Monday, 18 November 2019

Naweek in Langebaan

"Sal oom 'n paar wyse woorde op ons troue spreek", vra Ryno - en dit is hoe 'n naweek in Langebaan begin.  Omdat dit so 'n belangrike geleentheid is, moet die boodskap reg wees, dit moet sê wat gesê moet word. 

Die boodskap word geskryf en herskryf, en uiteindelik vertel die maak van Damaskusstaal die verhaal van hoe 'n huwelik 2 mense vorm. Die seremonie is in Langebaan en soos gewoonlik is dit 'n buitengewone mooi plek om te wees. 


Ek gee vir hulle 'n bottermes van Damaskusstaal wat deur Koos handgemaak is. Die boodskap werk en baie mense sê dankie, 'n pasgetroude dame sê niemand het dit so aan haar verduidelik nie. Die bottermes word sommer ingespan om die troukoek te sny - hoekom nie? Die familie en gaste kuier lekker - more is nog 'n dag.




Ons ry deur die Langebaan Reservaat en stop by Seeberg - vroeër was dit 'n
uitkykpunt, nou 'n besienswaardigheid. Ongelooflike uitsig. Die natuurskoon is asemrowend.  Ek wonder of die wat die uitkykpunt moes beman, ook soos ons gevoel het - dat dit sooooo mooi is, of het hulle die tyd omgewens? Verlang na hulle gesinne?


Ons kry pad na Johan en Ansie, dominee van Rondebosch gemeente. Ons woon die aanddiens van Huis Lückhoff by.  "God is Liefde" sê die kansel.  Teen die muur is die teks en gesange opgesit - met letters wat inskuif, soos lank terug.  Ek hou daarvan.
Terwyl Johan uit Lukas preek kyk ek rond.  Oom Koos is die raakvat ouderling, maar sy knie bodder. 


Daar is planne om die Kapel op te gradeer - die tapyt het beter dae gesien, die mure kort aandag en die klank het dringend opgradering  nodig. 

Daar is blomme op 'n klein koffietafel.  Juliette speel die klavier en ons sing uit die Liedboek, 'n heel paar verse elke keer, soos lank gelede. Die dominee sê watter verse.  Sonder 'n sanggroep en allerhande instrumente. Ek hou daarvan - my aandag word nie afgetrek van dit waarmee ons besig is nie.


Daar is tyd vir stilte - maar ek word nie stil nie. Ek kan nie. Regs van my sit 'n oom en tannie - oud. Die oom is maar netjies aangetrek en sy stapstok lê oor sy been. Sy lippe beweeg soos hy bid.  Ek kyk by die venster uit - links onder is volledige woonstelle vir onafhanklikes, regs is drie verdiepings met kamers en teen die straat is die gedeelte vir die met Alzheimer.  Ek besef ons almal word oud - en net soos sommiges hier, kan jou kinders jou ook vergeet .... daar is niks fout met hulle fone nie, hulle het net vergeet.

Ons draai om huistoe, die lewe gaan aan.  Ons het gekom om 'n paar wyse woorde op 'n troue te spreek, ek gaan huistoe met 'n verstaan van ons vergetelheid. 

Soos die Prediker sou sê; alles is 'n gejaag na wind, wysheid is om God te dien.

Monday, 26 August 2019

Die Pyn van 'n Sukkelende Bidder!



HERE - ek probeer desperaat om aan wal te kom!
Om in U teenwoordigheid te sit.
Ek spartel soos 'n desperate drenkeling - wanhopig, om teen die rotse op te kom.
Om met die ritme van die golwe saam te werk - en soos 'n pikkewyn saam met 'n golf tot op land te spring! Sierlik.
Om veiligheid te bereik - U teenwoordigheid.

Maar telkens word ek deur die strome teruggetrek in die malende see - spartelend, skellend, elke keer meer stukkend!
Hoe lank nog, HERE - skree ek teen die rotse uit.
Hoor tog my gebed Here, kners ek. Luister, tog.
Gaan U toelaat dat die see my flenters slaan - fyn maal teen die rotse? 
Die rotse van hierdie lewe.
Hoe lank nog?
My genade is vir jou genoeg!  
Watter genade gil ek, as ek weer my greep verloor.
Watter genade?
Hoe lank nog?

En tog, sodra die oomblikke van blinde waansin versaak - raak ek, sukkelende bidder, stukkende mens - bewus van U teenwoordigheid.
U was en is teenwoordig teen die rotse en in die golwe - en ook in die oomblikke van kalmte.
Maar, my hart bly vra; waarheen Here? Hoe lank nog?

Sunday, 21 July 2019

Die Lig van 'n Kers


Related imageGeen hoeveelheid donker kan die lig van 'n enkele kers uitdoof nie.
Hoe meer kerse, hoe meer lig - donker sal altyd huiwer op die grens van lig, sluimerend, maar sal dit nooit kan uitdoof nie.
Al wat 'n vlam kan uitdoof is 'n gebrek aan suurstof.
Die kwaliteit van ‘n vlam – lig, helderheid en hitte – hang af van die kwaliteit van suurstof.
Suurstof is wat ons (mense) nodig het om te leef – dis die eerste ding wat ons doen na geboorte (haal asem) en die laaste dinge voordat ons vertrek (ons laaste asem uitblaas).
Die kwaliteit van ons lewensvlam (lig, helderheid en warmte) hang af van die suurstof wat ons inneem – dit wat ons lees, dit waarna ons luister, dit waarna ons kyk, die mense met wie ons gesels.
Hoe swakker die kwaliteit van dit wat ons inneem, hoe swakker die kwaliteit van ons lewenslig – hoe nader kruip die donker – hoe swakker is ons lig vir ander.
As ons toelaat dat ons lig uitdoof verloën ons ons doel op aarde – om lig en hoop vir ander te wees.
Geen hoeveelheid donker kan die lig van ‘n enkele kers uitdoof nie – en dalk is jy die enigste lig en warmte vir iemand anders – vandag!?

Wednesday, 10 July 2019

RIP

James Small is op 50 jarige ouderdom aan 'n hartaanval oorlede. Ek weet net van hom as gevolg van sy rugby. 50 is jonk!
Vanoggend val die gedagte my aan - "as ek vandag die brug oorsteek, vir wie gee ek my boeke en elektroniese biblioteek?" Sorgvuldig oor die jare opgebou  - boek vir boek en artikel vir artikel, waarin ek soveel bevrediging vind.
En as hulle dit vat, gaan hulle ooit daarna kyk?
En indien hulle daarna kyk, sal hulle dit doen met 'n "kyk wat het (oom) Johan vir my gegee" of sou hulle daardeur peins op soek na dieselfde insigte wat ek oor jare bymekaargemaak het?
Dit is soos die Prediker sê; "dit is alles 'n gejaag na wind".
Laat ons goed besin oor wat werklik belangrik is.
Sodat ons ook kan rus in vrede.
RIP James - jy het 'n barshou rugby gespeel.

Tuesday, 9 July 2019

13 of Dertien

Nommers is belangrik.  
Allerhande betekenisse word daaraan geheg. 1 = eerste. 3 = derde wiel aan die wa. 365 = Good Year. 13 de - horror, ongeluk, tragedie; en saam met 'n Vrydag, nog erger. En so aan.
Totdat jy uitgedaag word om 'n storie oor 13 te skryf .... dan moet jy Mindful met 13 omgaan. Bewustelik.
13 het vir my 'n interresante betekenis.  Ek is op die 13 de gebore, getroud, my lisensie gekry.  Het selfs my eerste graad op Vrydag die 13de gekry.  Ilke is op 31 Julie gebore - 13 omgekeer, Julie = 7de maand en 7 = die perfekte getal.
Saterdag gaan ek gas koop - 1 klein botteltjie en 3 grotes. 13. Ek laai my bottels in die kar en sien 'n ou omie wat syne uitlaai; ek gryp gou syne en dra dit na ontvangs - hy sê dankie met 'n handdruk. 1 goeie daad.
Sondag - gaan saam met Moeksie en Ilke winkels toe. Terwyl hulle die rakke
bestorm gaan ek 3 wegneem Cappuccino's koop, teen R31 elk, geplaas in 1 dra houer ... 13?
Ek kyk na my witbord teen die muur en daar staan: jy het net 1 lewe en 3 magte (powers) .... 13 .... goed waaroor jy beheer het, goed wat jy kan beinvloed en goed waaroor jy geen beheer het nie. Interresant is dat ons onsself die meeste bekommer oor die goed waaroor ons geen beheer het nie.
M is die 13de letter van die alfabet. M is ook die voorletter van my ma ... Martha, Marius, 'n vriend en sakeman, Marina - kollega wat nou in Duitsland woon, Mercia - mede gebedskryger.
Vir oulaas staar ek na my witbord teen die muur - en 'n nuwe uitdaging kom na vore in 13 letters - "Mastery of Self".
Halloween groete.......


MooiLoop.

Sunday, 23 June 2019

Stay Alive and Come Back to Me

"Stay alive and come back to me!"
Dis die uitroep van die jong dame aan Tolkien net voor hy op die boot klim om teen die Duitsers te gaan veg.  Wêreld oorlog. Duisende sterf daagliks.
"Stay alive and come back to me" is ook derduisende kere deur moeders en vaders en vrouens en meisies gesê, aan jong manne wat oorlog toe gaan.
Oorlog wat geromatiseer word, heldeverering vir die wat terugkeer. Medaljes vir die dapperes. Parades vir die gesneuweldes. Begraafplase met wit kruise - militêr presies in reguit lyne geplant, met naambordjies, sodat ons nie moet vergeet nie. En tog vergeet ons.
'n Vlag en 'n handdruk vir die weduwee. 'n Kopknik vir die kinders. 'n Handdruk vir die vaders. Dan gaan ons aan - duty calls. Die vyand wag vir niemand.
Vyande wat deur politisie en fundamentaliste en gierigaards geskep word. Oorlog is goeie besigheid. Oorlogverklarings wat deur selfgesentreerde vet omies met bolkuile uitgereik word. Opdragte wat deur generaals ver agter die gevegslyne gegee word. Maar dis jong manne wat uit die loopgraaf moet klim, wat die vyand moet bestorm, wat die sneller moet trek, wat dood in die oë moet staar. En as hy gelukkig is om huistoe te gaan, geestelik stukkend  sukkel om die pyn en woede te verwerk.
Oorlog het geen wenners nie, net verloorders.
En so sterf geslagte vir die ideale van ander.
En tog, wanneer alles stil raak en die gemoedere kalm, wanneer jy in die lig van 'n kers voor die voete van jou God sit, dan raak alles 'n skaduwee, 'n mistigheid, en 'n nuwe hoop word gebore.  Hoop gebasseer op iets wat ons nie verstaan nie. Liefde wat ons nie ken nie. En 'n vrede wat ons verstand tebowe gaan, word gebore.
God, die groot opdraggewer, se opdrag is liefde; en Hy sterf self in die uitvoering daarvan.
En waar ek nou is, verstaan ek weereens dat dit Christus is wat ook roep dat ons na Hom toe terug moet kom.
Gaan kyk die fliek - Tolkien.

Friday, 21 June 2019

Pitsere - of "Boils" soos die Engelse sou sê!


Pitsere, het my ma gesê, kry jy wanneer jou bloed vuil is.
Om jou bloed skoon te kry, moet jy jou sisteem skoonkry.  Om jou sisteem skoon te kry moet jy Engelse Sout gebruik (dis nou as ek reg kan onthou).  Dan kan jy hulle uittrek deur 'n glasbottel wat warm gemaak is, daaroor te druk.  'n Vakuum word in die bottel gevorm en suig die pit uit.  Morsig. Vrek seer.


Soms, as jy een van die ongelukkiges is, kry jy ‘n “sewe kop pitseer”.  
Logies, dis wanneer daar sewe pitte in een seer is. Nagmerrie. En hulle moet almal uit.  Deur een gat. Een na die ander.  Een op ‘n slag.
Dan moet die wond van binne gesond word!


As jy kyk die aanstellings wat die ANC regering nou weer gemaak het is dit duidelik dat hulle nie die sisteem skoon kry nie. Cyril sout lyk my is nie sterk genoeg nie – want dieselfde koppe kom weer tevoorskyn, net op ander plekke.
En die vorige wonde is nog nie eers gesond nie!