waar ek nooit sal kom nie
Vlieg my gedagtes na sonsondergange en sonopkomste wat nie oorvertel kan word nie
Sien ek die detail van ‘n vlieg se oog, die skerpte van ‘n skerpioen se angel, die vlug van ‘n arend
Beleef ek die wel en weë van mense wat ek nie ken nie en ook nooit sal ontmoet nie
Ervaar ek honger saam met die kind wat vir mieliepitte in die grond krap en die uitbundigheid van ‘n “food fight”
Ek huil saam met die verweerde gesig van ‘n boemelaar en verwonder my aan die perfekte vel van ‘n sproetbevlekte gesig
Dit lig my siel as ek die grootheid van God se skepping sien en maak my wrewilrig as ek die vernielsug van die mense ervaar – besoedeling, oorlog, brassery, vermakerigheid, eiewaan en grootheidswaan; alles in prentjies met raampies – ‘n snapshot van die lewe
My tonnel na vryheid lei my na elke enkele emosie, spreek elke droom en vrees aan, laat my onthou van gister en maak my bewus van nou, met ‘n verwagting van more
My fotos vertel my storie, en die van ander ook
Ek was daar!
En die feit dat daar geen punte aan die einde van my sinne is nie sê doodeenvoudig; daar kom nog …
No comments:
Post a Comment