Tuesday 23 October 2018

Retraite - Om stil te word

Vrydagmiddag,15h30, dis tyd om te ry. Die verkeer is alreeds 'n gemors. Terwyl almal haastig oppad huistoe is, is daar altyd een of ander ou wat deur rustigheid aangeval word, of 'n taxi wat 'n passasier wil op of aflaai - natuurlik op 'n plek wat jou tonteldoos aan die brand sal steek.

Die tolpad oppad na Brits is 'n blessing, twee betalings later en Saartjies Nek deur, draai ek by Jasmyn af - 'n naweek van stilte en meditasie is my voorland. Ons trek in  by die Good Sheppard Retraite waar die rustigheid reeds sy sagte hande oor jou gemoed streel.

Ons kom bymekaar, 12 mense wat 'n behoefte het om meer te leer van mediteer en stilte, ons groet mekaar en deel ons verwagtinge - ons almal wil leer en God ervaar. Dis Corne se eerste keer, sy sê sy het gekom sonder verwagtinge, sy is net hier. Belinda soek vrede, die vrede wat stilte gee.

Dis tyd om fliek te kyk maar die tegnologie wil nie saamspeel nie, gelukkig kom die jongelinge onder ons tot ons redding, Melanie kry die fliek aan die gang. The Note verras ons met baie lesse en paralelle. Ons leer dat almal 'n oor nodig het om te luister, ons almal is op 'n reis, God is oral en kan in die grootste toevallighede gesien word. Uiteindelik weet ons dat dit nie die nota is wat belangrik is nie, maar die boodskap - God se boodskap is liefde.  Daar is mos die teks wat mooi verduidelik "wees stil en weet Ek is God".
Saterdagoggend 06h00 sit ek buite en word stil - alles is kristal helder. Ek hoor die bobbejaan blaf en 'n roering in die bosse. 
Waarom mediteer ek lei tot 'n heerlike gesprek. Ons het 'n Adoramus diens en Barry begelei ons. Sagte, herhalende musiek en sang kalmeer die gemoed en maak dit maklik om stil te raak. Maranatha is ons gebedswoord. 
Almal is dit eens - ons mediteer of word stil omdat ons nader aan God wil kom. Almal deel hulle ervarings - Chris deel graag en selfs Corne neem deel sonder om haar hand op te steek.


Maar ons hier om te leer en te oefen - ons bespreek die Lectio Devina, 'n raamwerk oor hoe om meditasie en stilwees aan te pak. Die span word gevra om na middagete toe te pas wat ons geleer het. Romeine 12 is die teks. Lees dit, herhaal dit, dink daaroor, bid daaroor en word stil. En kom vertel ons wat is die ervaring.
Ons kry 'n besoeker, 'n pragtige, 50cm lange groen mamba seil by die deur in en onderdeur die een ry stoele. So kalm soos 'n daggawalm sê ek vir Alta sy moet net doodstil sit, maar sy doen absoluut die teenoorgestelde - konsternasie. Gelukkige verwyder ons die outjie sonder bloedverspilling of kwade gevoelens. Die dames bly egter senuagtig - loop maar rondkyk-rondkyk.
17h00 kom ons bymekaar, sleep die boontjiesakke na buite en gesels met 'n koppie boeretroos. Almal het 'n storie om te vertel. Ons lag ons krom vir Alta se onderbroek storie. Dis goed om 'n gelowige te wees. Dis goed om te weet dat ons mag lag en normaal wees. Ons gee terugvoer. Koos verduidelik meditasie is 'n wilskeuse en hy visualiseer om gefokus op God te kan wees. Hy het sy eie gebed wat afsluit met Jesus Christus, Seun van God, wees my genadig. 
Corne drink almal se insette in. Belinda het nie geoefen nie, sy het net gerus. Barry het gesukkel met die bid, want hy het reeds die boodskap gekry wat hy soek - ongeduldig. Van ons het die kapel besoek - met die deur oopgeskuif trek daar 'n windjie deur; ons sien die dam in die verte. God is ook in die wind te vinde. Melanie sê dit het presies 10 minute lank gereën, dit het begin en gestop saam met haar timer. Elisna en Retha, Koos en Gerda het in hulle kamers gebly - dis stil daar. 
Dis goed so - ons is al almal verskillend, maar saam voor God. Ons probeer.

Saterdagaand. Eucharistie. Nagmaal in stilte. Ons kom in en sit - in stilte. Ons steek kerse aan en herinner onsself daaraan dat Jesus lig is. Selfs die grootste duisternis kan nie die lig van een kers uitdoof nie. Ons gebruik brood en wyn, ons bid en lê onsself bloot voor God. Daar is trane. Dis goed. Koffie na die tyd en gesels, nuwe vriendskappe word gesmee. 
Community. Fellowship. Is dit nie waaroor dit gaan nie?





Sondagoggend, dis tyd om af te sluit en huistoe te gaan. Ons hou vir oulaas 'n Adoramis diens en almal gee terugvoer. Dit was goed, almal het geleer, die nuwelinge is bly hulle was daar. Corne sê sy kom weer. Ons bespreek weer ons plek vir volgende jaar.
Ek wonder oor - Sound is not the absence of silence, silence is the absence of sound.
Om te kan leer moet jy luister, om behoorlilk te luister moet jy stil wees.

Ds Johan, jy het ons mooi geleer - dankie. 
Volgende jaar weer! MooiLoop.





No comments:

Post a Comment