Thursday, 1 February 2018

Wisdom Born out of Trauma

The human, as part of life, will experience, endure and survive trauma.  Trauma being any deeply distressing or disturbing experience.  Fortunately, we are genetically encoded to let go of and recover from trauma.  However, trauma does show the fragility, instability and vulnerability of our humanity.

Sometimes a person will, due to a traumatic experience(s), be forced out of their old way of thinking into a new way of being – resulting in a natural way of evolution.  The old way of thinking and relating no longer suffice, hence the need to adapt.

Only by letting go can we unlock ourselves from the past, be delivered into the future and prepare ourselves for our next evolutionary experience.

“I do not wish tragedy on anyone but ever since that accident, I never fail to tell my wife I love her. I kiss my children every day.  Life is richer, fuller and deeper than I ever have experienced.  It has more meaning and depth that it ever had before.” (Unknown)

So here is my question – if you read this and shook you head saying or thinking that this is true; why do YOU continue on your old path and stay locked in the past? 

Please, do not wait for trauma to claim the future


Change your thinking now – let go of the past.

(From the work of Dr Berceli)

Tuesday, 30 January 2018

Dubbele Standaarde

Wanneer daar verskillende reels is vir verskillende mense in dieselfde omstandighede.

Ons ken dit goed - ek mag sekere goed doen, maar as iemand anders dit doen dan is dit verkeerd.  Byvoorbeeld - ouens wat vinniger as jy ry is maniake en die wat stadiger as jy ry is idiote.  

Dubbele standaarde.

So lees ek vanoggend in die Beeld van Ouma Lies wat reken Roger Fereder, wat sy 20ste Grand Slam gewen het, is seker al 'n miljarder en moet van sy prysgeld vir liefdadigheid skenk.  Waarskynlik goed bedoel, maar dan kan ek aanspraak maak op jou salaris, want as jy meer as Rx verdien is jy ryk en daarom moet jy jou geldjies deel.
Wengeld is salaris vir ander.

Dan trek ons die wat hard werk en presteer, en daarvoor beloon word af sodat ander opgetel kan word ....

As ek van Federer verwag om 'n deel te gee, kom ons se 10%, gaan jy jou hand in die sak druk en 10% ook ingooi?  Is dit 'n ongeldige argument, moontlik, maar in beginsel kan jy nie van een ou verwag wat nie van 'n ander in gelyke maat verwag word nie.

Hoekom word rugby spelers meer betaal as swemmers?  Hoekom sukkel paalspringers om borge te kry terwyl naellopers makliker kry?  Vraag en aanbod, sal ek dink. Opportunity.  Hoekom word sokkerspelers vir miljoene verkoop en veerpyltjies maak dit nie uit die kroeg uit nie (hipoteties natuurlik)?

En so kan ek aangaan.
Ek het 'n kleintjie dood aan dubbele standaarde - en so is ek self 'n meester daarvan.
Ons moet mooi dink voor ons reels maak vir ander.

Sunday, 28 January 2018

Goed en Swaar is Bure!

Ek lewer verlede Vrydag 'n motiveringspraatjie oor "Hoe om Gemotiveerd te Bly en Veerkragtigheid". Resilience - vir die wat frons.

Die groep trek swaar, dis vroeg in die nuwe jaar en die donker wolke hang.
Hoe motiveer jy mense wat in die spreekwoordelike dal van doodskaduwee is - jy kan nie!

Dis toe dat ek vir hulle vertel van hoe k@k (net so) dit met my gaan.  Verbasing, die ou wat hulle moet vertel van motivering pak op hulle af.  Toe ek die groot woord weer gebruik is daar 'n paar fronse en toe ek nie ophou nie kon ek verwarring op 'n paar gesigte sien.  Wat nou?

Ek vertel hulle van my vriend wie se vrou oorlede is en wat baie swaartrek.  Ek vertel hulle van 'n vriend wie se vrou Woensdag gehoor het die kanker is terug. Ek vertel hulle van 'n vriend van my wat sommer net doodgegaan het - stres en 'n gevolglike hartaanval.  Ek vertel hulle van my seun wat nie werk het nie en my kontrak wat amper op 'n einde is.
Want sien - as jy vir iemand vertel van jou moeilikheid, dan sal daar altyd iemand wees wat vir jou sal se; jy het nog nie van my moeilikheid gehoor nie .... en dan sal die volgende mater sy deeltjie bylas - want ons moet mekaar tog altyd oordoen.

(Image from Pinterest)
En toe vertel ek hulle van 'n klient wat Donderdag vir my vertel sy is in remissie, ek vertel hulle van my ma wat al 16 jaar skoon is, ek vertel hulle van Retha, wat ongeag haar hartseer aangaan met haar lewe. En nog.

Ek vertel hulle dat goedgaan en sleggaan bure is - hulle bly langs mekaar.  Daar is altyd, orals, goed en sleg.

Ek vertel vir hulle dat ek hulle nie kan motiveer nie - dis hulle besluit.  Ek vra hulle om te begin gee wat hulle het - tyd, liefde aandag, betrokkenheid, om 'n klein verskil iewers te maak.  Kry 'n purpose! Maak planne! So sal die positiewe energie wat hulle skep, terugkeer na hulle toe.  Want sien, sodra ons opkyk van die stofpad voor ons, kan ons dalk die lig in die verte sien, kan ons dalk die verskil sien wat ons maak - met niks, net met liefde.

Ek vra hulle om seker te maak dat die goed wat hulle kan doen, nie deur die dinge wat hulle nie kan doen nie, oorskadu word nie.  Ek vra hulle om anderkant hulle huidige moeilikheid te kyk, waar hulle graag wil wees, en hulle energie daar te gaan haal.  Ek vra hulle om te soek vir die goeie in hulle lewens, nou, veral daar waar hulle dink dit gaan net swaar.

Goed en swaar bly langs mekaar - by 'n robot staan 'n bedelaar langs 'n Porche, in die winkelsentrum staan "ryk" en arm in dieselfde ry, in 'n hospitaal hardloop mense bekommer in, terwyl ander op dieselfde oomblik bly is om ontslaan te word.

Ek kan jou nie motiveer nie - maar ek kan jou vertel wat gedoen kan word om gemotiveerd te lewe.  As jy wil luister. Uiteindelik maak die swaar nie saak nie, net die goeie gaan aan.  

Dit gaan regtig nie so sleg met ons nie!

Friday, 22 September 2017

Fotos is my Tonnel na Vryheid

Fotos is my tonnel na vryheid
Waar ek kan ontsnap van die gekkigheid van hierdie wêreld
Waar ek kan inklim en na die lig toe kruip, ‘n ander wêreld, waar ek en ander saakmaak
Verlustig ek my aan die skoonheid van die mens
Besit ek vir ‘n oomblik ‘n 6 pack
Is ek van ‘n cowboy tot ‘n vegvlieënier
Staan die ’63 Apache what ek nog altyd wou gehad het, in my oprit
Volg ek die vlug van my 1150 orals waar daar stofpaaie is
Dit gee my ‘n blik op die wêreld van berge en dale, strome, mere en damme - waar ek nooit sal kom nie
Vlieg my gedagtes na sonsondergange en sonopkomste wat nie oorvertel kan word nie
Sien ek die detail van ‘n vlieg se oog, die skerpte van ‘n skerpioen se angel, die vlug van ‘n arend
Beleef ek die wel en weë van mense wat ek nie ken nie en ook nooit sal ontmoet nie
Ervaar ek honger saam met die kind wat vir mieliepitte in die grond krap en die uitbundigheid van ‘n “food fight”
Ek huil saam met die verweerde gesig van ‘n boemelaar en verwonder my aan die perfekte vel van ‘n sproetbevlekte gesig

 Sien ek die uitputting op ‘n brandweerman se gesig en beleef ek die vrees van ‘n soldaat

Dit lig my siel as ek die grootheid van God se skepping sien en maak my wrewilrig as ek die vernielsug van  die mense ervaar – besoedeling, oorlog, brassery, vermakerigheid, eiewaan en grootheidswaan; alles in prentjies met raampies – ‘n snapshot van die lewe
My tonnel na vryheid lei my na elke enkele emosie, spreek elke droom en vrees aan, laat my onthou van gister en maak my bewus van nou, met ‘n verwagting van more
My fotos vertel my storie, en die van ander ook
En wanneer ek nie meer kan praat nie, of verhuis het, dan sal my fotos vertel – ek was daar
Ek was daar! 

En die feit dat daar geen punte aan die einde van my sinne is nie sê doodeenvoudig; daar kom nog

Friday, 15 September 2017

'n Kultuur van Respek

Ek kry ‘n paar aande gelede ‘n video waar die aanbieder aangaan oor Japan, en hoe lekker dit in Japan is en hoe goed mense daar behandel word.  Ongeag hoe waar alles is wat hy gesê het, was daar iets treffends – sy opmerking was dat daar in Japan “’n Kultuur van Respek” is.

Dit het vasgesteek – en skielik maak baie dinge sin (of nie).  In ons land en in die oorgrote deel van die wêreld is daar ‘n kultuur van disrespek, ‘n kultuur van onverdraagsaamheid (intolerance).  Dink daaroor, en wat nou volg is verseker ‘n baie breë kwas, of vir die wat nog nie seker is wat ek bedoel nie – ek gaan nou verskriklik veralgemeen.  En dis hier waar “as die skoen jou pas” ter sprake kom.

Ouers respekteer nie gesag nie. Kinders respekteer nie ouers nie. Ouers respekteer nie onderwysers nie.  Daarom respekteer kinders nie onderwysers nie.  Ouers respekteer hulself nie, anders sou hulle waarskynlik ‘n groter poging ingesit het om hulle kinders met dissipline groot te maak en nie verwag dat onderwysers dit moet doen nie.  Ouers maak van afrigters ‘n grap en die kleinspan volg onmiddelik.

Die publiek respekteer nie die polisie nie, ook nie die regering nie, ook nie die kerk nie.  Nie een van die drie respekteer die publiek nie.  Taxis probeer oral indruk en ons probeer hulle oral uithou – respek, verdraagsaamheid?  Die wet (rule of the law) word nie gerespekteer nie, nie deur Jan Publiek of die mense wat aangestel is om dit af te dwing nie.  Die wat het, respekteer nie die wat nie het nie, en die wat nie het nie, respekteer nie die wat het nie.  Die wat vinniger as jy ry is onverskillig en die wat stadiger as jy ry is idiote.

Almal wil hê en min wil werk daarvoor.  Meeste mense wil kits-rykdom, kits-verhoudings, kits-sukses, hê.  Meeste wil eet wat hulle wil en drink soveel hulle kan, maar die bank mag nie leegloop nie en jou pens mag nie oor jou toekoms hang nie.  Almal wil graag spiertiere wees en bikini lyfies hê, terwyl hulle op die bank in die voorkamer sit of op die kroeg se stoep ‘n dop vat.  Ons lag vir oorgewig mense wat om ‘n baan stap – terwyl ons na ‘n TV program kyk; dink so daaroor, daai sukkelende person het jou sopas verbygesteek.  Die eer behoort aan hom/haar.

Baie min mense neem verantwoordelikheid vir hulself en hul aksies, dis altyd iemand anders se skuld OF hulle doen dit, nou kan ek ook.  My ouers kon nie.  Ek het arm grootgeword.  Ek kon nie gaan studeer nie.  Regtig?  Indien jy jouself respekteer sou jy ophou regverdiging soek, maar eerder soek vir nog ‘n geleentheid, nog ‘n leidraad, nog ‘n kans, nog ‘n plan – sonder ophou.

Daar is geen gevolge vir swak gedrag en/of misdadigheid nie.  Ons lewe met wat ons en die mense voor ons geskep het – wat is ons nalatenskap?.  Moet ons die doodstraf inbring – ek dink nie dit gaan help nie, want “it’s not the severity of the punishment that deters, it’s the certainty of punishment that deters” (haal ek nou een of ander Sherrif in die VSA aan).  Sien, daar is geen respek nie omdat daar geen gevolge is nie.  Daar is geen respek omdat die waardes wat ons najaag vals is – rykdom, roem, bekendheid, stuff.

Net om seker te maak, kultuur beteken “hoe ons goed doen”, of soos die kinders sal sê, “dis hoe ons rol”. 

Ons kinders praat soos ons praat, dink soos ons dink, maak soos ons maak.  Dink daaroor.  Daar is egter geen verskoning nie – sodra jy 16 verbysteek het jy oor as genoeg breinkapasiteit om te besluit wat reg en verkeerd is, wat pas jou en wat nie, hoe jy behandel wil word en hoe jy ander behandel.  Uiteindelik is daar geen verskoning vir ‘n kultuur van disrespek nie – dis gekweek. Om die teenoorgestelde te hê sal ‘n nuwe kultuur gekweek moet word.  Of soos die eeu oue beginsel dit stel – “wat jy saai sal jy maai.” 

Die belangrikste vraag is daarom – wat wil jy hê?  Om die vraag te vra is die maklike deel.  Moeiliker is om te weet wat jy wil hê.  Nog moeiliker is om die karakter te hê (to show character), jou hande uit jou sake te haal, jou bas van die stoel af te kry en met respek te begin lewe.  Orals.  Aktief. Elke dag.

Hoe lyk ‘n kultuur van respek?  Kyk vir iemand as hy met jou praat.  Luister as iemand met jou praat.  Antwoord die persoon – respekvol. Behandel die person soos jy behandel sal wil word.  Doen wat van jou verwag word, en meer indien nodig.  Lewer jou diens met ‘n glimlag.  Laat jou kliente goed voel.  Eer jou buurman.  Respekteer jou ouers.  Leer jou kinders respek en ‘n lus vir die lewe.  Ondersteun die onderwysers en daardie arme siele wat jou kinders leer om te skryf en te tel.  Stop by die stop straat en die rooi robot.  Maak plek vir die taxi.  Glimlag en groet – dalk maak jy iemand se dag wat erger as joune is.  Wees beleefd.  Hanteer vrouens soos dames (al verdien sommiges dit nie).  Kyk uit vir die klein outjies wat geboelie word.  Kyk uit vir die groot en sterk ouens en vrouens wat seer het, maar dit nie wys nie.  Jy hoef nie iemand se kop af te kap as hulle nie met jou saamstem nie.  Moenie met kos mors nie.  Moenie besoedel nie – jou kinders moet die water drink; wanneer jy nie meer hier is nie. 

Oorhoofs – wees teenwoordig (present), kyk op van jou foon af en lewe doelgerig (purpose).  Dit maak nie saak wat ander doen nie, om ‘n kultuur van respek oor 20 jaar te skep begin vandag met ‘n verandering in jou denke en gedrag.  Verander vandag. Iets kleins.  Maak ‘n verskil.  En vir die wat ‘n bietjie byt nodig het – onthou, daar is klontkoppe orals. 


Alles begin by jou.  Respekteer die lewe.  Respekteer jouself.  En as ons gelukkig is, sal ons dalk in ons leeftyd ‘n klein verskil kan begin sien.

Friday, 12 May 2017

Laat ek my kinders toe om hulle eie foute te maak?

Laat jy jou kinders toe om hulle eie foute te maak? vra 'n pa my.
Nee antwoord ek.
Hoe so?
Na 'n paar sekondes antwoord ek.
Ek laat my kinders toe om hulle eie besluite te neem.
My rol as ouer is nie om hulle te keer om foute te maak nie, maar om eerder hulle te leer HOE om besluite te maak. Om hulle te leer wat om te oorweeg en hoe om te evalueer en op te weeg.
My plig is om hulle te adviseer met alles wat ek in my het, en dan om hulle toe te laat om te besluit.
Dis nou hulle "speeltyd".
En dan, as die besluit goeie vrugte afwerp - vier ek fees saam met hulle en help ek evalueer hoekom dit die "regte" besluit was.
As die besluit nie so vars was nie - dan is ek daar om te steun, die stukke te help optel en hulle te help om die volgende besluit te neem. Om hulle te help om aanspreeklikheid te aanvaar vir hulle besluite, hulle gedrag, hulle aksies en die gevolge daarvan.
My rol is nie om hulle toe te laat om hulle eie foute te maak nie, eerder is dit my rol hulle te help om weldeerdagte besluite te maak. Belangriker is om hulle te leer om aanspreeklikheid te aanvaar vir goeie en slegte gevolge.
Dis die moeilike deel, om terug te staan en te kyk hoe hulle "speel".

Friday, 28 April 2017

‘n Ode aan die Koringkriek

Sis, ag nee sis man – kom my vrou se stem uit die kombuis.
Gewoonlik betekene dit iets moet opgeruim word … wat is dit vra ek versigtig.
Iemand het iets oor koringkrieke op facebook gepost, vieslik.  My vrou hou nie van die gediertes nie.
Kommentaar kom, iemand moet iets oor koringkrieke skryf, seg iemand.
So hier is dit.  Die wat ondervinding het sal verstaan!

‘n Ode aan die Koringkriek
Dis nag
Buite is ‘n misterieuse mag
Gepantser, skerp, wagtend – grieselrig 
Verspieders hang aan grashalms
Antennas uitgestrek, oë wydoopgerek – gefokus
Wagters sit op hekke, op hulle poste, wakend
In massa wag hulle orals
In en op enige beskikbare plek
Reg vir die belofte van aksie
Paaie om oor te steek
In lokvalle, agter pale, onder take
Wagtend, vir ‘n onbedagsame hand
Dis dagbreek -
Borsharnas aan, vastrapskoene – vlymskerp
Rugpantser – vasgetrek
AKSIE, wys jouself
Gillend slaan die vyand op vlug
Pasop, teenaanval – die vyand gebruik stoke en klippe, chemise wapens, monster voertuie
Ongeag, ons mars aan, onstopbaar, in massa
Ruim op – vreet die wat geval het op, los niemand agter nie
Dit word nag – hergroepeer
More doen ons dit weer
Gillend sal hulle op die vlug slaan
Ons laat nie met ons mors
Oppad, na die beloofde (Koringkriek) land.