Tuesday, 3 March 2020

Ouers is nie gemaak om hulle kinders te begrawe nie!



Ons het vanaand 'n Adoramus diens gehad - nagmaal in stilte.
Ons kerk was besonders vol - ons is in rou.
Ons huil. Ons verstaan nie.
Hoe gebeur slegte goed, sulke slegte goed met goeie mense.

Jan en Helmie het 'n dogter en kleindogter verloor - dood in 'n onverstaanbare motorongeluk.
Christo het sy vrou en dogter verloor - op Sondag.
Annelize het 'n skoondogter en kleinkind verloor - dood in 'n oogwink.

Soveel smart in ‘n oogwink.
Hulle lewens het nog nie eers behoorlik spoed opgetel nie - hulle kon nog so baie gedoen het; verskil gemaak het.

Ons kerk familie is in rou - oor goeie mense wat swaarkry.
Ons kerk familie is geskok - oor die onverstaanbaarheid van wat gebeur het.
Ons kerk familie vat hande - niks wat ons kan sê maak 'n verskil nie; maar ons is daar.  Ons kan help om die las te dra. Ons weet nie hoe nie, maar ons is daar. 
Ons oë brand.


Ons steek ‘n duisend kerse aan.
Ons sit in stilte.
Van ons bid – ander huil.
Ons verstaan nie.
Hulle kerse is uitgedoof.


Ek sien weer vir oom Roelof wat op 82 sy dogter van 54 moes begrawe.  Hy het voor in sy tuin gestaan.  Op sy kierie geleun.  Na die rose gekyk waarop hy so trots was. Toe na my gekyk en gesê: “ouers is nie gemaak om hulle kinders te begrawe nie.”  Hy het gebewe toe hy terugloop huistoe.

Ons harte is stukkend vir julle verlies.

Ek bid vir julle die priesterlike seën toe (Num 6:24) – vry vertaal, soos ek dit onthou:
The Lord bless you and keep you.
The Lord makes His face shine upon you, and be gracious to you.
The Lord turns His face towards you and give you peace.

Ouers is nie gemaak om hulle kinders te begrawe nie – ons bid vir julle.

Wysheid is om te waardeer wat jy het – terwyl jy dit het.

Vrede.


Wednesday, 19 February 2020

Toksies


Praat gisteraand met 'n dame.  Sy is in trane oor die werksomgewing - dis sleg, moeilik, toksies.

Sy dreig om haar goed te vat en te loop.

Sy is hartseer omdat sy haar bes probeer en ander maak haar af. Dit frustreer haar want die prosesse wat daar is om haar te beskerm - maak dit moeiliker vir haar; dit los nie die probleem op nie.

Die HR bestuurder praat haar klagtes weg - hy wil nie hoor nie.  Die baas sê hy kan niks doen nie, want hy sien niks nie - die skuldiges is vriendelik voor hom en vieslik agter.

Ek gee vir haar slegte nuus- dit gaan nie help om 'n ander werk te soek nie, want die bullebakkery gaan daar ook gebeur.  Sy verpersoonlik die profiel van iemand wat deur bullebakke (of kooiebakke) geteiken word.  Vriendelik, pleaser, helper, instaner, onseker, sensitief en meer.

Sy is deel van die probleem, want sy laat toe dat mense haar verniel - geen grense nie, jammer dat sy iets gedoen het, wil graag hê almal moet van haar hou.

Gedeeltelik is die oplossing haar eie uitdaging - doen jou werk, moenie ander se verantwoordelikhede neem nie, stel grense oor taal, gedrag, optrede en houding teenoor jou.  Maak duidelik wat jou pla en moenie in 'n hoekie gaan sit en huil nie - dit help nie.  Begin klein en pen jou gebied duidelik af soos jy aangaan.  Dit gaan nie maklik wees nie, maar niemand gaan dit namens jou doen nie.  Jy is verantwoordelik vir jouself.

En as dit nie werk nie - werk aan 'n exit-strategy, doelbewus, bepland, en gaan.  Skud hulle stof van jou voete af.  Geen plek of mens het die reg om jou siel te vernietig nie.  Dit gaan ten koste van iets wees, maar dalk wen jy meer as wat jy verloor.

Jou besluit.

Gaan luister gerus na die potgooi (of podcast) oor Toksiese Werksomgewings op RSG http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20200213_PRAAT_SAAM.mp3



Saturday, 8 February 2020

Liefdadigheid by Ster Kinekor

Het gaan fliek vanaand. 1917. Uitstekende fliek, gaan kyk gerus.
Wat my opgeval het is dat jy R35 betaal vir 'n klein houer springmielies. Pop corn. R35. Diefstal. 
Maar dis niks. Dan is daar met elke kaartjie 'n versoek om R2.50 te skenk vir een of ander goedbedoelde saak. My geld. Net R2.50 bo-op 'n kaartjie, en dan moet ek nog R35 betaal vir 'n d#$%&se boks springmielies.

Hoekom krap dit my om?  Jy sien, SK vra my 'n normale prys vir die kaartjie, vra diefstal pryse vir versnapperinge, sit nog by vir 'n goeie saak - dan gee hulle die fondse bymekaargemaak aan ander, geen koste tot hulle nie. 

Wat van SK gee R2.50 vir elke R2.50 wat die fliekgangers gee? Maar ek weet  nie of hulle dit sal doen nie. 

Dis mos regverdig - gee jou eie geld vir liefdadigheid, nie ander s'n nie. Of hoe?
En dan, met die eerste en enigste pit wat ek byt, is daar 'n dop tussen my tande!

Wednesday, 29 January 2020

Lord Nelson en die Posman

 Nelson. Lord Nelson was 'n Staffie.

Hy was te stout om Lord genoem te word - toe word hy maar net Nelson.
Nelson het gelyk soos 'n Kelvinator met 'n kop op. Borskas so breed soos die agterkant van 'n John Dear Trekker, 'n kop soos 'n blokhammer, en 'n frons soos 'n erosiesloot in die Drakensberge.


Nelson was eintlik vriendelik - met mense. Ander honde, katte en goed wat in die nag rondloop het hom so ietwat nukkerig gemaak.

Dit was die dae toe huise meestal net jakkalsdraad gehad het, daardie met die groterige gate - en posmanne het pos by die huis afgelewer, eers met sulke rooi fietse en later met rooi bromponies. Met 'n trommeltjie aan die voorkant, mooi gepak in volgorde van aflewering.

Ons het naby die werk gebly en ek het met my geel fiets werk toe gery. Toe fietsry nog nie 'n fisieke uitdaging was nie.

Ons huis was op die hoek teen 'n afdraende, en die Posman met sy rooi bromponie met die trommeltjie pos het dit goed gedink om die tuinhekkie te gebruik as 'n stopblok. Dit was nie 'n slegte plan nie want die hekkie se draad het ingebuig en het dan gekeer dat die bromponie nie verder teen die afdraende afrol nie. Hy kon dan gemaklik oorleun, die pos uit die gerangskikte trommetjie haal en in die grys geverfde, blik posbus, net regs van die hekkie plaas.

Die hekkie was, soos meeste hekke in daardie omgewing, met 'n bloudraad lus aan die ankerpaal vasgemaak, net links van die posbus.

Nelson, vredeliewende hond wat hy was, het om die een of ander onbekende rede ernstig eksepsie geneem rakende die voorwiel teen die hekkie plan van die Posman. Sy eksepsie het geleidelik meer ernstig geword wanneer die Posman, teen die advies van Moeksie (my vrou), die hekkie stiptelik met die voorwiel stamp. Eers het Nelson net kennis geneem tot op 'n punt waar sy kringspier duidelik sigbaar was onder sy stert, en hy die jakkalsdraad gebruik het om sy tande te vlos.

Posman was duidelik nie ongemaklik oor die saak nie. Sy bromponie staan stil en kan sy pos maklik in die posbus druk - daai ene net regs van die hekkie.

Ek ontvang 'n dringende oproep by die werk - op my landlyn, toe telefone nog met draad aan die muur vasgemaak was. Moeksie is histeries - Nelson en die Posman het 'n meningsverskil en Nelson wil nie vir haar luister nie. Ek moet NOU kom. Nou as Moeksie daardie toonhoogte haal, dan luister jy onmiddelik.
Ek sien voorspooksels en mediese eise, gryp met geel fiets en trap daardie fiets dat die speke sukkel om by te bly - huistoe. Die hel is los toe ek om die draai kom.

Die Posman het hom misgis met sy stop. Die hek het oopgespring en Nelson het aan hom begin verduidelik dat hy ietwat krapperig is. Hy kon al sy opgekropte wrewel op sy vyand loslaat - die Posman se rooi bromponie.

Nelson het die bromponie, wat nie meer heeltemal rooi is nie, aan sy spatbord beet - en sleep dit oor die teerpad rond. Met die nodige byklanke.  Die Posman is histeries want sy rooi bromponie tel ernstige byt en skuurmerke op. Sy sorgvuldig georganiseerde posstukke word oor die pad versprei - en hy kan nie dink hoe om hierdie aan sy baas en kollegas te verduidelik nie.

Elke keer wat die Posman die moed bymekaarskraap om sy bromponie te herwin loods Nelson 'n onmiddelike teenaanval - wat die Posman in die teenoorgestelde rigting laat spaander.  Dit neem 'n paar minute om Nelson van sy buit te laat afsien en terug te gaan, die erf in.

Die Posman herwin Poskantoor helmet en bromponie, hy skraap die vernielde en verstrooide posstukke bymekaar en jaag brom-brom die bult uit. Geen verskoning van my kant af maak hond haaraf nie.

Nadat ek die hek sorgvuldig toegemaak het, Nelson gevryf en vir Moeksie gekalmeer het - herleef ons die petalje met onbeheersde lagbuie.

Wat ek egter nie verstaan nie, is dat my pos daarna baie minder geword het.
MooiLoop!

Monday, 18 November 2019

Naweek in Langebaan

"Sal oom 'n paar wyse woorde op ons troue spreek", vra Ryno - en dit is hoe 'n naweek in Langebaan begin.  Omdat dit so 'n belangrike geleentheid is, moet die boodskap reg wees, dit moet sê wat gesê moet word. 

Die boodskap word geskryf en herskryf, en uiteindelik vertel die maak van Damaskusstaal die verhaal van hoe 'n huwelik 2 mense vorm. Die seremonie is in Langebaan en soos gewoonlik is dit 'n buitengewone mooi plek om te wees. 


Ek gee vir hulle 'n bottermes van Damaskusstaal wat deur Koos handgemaak is. Die boodskap werk en baie mense sê dankie, 'n pasgetroude dame sê niemand het dit so aan haar verduidelik nie. Die bottermes word sommer ingespan om die troukoek te sny - hoekom nie? Die familie en gaste kuier lekker - more is nog 'n dag.




Ons ry deur die Langebaan Reservaat en stop by Seeberg - vroeër was dit 'n
uitkykpunt, nou 'n besienswaardigheid. Ongelooflike uitsig. Die natuurskoon is asemrowend.  Ek wonder of die wat die uitkykpunt moes beman, ook soos ons gevoel het - dat dit sooooo mooi is, of het hulle die tyd omgewens? Verlang na hulle gesinne?


Ons kry pad na Johan en Ansie, dominee van Rondebosch gemeente. Ons woon die aanddiens van Huis Lückhoff by.  "God is Liefde" sê die kansel.  Teen die muur is die teks en gesange opgesit - met letters wat inskuif, soos lank terug.  Ek hou daarvan.
Terwyl Johan uit Lukas preek kyk ek rond.  Oom Koos is die raakvat ouderling, maar sy knie bodder. 


Daar is planne om die Kapel op te gradeer - die tapyt het beter dae gesien, die mure kort aandag en die klank het dringend opgradering  nodig. 

Daar is blomme op 'n klein koffietafel.  Juliette speel die klavier en ons sing uit die Liedboek, 'n heel paar verse elke keer, soos lank gelede. Die dominee sê watter verse.  Sonder 'n sanggroep en allerhande instrumente. Ek hou daarvan - my aandag word nie afgetrek van dit waarmee ons besig is nie.


Daar is tyd vir stilte - maar ek word nie stil nie. Ek kan nie. Regs van my sit 'n oom en tannie - oud. Die oom is maar netjies aangetrek en sy stapstok lê oor sy been. Sy lippe beweeg soos hy bid.  Ek kyk by die venster uit - links onder is volledige woonstelle vir onafhanklikes, regs is drie verdiepings met kamers en teen die straat is die gedeelte vir die met Alzheimer.  Ek besef ons almal word oud - en net soos sommiges hier, kan jou kinders jou ook vergeet .... daar is niks fout met hulle fone nie, hulle het net vergeet.

Ons draai om huistoe, die lewe gaan aan.  Ons het gekom om 'n paar wyse woorde op 'n troue te spreek, ek gaan huistoe met 'n verstaan van ons vergetelheid. 

Soos die Prediker sou sê; alles is 'n gejaag na wind, wysheid is om God te dien.

Monday, 26 August 2019

Die Pyn van 'n Sukkelende Bidder!



HERE - ek probeer desperaat om aan wal te kom!
Om in U teenwoordigheid te sit.
Ek spartel soos 'n desperate drenkeling - wanhopig, om teen die rotse op te kom.
Om met die ritme van die golwe saam te werk - en soos 'n pikkewyn saam met 'n golf tot op land te spring! Sierlik.
Om veiligheid te bereik - U teenwoordigheid.

Maar telkens word ek deur die strome teruggetrek in die malende see - spartelend, skellend, elke keer meer stukkend!
Hoe lank nog, HERE - skree ek teen die rotse uit.
Hoor tog my gebed Here, kners ek. Luister, tog.
Gaan U toelaat dat die see my flenters slaan - fyn maal teen die rotse? 
Die rotse van hierdie lewe.
Hoe lank nog?
My genade is vir jou genoeg!  
Watter genade gil ek, as ek weer my greep verloor.
Watter genade?
Hoe lank nog?

En tog, sodra die oomblikke van blinde waansin versaak - raak ek, sukkelende bidder, stukkende mens - bewus van U teenwoordigheid.
U was en is teenwoordig teen die rotse en in die golwe - en ook in die oomblikke van kalmte.
Maar, my hart bly vra; waarheen Here? Hoe lank nog?

Sunday, 21 July 2019

Die Lig van 'n Kers


Related imageGeen hoeveelheid donker kan die lig van 'n enkele kers uitdoof nie.
Hoe meer kerse, hoe meer lig - donker sal altyd huiwer op die grens van lig, sluimerend, maar sal dit nooit kan uitdoof nie.
Al wat 'n vlam kan uitdoof is 'n gebrek aan suurstof.
Die kwaliteit van ‘n vlam – lig, helderheid en hitte – hang af van die kwaliteit van suurstof.
Suurstof is wat ons (mense) nodig het om te leef – dis die eerste ding wat ons doen na geboorte (haal asem) en die laaste dinge voordat ons vertrek (ons laaste asem uitblaas).
Die kwaliteit van ons lewensvlam (lig, helderheid en warmte) hang af van die suurstof wat ons inneem – dit wat ons lees, dit waarna ons luister, dit waarna ons kyk, die mense met wie ons gesels.
Hoe swakker die kwaliteit van dit wat ons inneem, hoe swakker die kwaliteit van ons lewenslig – hoe nader kruip die donker – hoe swakker is ons lig vir ander.
As ons toelaat dat ons lig uitdoof verloën ons ons doel op aarde – om lig en hoop vir ander te wees.
Geen hoeveelheid donker kan die lig van ‘n enkele kers uitdoof nie – en dalk is jy die enigste lig en warmte vir iemand anders – vandag!?