Woon vandag Marike se begrafnis by.
Die normale groet en hartseer is daar.
Anria speel klavier, vergesel met 'n viool -
met Marike se voorkeur musiek.
Christo praat en deel sy liefde vir sy vrou en
Ida - en wys 'n video die kleintjie wat borrel en lag - in haar ma en pa se
teenwoordigheid.
Fotos word gewys, vergesel met klaviermusiek.
Liefde straal uit die fotos, geluk,
afwagting. Wat my opval is die oopmond,
lekker lag van Marike - die lewe is goed.
Jan praat - hy vertel van die pad met Marnus
en reik sy hand uit na Christo; 'n hand en hart wat reeds die pad gestap
het.
Hy verklaar sy geloof - onwrikbaar in wat hy
glo - God, Vader, Seun en Gees, vrede wat niemand verstaan nie, liefde in tye
van nood en dood. Die yspik bergklim, een kappie op 'n slag, die lang pad van
herstel. Die noodsaaklikheid om te
besluit - 'n besluit om te heel, om nie in die donker te bly nie, maar die pad
van lig en lewe te stap.
Hy is dankbaar vir die geloofsgemeenskap
rondom hulle, en vriende, en kollegas - Afrikaans en Engels.
Fotos word gewys - herinnering word gedeel.
Ons eet versnapperinge, verskaf deur die
susters, ons groet ou bekendes en kinders wat nou ewe skielik grootmense is -
met vrouens en kinders.
Ek moet gaan - die soutmyn wag. Daar is 'n dokument om klaar geskryf te word.
Niks staan stil nie.
Ek wonder ongevraagd - ek wonder of ons reg
is - ek wonder wanneer ek my laaste paragraaf gaan skryf, my laaste foto gaan
neem. En wanneer dit gebeur, mag dit
woorde wees wat God verheerlik, mag dit 'n foto wees wat die Woord se skepping
sal eer.
En wanneer my beurt kom, mag ek net so sterk
wees soos Jan en sy familie, nog steeds net so onwrikbaar glo in die liefde van
God.
Shalom.
No comments:
Post a Comment