Tuesday, 22 January 2019

Week van Gebed

Dis vroeg Januarie en ons begin die jaar op ons knieë.
Ons hou 'n gebedsweek en Ds Martin gesels met ons oor die gesindheid en nodigheid van gebed.
Ons moet nie soos die Fariseers bid nie - op die straathoeke en met 'n groot omhaal van woorde.  Maar dis hoe hulle dit gedoen het, want dis hoe hulle geleer is - jy moet beindruk, mens en God.  Ek wonder - wat is dit wat ons vandag doen met die insig wat ons het - wat oor 'n jaar of 100 oor gefrons sal word.
Dis soos die Afrikaanse boer vir die Engelse meisie sê - jy is mooi, maar jy is Engels, dis moeilik!
Ons moet eerder soos die tollenaar bid - sonder opkyk, met die hand op die hart, vergewe my sondaar - asseblief.  Rou, eenvoud, sonder baie woorde. Sê wat jy bedoel.  Maar self dit is moeilik.  Gelukkig vul die Heilige Gees in waar ons tekort skiet - ek dink in my geval word alles ingevul wat tussen "Liefdevolle God" en "Amen" kom.
Ek bekyk ons kerk - daar is baie ruimtes. 'n Ruimte waar die dominee kan opdraf en sy ding doen, 'n ruimte waar daar gebid en kerse opgesteek kan word, 'n ruimte waar die voorsangers staan ..... en daar is 'n ruimte in my seerkry hart wat volgemaak wil word.
Ek sien - om geen verklaarbare rede - die boeresaal in Blumfelde, net anderkant Derm, in Namibia - waar die boeregemeenskap gereeld bymekaargekom het vir preke, biddienste en vergaderings; politiek, oorlog, droogte en boerdery vergaderings. 'n Sink skuur om die minste daarvan te sê, waarvan die kante soos vlerke opgelig kan word. Heeltemal horisontaal sodat daar 'n briesie kan deurkom om die versengende Desember hitte beveg. Met twee puttoilette, ook van sink, langs mekaar op die rivierwal - om te verseker dat daar verligting kan wees as die natuur roep.  En hy roep. Almal.
Ek wonder hoeveel gebede is daar al gebid. Terwyl die sweet van die bidders afdrup - dalk omdat dit warm is, dalk omdat die moeilikheid groot is.  Soos Jesus se sweet wat in bloed verander het.
Ek wonder hoeveel van daardie gebede is verhoor? Hoe vurig die omies kon bid - met 'n groot omhaal van woorde, asof hulle vergeet het dat God weet, asof hulle vergeet het om Amen te sê.
Ek buig my hoof en ek word stil, ek wonder of God hoor - soms twyfel ek, dis moeilik!
Dis gebedsweek - ons begin die jaar op ons knieë! In afhanklikheid.



Sunday, 20 January 2019

Oom Johan, die Voorman en die Bybel

Oom Johan stap al verby 80, 84 om presies te wees - maar nog steeds regop en fors, met sy hare perfek gekam en voorarms waarvoor Popeye skrikkerig sou wees.
Hy was nog altyd 'n man wat sy geloof en die Bybel baie ernstig opgeneem het, en daarom is dit nie snaaks dat die gou deel van enige gesprek raak wanneer hy in die omtrek is nie.
Soos dit maar met almal gaan, haal die jare ons in, en kort voor lank moet ons uit die groot woonhuis met die groentetuin trek, na 'n meer geskikte huis met minder uitdagings. So bly oom Johan deesdae oos van Windhoek in 'n estate, met sy rug teen die lyndraad, en op 'n goeie dag kan hy die stad sien.  Die wind waai altyd daar. Soms staan die wild van buite en kyk na die mense en hulle dinge in die binnekant van die draad - wat hulle moet veilig hou.
In estates is daar altyd 'n gekap en 'n gebou, en hier is dit niks anders nie. En waar daar gebou word is daar voormanne en arbeiders - baie voormanne is Basters en baie arbeiders is Ovambos. In die sweet van jou aangesig sal jy 'n ander man se huis bou.
Dis ook nie lank nie of daar is 'n paar arbeiders wat oom Johan raakloop en gou loop die woord dat jy 'n Bybel by oom Johan kan kry.
Man met inbors wat hy is, aanvaar hy geen besoeke buite etenstyd nie, en moet die manne eers werk voor hulle by oom Johan 'n draai kan maak. Saam met die Bybel gaan daar dan ook gesprek oor die Woord.
Weerbarstig vra 'n voorman toe mos  vir oom Johan "wat maak jy", want die manne moet werk. Dis toe dat oom Johan met 'n ystere kalmte vir die voorman aandui dat die etenstyd is - en met 'n vraag opvolg ..... "het jy 'n Bybel?"
"Ja, ek het" is die antwoord!
"Nou lees hom dan" volg die aanbeveling soomloos.
Einde van gesprek.

Sunday, 2 December 2018

Kersfees kom!

Dis Sondag. Oggend. Dis reeds vrek warm.
Dis ons jaarlikse Kerssangdiens.
Die weerlig het ons krag uitgeslaan - dit gee 'n nuwe betekenis aan kers sangdiens.
Die musiekbediening is buitengewoon, soos gewoonlik.

Ons sing lekker - maar my hart bloei
Kersfees kom ..... vir wie?  In die straat kruip 'n sonverbrande man weg agter 'n bord wat lees ... 'ek weet ek is net 'n stuk gemors ....' - ek lees nie verder nie want dis tyd om te ry.
Gee aan God die eer .... regtig? Doen ons dit?
Gee aan ons 'n helder somer Kersfees, O heer .... ek huil - die beelde van droogte en verhongerde, dors diere; hongersnood maal in my kop.
Die kindjie bring vir ons 'n boodskap van vrede ..... ere aan God en vrede op aarde .... en ons leiers predik die teenoorgestelde - land or death, kill the boer, disappropriation, Sasol en Discovery verdeel die land met aandele as jy die regte kleur is. Ons sing vrede maar pleeg misleiding en verdeling - want die doel heilig mos die middele.
O God ons verlange .... regtig? Is ons land verteenwoordigend van hoe 'n Christelike volk leef?
Stille nag, heilige nag .... en iewers is daar boere wat nog 'n nag vrees, iemand wat te bang is om in die donker te loop, rampokkers en hooggeplaasdes wat geweld en bedrog beplan.
Ek huil in my binneste - maar met 'n glimlag op my gesig stap ek gemeente tee toe.  Daar is koek.
My seun is oppad huistoe - God reis saam met hom, dankie.
Ons gaan aan.

Tuesday, 23 October 2018

Retraite - Om stil te word

Vrydagmiddag,15h30, dis tyd om te ry. Die verkeer is alreeds 'n gemors. Terwyl almal haastig oppad huistoe is, is daar altyd een of ander ou wat deur rustigheid aangeval word, of 'n taxi wat 'n passasier wil op of aflaai - natuurlik op 'n plek wat jou tonteldoos aan die brand sal steek.

Die tolpad oppad na Brits is 'n blessing, twee betalings later en Saartjies Nek deur, draai ek by Jasmyn af - 'n naweek van stilte en meditasie is my voorland. Ons trek in  by die Good Sheppard Retraite waar die rustigheid reeds sy sagte hande oor jou gemoed streel.

Ons kom bymekaar, 12 mense wat 'n behoefte het om meer te leer van mediteer en stilte, ons groet mekaar en deel ons verwagtinge - ons almal wil leer en God ervaar. Dis Corne se eerste keer, sy sê sy het gekom sonder verwagtinge, sy is net hier. Belinda soek vrede, die vrede wat stilte gee.

Dis tyd om fliek te kyk maar die tegnologie wil nie saamspeel nie, gelukkig kom die jongelinge onder ons tot ons redding, Melanie kry die fliek aan die gang. The Note verras ons met baie lesse en paralelle. Ons leer dat almal 'n oor nodig het om te luister, ons almal is op 'n reis, God is oral en kan in die grootste toevallighede gesien word. Uiteindelik weet ons dat dit nie die nota is wat belangrik is nie, maar die boodskap - God se boodskap is liefde.  Daar is mos die teks wat mooi verduidelik "wees stil en weet Ek is God".
Saterdagoggend 06h00 sit ek buite en word stil - alles is kristal helder. Ek hoor die bobbejaan blaf en 'n roering in die bosse. 
Waarom mediteer ek lei tot 'n heerlike gesprek. Ons het 'n Adoramus diens en Barry begelei ons. Sagte, herhalende musiek en sang kalmeer die gemoed en maak dit maklik om stil te raak. Maranatha is ons gebedswoord. 
Almal is dit eens - ons mediteer of word stil omdat ons nader aan God wil kom. Almal deel hulle ervarings - Chris deel graag en selfs Corne neem deel sonder om haar hand op te steek.


Maar ons hier om te leer en te oefen - ons bespreek die Lectio Devina, 'n raamwerk oor hoe om meditasie en stilwees aan te pak. Die span word gevra om na middagete toe te pas wat ons geleer het. Romeine 12 is die teks. Lees dit, herhaal dit, dink daaroor, bid daaroor en word stil. En kom vertel ons wat is die ervaring.
Ons kry 'n besoeker, 'n pragtige, 50cm lange groen mamba seil by die deur in en onderdeur die een ry stoele. So kalm soos 'n daggawalm sê ek vir Alta sy moet net doodstil sit, maar sy doen absoluut die teenoorgestelde - konsternasie. Gelukkige verwyder ons die outjie sonder bloedverspilling of kwade gevoelens. Die dames bly egter senuagtig - loop maar rondkyk-rondkyk.
17h00 kom ons bymekaar, sleep die boontjiesakke na buite en gesels met 'n koppie boeretroos. Almal het 'n storie om te vertel. Ons lag ons krom vir Alta se onderbroek storie. Dis goed om 'n gelowige te wees. Dis goed om te weet dat ons mag lag en normaal wees. Ons gee terugvoer. Koos verduidelik meditasie is 'n wilskeuse en hy visualiseer om gefokus op God te kan wees. Hy het sy eie gebed wat afsluit met Jesus Christus, Seun van God, wees my genadig. 
Corne drink almal se insette in. Belinda het nie geoefen nie, sy het net gerus. Barry het gesukkel met die bid, want hy het reeds die boodskap gekry wat hy soek - ongeduldig. Van ons het die kapel besoek - met die deur oopgeskuif trek daar 'n windjie deur; ons sien die dam in die verte. God is ook in die wind te vinde. Melanie sê dit het presies 10 minute lank gereën, dit het begin en gestop saam met haar timer. Elisna en Retha, Koos en Gerda het in hulle kamers gebly - dis stil daar. 
Dis goed so - ons is al almal verskillend, maar saam voor God. Ons probeer.

Saterdagaand. Eucharistie. Nagmaal in stilte. Ons kom in en sit - in stilte. Ons steek kerse aan en herinner onsself daaraan dat Jesus lig is. Selfs die grootste duisternis kan nie die lig van een kers uitdoof nie. Ons gebruik brood en wyn, ons bid en lê onsself bloot voor God. Daar is trane. Dis goed. Koffie na die tyd en gesels, nuwe vriendskappe word gesmee. 
Community. Fellowship. Is dit nie waaroor dit gaan nie?





Sondagoggend, dis tyd om af te sluit en huistoe te gaan. Ons hou vir oulaas 'n Adoramis diens en almal gee terugvoer. Dit was goed, almal het geleer, die nuwelinge is bly hulle was daar. Corne sê sy kom weer. Ons bespreek weer ons plek vir volgende jaar.
Ek wonder oor - Sound is not the absence of silence, silence is the absence of sound.
Om te kan leer moet jy luister, om behoorlilk te luister moet jy stil wees.

Ds Johan, jy het ons mooi geleer - dankie. 
Volgende jaar weer! MooiLoop.





Sunday, 2 September 2018

Bid vir ons

Moeksie is haastig, moet gou by SPAR inhardloop voor kerk, die kinders kom oor vanmiddag - veral die kleinkind ...
Die kassier vra of sy oppad kerk toe is.
Ja, antwoord Moeksie.
Bid  vir ons, vra sy. You must pray.
Kerk toe, dis doop vandag, en die doopoupa verjaar ook nog.
Ons koek en tee en gesels - huistoe, die kinders is oppad.
Ons braai en kuier en die kinders vertrek.
Wat bybly is die vrou wat vra dat ons moet bid.
Sy is reg, ons moet bid.
"You must pray".
Ons maak so. Dankie.

Thursday, 23 August 2018

Die Dood van 'n Bedelaar

Ek hoor gister hy is dood
Die bedelaar - die bedelaar by die Garsfontein afrit
Verlede week
Hy het in die pad gesit, kop gebuig
Geen oogkontak, vuil, met sy kombers
In die pad - ook wanneer dit donker was
Moeilik om te sien - dit was seker 'n kwessie van tyd
Al wat oor is, is 'n bietjie bloed op die teer
Sy kombers en bottel is nog daar, 'n week later
Photo credit Google

Ek wonder wie mis hom?
Is daar dalk iemand wat wag?
Weet die owerhede wie op die staalblad le - het hy 'n naam?
Of ... gaan hy wat onbekend gelewe het, ook onbekend begrawe word?

Ek wonder of hy, net soos my kinders, ook drome gehad het?
Gewonder het oor 'n betekenisvolle lewe, net soos ek?
Woedend geword het oor die onregverdige lewe, net soos ons?
Shame - hoor ek
arme man - seg iemand anders

Die bedelaar is dood
'n Ander het sy plek gevat
Op sy kniee, met 'n vuil kombers
Hy kyk ook nie op nie!

Monday, 30 July 2018

Dom Moedswillig


Vra SlapSarel vir my of dom en moedswillig dieselfde is?  Hy vra altyd moeilike vrae wat jy op sewe maniere kan antwoord.
Hy reken hy het nog altyd gedink dit is, maar vermoed nou hy is verkeerd – dis nou nadat hy met sy seun gesels het…
So die vraag is; is dom = moedswillig?
Dom kan heel moontlik na IK verwys, wat heel moontlik kan verbeter as ‘n person aan sekere goed blootgestel word en hy/sy meer leer!  Meer leer beteken dat jou brein ingespan moet word om nuwe kennis en/of vaardighede te verwerf.  Daarom is dit moontlik om dom te wees en oor tyd minder dom te word, of slimmer as jy dit so sou verkies.
Dit is egter ook moontlik dat ‘n person baie geleerd kan wees – maar besonders dom optree.  Soms omdat hy/sy moedswillig is!
Moedswillig is meer ‘n houding – ‘n attitude.  Moedswillig is soos om teen goeie kennis en insig in ‘n bepaalde teenproduktiewe manier op te tree, net omdat dit jou pas – met ander woorde ‘n negatiewe selfsug dryf gedrag.  Of dom gedrag!
“Competence” of bevoegdheid bestaan (Johan sê so) uit kennis (knowledge), vaardighede (skills) en ervaring (experience) – en baie belangrik ….. houding (attitude)!
Daarom kan jy baie slim en vaardig en ervare wees, met ‘n baie swak (crap) houding; of jy kan enige verhouding van slim/dom, vaardig/onvaardig en ervare/onervare wees, met ‘n goeie houding.  Goed = positief betekende "can do", "never say die", tegemoedkomend, leergierig, ensovoorts …. julle verstaan mos.
Daarom kry jy baie bevoegde mense wat sukkel omdat hulle swak houdings het, en baie mense wat onbevoeg geag word as gevolg van ‘n gebrek aan formele kwalifikasies – wat uitstekend doen.
Wat jou aanvaarbaar maak is nie hoe slim jy is nie, maar eerder wat jou houding is – teenoor jouself en ander.
Dom en moedswillig is definitief nie dieselfde nie – maar eerder hoe jy met jou domgeit in jou slimgeit omgaan!
So sê ek – Johan