Thursday, 26 March 2020

Afsondering - 21 Dae van Groei


Groei is die essensie van die lewe, die oomblik as jy stagneer het geestelike dood begin intree.

Groei is gebou op die beginsel van verandering, en verandering is meestal net moontlik indien daar iewers ‘n pynpunt is.


Die huidige situasie waar ons tuis moet bly om die gevaar van die Covid-19 virus te ontsnap, bied ‘n ongelooflike geleentheid om die tyd wat ons het, kreatief te gebruik om te groei.

Oor die volgende 21 dae sal ek vir julle ‘n gestruktureerde program aanbied wat die komponente van oordink, voel en doen insluit. Hiervan  moet jy dan notas in 'n joernaal of dagboek maak - 'n skryfblok sal ook werk.

Die doel van die joernaal is om elke dag wel deurdagte notas te maak oor die effek van die drie komponente.  

Dit sal dan aan die einde opgesom word en sy eie storie vertel.  

Sonder twyfel sal dit by jou verskillende fasette van groei tot gevolg hê.


Maar genoeg gepraat – maak jou joernaal reg en daag op vir die reis.

Uitnodiging:
  • Kry of maak vir jou ‘n joernaal of dagboek waarin jy elke dag aantekeninge kan maak.
  • Kry elke dag se aktiwiteit op fb of JohanFilosoof (https://johanfilosoof.blogspot.com/2020/03/afsondering-21-dae-van-groei.html).  Ek sal elke oggend die dag se aktiwiteite post.
  • Doen die aktiwiteite met oorleg, jy het die tyd.
  • Dag 21 – doen opsomming van jou leerpunte en beplan die pad vorentoe.

Ek is sommer opgewonde!

Monday, 9 March 2020

Finale Boodskap


Woon vandag Marike se begrafnis by.
Die normale groet en hartseer is daar.
Anria speel klavier, vergesel met 'n viool - met Marike se voorkeur musiek.
Christo praat en deel sy liefde vir sy vrou en Ida - en wys 'n video die kleintjie wat borrel en lag - in haar ma en pa se teenwoordigheid.
Fotos word gewys, vergesel met klaviermusiek.  Liefde straal uit die fotos, geluk, afwagting.  Wat my opval is die oopmond, lekker lag van Marike - die lewe is goed.
Jan praat - hy vertel van die pad met Marnus en reik sy hand uit na Christo; 'n hand en hart wat reeds die pad gestap het. 
Hy verklaar sy geloof - onwrikbaar in wat hy glo - God, Vader, Seun en Gees, vrede wat niemand verstaan nie, liefde in tye van nood en dood. Die yspik bergklim, een kappie op 'n slag, die lang pad van herstel.  Die noodsaaklikheid om te besluit - 'n besluit om te heel, om nie in die donker te bly nie, maar die pad van lig en lewe te stap.
Hy is dankbaar vir die geloofsgemeenskap rondom hulle, en vriende, en kollegas - Afrikaans en Engels.
Fotos word gewys - herinnering word gedeel.
Ons eet versnapperinge, verskaf deur die susters, ons groet ou bekendes en kinders wat nou ewe skielik grootmense is - met vrouens en kinders.
Ek moet gaan - die soutmyn wag.  Daar is 'n dokument om klaar geskryf te word. Niks staan stil nie.
Ek wonder ongevraagd - ek wonder of ons reg is - ek wonder wanneer ek my laaste paragraaf gaan skryf, my laaste foto gaan neem.  En wanneer dit gebeur, mag dit woorde wees wat God verheerlik, mag dit 'n foto wees wat die Woord se skepping sal eer.
En wanneer my beurt kom, mag ek net so sterk wees soos Jan en sy familie, nog steeds net so onwrikbaar glo in die liefde van God.
Shalom.


Saturday, 7 March 2020

Freddy van Queen - en Moeilike Tye

Ek kan nie sing nie.

Dalk, as die note hier iewers in die middel is en dit gaan nie te veel op en af nie - klink ek nie sleg nie. Dink ek.

Ek hou van sing - maar omdat ek myself nie kan uitgee as 'n sanger nie - doen ek dit maar onderlangs.  Maar dit lyk ook, soms, verdag; hier sit 'n uitgegroeide man, met 'n bles en grys hare, met drade wat uit sy ore hang, en skud sy kop, mompel, trek sy gesig (om die hoë note by te kom - dis moeilik, al sing jy vir jouself), maak 'n paar armbewegings (lyk dalk soos iemand wat 'n toeval kry), en as jy sy aandag getrek kry, het hy dalk trane in sy oë.

Wat luister jy?  Taize - die reaksie is gewoonlik "huh" (OK, meditatiewe musiek - self ek kan dit sing, soms). Of .. Freddy - wie? Mercury, Queen, domkop; het jy geen kultuur nie?

Gisteroggend "sit" ons - klein groepie mediteerders.  Elke Vrydag, 06h00, wanneer die son sy gesig wys, in stilte - maak ons ons gedagtes stil en ons siele oop vir die stem van die Heilige Gees.  

Jy kan net leer as jy stilbly - as jy praat herhaal jy net wat jy reeds weet.

Ons stap uit en die oggendson verwelkom ons - en ek weet, dit is 'n pragtige dag, ongeag.
Vandag het sy eie uitdagings. More is naweek.  Maandag het ons begrafnis, Marike en Adriana, dis nie my kinders nie, maar dis my mense - my vriende se kinders.  Onnodig. Hartseer.

En tog - Freddy (van Queen natuurlik) se lied bly in my kop.  Hy het dit geskryf toe hy al baie siek met AIDS was - hy het geweet sy tyd is verby. Hy sing - 
     It's a beautiful day
     The sun is shining
     I feel good, I feel right
     And no one is gonna stop me now ....
     Sometimes I feel so sad, so bad,

     But no one is gonna stop me now ...

Jan, Helmie en Christo - julle harte is stukkend en seer, maar die son bly skyn, vandag en more, ongeag.

En Freddy sing weer vir my "it is a beautiful day", net soos hy kan - en ek kan nog steeds nie bykom nie.

Vrede vir julle.



Tuesday, 3 March 2020

Ouers is nie gemaak om hulle kinders te begrawe nie!



Ons het vanaand 'n Adoramus diens gehad - nagmaal in stilte.
Ons kerk was besonders vol - ons is in rou.
Ons huil. Ons verstaan nie.
Hoe gebeur slegte goed, sulke slegte goed met goeie mense.

Jan en Helmie het 'n dogter en kleindogter verloor - dood in 'n onverstaanbare motorongeluk.
Christo het sy vrou en dogter verloor - op Sondag.
Annelize het 'n skoondogter en kleinkind verloor - dood in 'n oogwink.

Soveel smart in ‘n oogwink.
Hulle lewens het nog nie eers behoorlik spoed opgetel nie - hulle kon nog so baie gedoen het; verskil gemaak het.

Ons kerk familie is in rou - oor goeie mense wat swaarkry.
Ons kerk familie is geskok - oor die onverstaanbaarheid van wat gebeur het.
Ons kerk familie vat hande - niks wat ons kan sê maak 'n verskil nie; maar ons is daar.  Ons kan help om die las te dra. Ons weet nie hoe nie, maar ons is daar. 
Ons oë brand.


Ons steek ‘n duisend kerse aan.
Ons sit in stilte.
Van ons bid – ander huil.
Ons verstaan nie.
Hulle kerse is uitgedoof.


Ek sien weer vir oom Roelof wat op 82 sy dogter van 54 moes begrawe.  Hy het voor in sy tuin gestaan.  Op sy kierie geleun.  Na die rose gekyk waarop hy so trots was. Toe na my gekyk en gesê: “ouers is nie gemaak om hulle kinders te begrawe nie.”  Hy het gebewe toe hy terugloop huistoe.

Ons harte is stukkend vir julle verlies.

Ek bid vir julle die priesterlike seën toe (Num 6:24) – vry vertaal, soos ek dit onthou:
The Lord bless you and keep you.
The Lord makes His face shine upon you, and be gracious to you.
The Lord turns His face towards you and give you peace.

Ouers is nie gemaak om hulle kinders te begrawe nie – ons bid vir julle.

Wysheid is om te waardeer wat jy het – terwyl jy dit het.

Vrede.


Wednesday, 19 February 2020

Toksies


Praat gisteraand met 'n dame.  Sy is in trane oor die werksomgewing - dis sleg, moeilik, toksies.

Sy dreig om haar goed te vat en te loop.

Sy is hartseer omdat sy haar bes probeer en ander maak haar af. Dit frustreer haar want die prosesse wat daar is om haar te beskerm - maak dit moeiliker vir haar; dit los nie die probleem op nie.

Die HR bestuurder praat haar klagtes weg - hy wil nie hoor nie.  Die baas sê hy kan niks doen nie, want hy sien niks nie - die skuldiges is vriendelik voor hom en vieslik agter.

Ek gee vir haar slegte nuus- dit gaan nie help om 'n ander werk te soek nie, want die bullebakkery gaan daar ook gebeur.  Sy verpersoonlik die profiel van iemand wat deur bullebakke (of kooiebakke) geteiken word.  Vriendelik, pleaser, helper, instaner, onseker, sensitief en meer.

Sy is deel van die probleem, want sy laat toe dat mense haar verniel - geen grense nie, jammer dat sy iets gedoen het, wil graag hê almal moet van haar hou.

Gedeeltelik is die oplossing haar eie uitdaging - doen jou werk, moenie ander se verantwoordelikhede neem nie, stel grense oor taal, gedrag, optrede en houding teenoor jou.  Maak duidelik wat jou pla en moenie in 'n hoekie gaan sit en huil nie - dit help nie.  Begin klein en pen jou gebied duidelik af soos jy aangaan.  Dit gaan nie maklik wees nie, maar niemand gaan dit namens jou doen nie.  Jy is verantwoordelik vir jouself.

En as dit nie werk nie - werk aan 'n exit-strategy, doelbewus, bepland, en gaan.  Skud hulle stof van jou voete af.  Geen plek of mens het die reg om jou siel te vernietig nie.  Dit gaan ten koste van iets wees, maar dalk wen jy meer as wat jy verloor.

Jou besluit.

Gaan luister gerus na die potgooi (of podcast) oor Toksiese Werksomgewings op RSG http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20200213_PRAAT_SAAM.mp3



Saturday, 8 February 2020

Liefdadigheid by Ster Kinekor

Het gaan fliek vanaand. 1917. Uitstekende fliek, gaan kyk gerus.
Wat my opgeval het is dat jy R35 betaal vir 'n klein houer springmielies. Pop corn. R35. Diefstal. 
Maar dis niks. Dan is daar met elke kaartjie 'n versoek om R2.50 te skenk vir een of ander goedbedoelde saak. My geld. Net R2.50 bo-op 'n kaartjie, en dan moet ek nog R35 betaal vir 'n d#$%&se boks springmielies.

Hoekom krap dit my om?  Jy sien, SK vra my 'n normale prys vir die kaartjie, vra diefstal pryse vir versnapperinge, sit nog by vir 'n goeie saak - dan gee hulle die fondse bymekaargemaak aan ander, geen koste tot hulle nie. 

Wat van SK gee R2.50 vir elke R2.50 wat die fliekgangers gee? Maar ek weet  nie of hulle dit sal doen nie. 

Dis mos regverdig - gee jou eie geld vir liefdadigheid, nie ander s'n nie. Of hoe?
En dan, met die eerste en enigste pit wat ek byt, is daar 'n dop tussen my tande!

Wednesday, 29 January 2020

Lord Nelson en die Posman

 Nelson. Lord Nelson was 'n Staffie.

Hy was te stout om Lord genoem te word - toe word hy maar net Nelson.
Nelson het gelyk soos 'n Kelvinator met 'n kop op. Borskas so breed soos die agterkant van 'n John Dear Trekker, 'n kop soos 'n blokhammer, en 'n frons soos 'n erosiesloot in die Drakensberge.


Nelson was eintlik vriendelik - met mense. Ander honde, katte en goed wat in die nag rondloop het hom so ietwat nukkerig gemaak.

Dit was die dae toe huise meestal net jakkalsdraad gehad het, daardie met die groterige gate - en posmanne het pos by die huis afgelewer, eers met sulke rooi fietse en later met rooi bromponies. Met 'n trommeltjie aan die voorkant, mooi gepak in volgorde van aflewering.

Ons het naby die werk gebly en ek het met my geel fiets werk toe gery. Toe fietsry nog nie 'n fisieke uitdaging was nie.

Ons huis was op die hoek teen 'n afdraende, en die Posman met sy rooi bromponie met die trommeltjie pos het dit goed gedink om die tuinhekkie te gebruik as 'n stopblok. Dit was nie 'n slegte plan nie want die hekkie se draad het ingebuig en het dan gekeer dat die bromponie nie verder teen die afdraende afrol nie. Hy kon dan gemaklik oorleun, die pos uit die gerangskikte trommetjie haal en in die grys geverfde, blik posbus, net regs van die hekkie plaas.

Die hekkie was, soos meeste hekke in daardie omgewing, met 'n bloudraad lus aan die ankerpaal vasgemaak, net links van die posbus.

Nelson, vredeliewende hond wat hy was, het om die een of ander onbekende rede ernstig eksepsie geneem rakende die voorwiel teen die hekkie plan van die Posman. Sy eksepsie het geleidelik meer ernstig geword wanneer die Posman, teen die advies van Moeksie (my vrou), die hekkie stiptelik met die voorwiel stamp. Eers het Nelson net kennis geneem tot op 'n punt waar sy kringspier duidelik sigbaar was onder sy stert, en hy die jakkalsdraad gebruik het om sy tande te vlos.

Posman was duidelik nie ongemaklik oor die saak nie. Sy bromponie staan stil en kan sy pos maklik in die posbus druk - daai ene net regs van die hekkie.

Ek ontvang 'n dringende oproep by die werk - op my landlyn, toe telefone nog met draad aan die muur vasgemaak was. Moeksie is histeries - Nelson en die Posman het 'n meningsverskil en Nelson wil nie vir haar luister nie. Ek moet NOU kom. Nou as Moeksie daardie toonhoogte haal, dan luister jy onmiddelik.
Ek sien voorspooksels en mediese eise, gryp met geel fiets en trap daardie fiets dat die speke sukkel om by te bly - huistoe. Die hel is los toe ek om die draai kom.

Die Posman het hom misgis met sy stop. Die hek het oopgespring en Nelson het aan hom begin verduidelik dat hy ietwat krapperig is. Hy kon al sy opgekropte wrewel op sy vyand loslaat - die Posman se rooi bromponie.

Nelson het die bromponie, wat nie meer heeltemal rooi is nie, aan sy spatbord beet - en sleep dit oor die teerpad rond. Met die nodige byklanke.  Die Posman is histeries want sy rooi bromponie tel ernstige byt en skuurmerke op. Sy sorgvuldig georganiseerde posstukke word oor die pad versprei - en hy kan nie dink hoe om hierdie aan sy baas en kollegas te verduidelik nie.

Elke keer wat die Posman die moed bymekaarskraap om sy bromponie te herwin loods Nelson 'n onmiddelike teenaanval - wat die Posman in die teenoorgestelde rigting laat spaander.  Dit neem 'n paar minute om Nelson van sy buit te laat afsien en terug te gaan, die erf in.

Die Posman herwin Poskantoor helmet en bromponie, hy skraap die vernielde en verstrooide posstukke bymekaar en jaag brom-brom die bult uit. Geen verskoning van my kant af maak hond haaraf nie.

Nadat ek die hek sorgvuldig toegemaak het, Nelson gevryf en vir Moeksie gekalmeer het - herleef ons die petalje met onbeheersde lagbuie.

Wat ek egter nie verstaan nie, is dat my pos daarna baie minder geword het.
MooiLoop!