Friday, 30 March 2018

Adoramis Eucharistie


Dis Donderdag middag voor Paasnaweek - Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Opstanding.

Die poorte is oop - besighede maak vroeg toe en almal jaag om die Paasnaweek verkeer te mis. 
Hulle is egter te laat; verkeersverslae vertel reeds van ongelukke en opgehoopte paaie.  Die eerste mense is reeds dood op die R21.  Vyf op een slag.  Smart op die Paasnaweek – soos Maria lank gelede.
Sommiges van ons bly tuis om die verkeer te mis. Dis langnaweek.

By die kerk maak ons gereed vir die Avondsmaal.
Adoramis - om in liefde te aanbid.
Eucharistie - viering van die laaste Paasmaal van Jesus saam met Sy dissipels.  

Die tafels word gedek met brode, vleisbrood, dadels, druiwe en meer.  Glase vir wyn en druiwesap word mooi uitgepak.  Versierings word opgesit.  Dit lyk goed.


Eers hou ons nagmaal - tekse word gelees, liedere word gesing, stilte, ons neem die brood en doop dit in die wyn. Simbolies.







Ons steek kerse aan en bid.  Ons staan stil voor God en is dankbaar dat Hy toegelaat het dat Sy Seun met 'n soen verraai kan word en sterf, sodat ons kan leef.




Ons stap om na die saal en geniet 'n gemeentefees.











'n Doringkroon word om 'n lamp gesit as versiering. Afronding.  Totdat die liggie aangeskakel word, en ek besef dat selfs binne 'n doringkroon was Jesus lig, en dat geen donker groot genoeg is om lig uit te doof nie.
Wanneer laas het ons mooi gedink oor wat hierdie paar dae beteken - het dit enige effek op ons toewyding?
Geseënde Paasfees aan almal.
Vrede.
Reis veilig.

Sunday, 25 March 2018

Sondag in Rondebosch

Dis Sondag in Rondebosch. Ons kuier by vriende, die dominee van die NG Kerk Rondebosch. Hulle bly baie naby aan Nuweland, die krieketkykers parkeer voor sy huis en stap aan. Ons wikkel ons by die hek uit en ry kerk toe, stop eers gou by Spar om hot cross buns te koop. 

Dis Palm Sondag, die dag wat Jesus Jerusalem ingery het - op 'n donkie. Die krieketkykers se donkies parkeer elke moonlike plek toe. Die Ausies erken hulle kroek.

Die kerk is oud, oor die jare het baie groot geeste daar gekerk, nou is daar min mense, van alle soorte - almal saam om te aanbid.  Oorkant die kerk is 'n treinspoor, en 'n muur vol grafiti, en 'n ouma en kleinseun wat tennis speel.

Ons sing psalms, met orrelbegeleiding. Skielik staan almal op om mekaar te groet. Soene en bladskud. Almal is bly om mekaar te sien. Oomblikke van georkestreerde chaos.

Sit asseblief, nou volg 'n paar minute van stilte. Stemmig, respekvol.

Daar is 'n koor wat sing, palmtakke word voor die kansel gelê. Verjaarsdae word van die kansel af geluk gewens. In die kerk is tannie Annie Beukes, sy word 104 in Junie. 104. Hoe kry sy dit reg? Genade en harde werk is haar resep - sien, harde werk gaan jou eerder oud maak as dood.

Johan preek en projekteer die liedjies op die skerm; ons volg die orrel - die gemeente is ook besig om 'n nuwe psalm aan te leer, maar hulle gaan dit nie vandag sing nie. Ons luister mooi, Barrabas se naam beteken eintlik "seun van die vader", hy word vrygelaat sodat die "Seun van die Vader" gekruisig kan word. Sodat hy gered kan word; en ons.

Die trein kom verby, en die letters skud op die bord - net soos die aarde met Jesus se kruisiging. Die projektor hou nie van die trein nie. En net om spiteful te wees kom die trein weer verby.

Die diens is verby, ons gaan drink tee en eet hot cross buns.
Almal groet, ons ry ook.
Vandag se diens? Ver verwyderd van die praise en worship wat "almal" wil hê. Dalk die eerlikse diens waarin ek in 'n lang tyd was. 
Klein kerk, min middele, in die berg se skadu - groot behoefte.
Ek weet, God was en is daar, in die kerk by ons en in ons harte.
Hy is orals, ook waar die Aussies kroek en kameras alles sien.

Tuesday, 20 March 2018

Kaapse Besoek

Sondagoggend vlieg ons Kaap toe. Bietjie vakansie en stafbesoek - wil kyk hoe gaan dit met ma en Werner.
Die vlug is leeg en soos gewoonlik druk my bene teen die voorste sitplek. Ek probeer slaap maar dit werk ook  nie. Ek skuif na 'n ander sitplek, teen 'n venster en kyk oor die landskap van bo af.  Van klein tyd af is ek gefasineer deur paadjies, en van bo af kan jy baie sien. Ek wonder altyd waarheen hulle gaan en wie daarop ry.
Die man agter die stokke sê ons is 200 km van die Kaap af en toe tref dit my, die landskap onder ons is swart en bruin, dis verskriklik droog. Daar is net grond. Nog nooit kon ek die paadjies so duidelik sien nie.
Die vliegtuig begin al brieke aansit voor lappies groen uitslaan, maar nie baie nie.
Die vliegtuig draai in om te land, oor 'n plakkerskamp en arm woonbuurt. Die grond is so vol gebreekte glas dat dit lyk of ons oor 'n hiperaktiewe disco bal vlieg. Die son se weerkaatsing op die glas kla ons aan - "kyk hoe mors julle".
Ons vat die pad Robertson toe, vriende bewerk die aarde daar. Aktief, berekend, met insig. Ander haal uit, hulle plant. Brokkoli, uie, druiwe, rooibos vir tee - alles vir 'n bepaalde tyd, met 'n plan. Berekend. Woeker.
Ek sit op die stoep en skryf en ek wonder hoe dit is dat een groep breek en die ander bou. Wat maak dat een ou opgee en die ander presteer. Dieselfde geleenthede, twee persone, verskillende resultate?
Die toekoms is interresant, die boer reken hy het 10 jaar se water, vanoggend meet hulle suiker in die druif. Niks staan stil nie.

Thursday, 1 March 2018

Maak Eers Klaar Waarmee Jy Besig Is!

Wanneer jy met te veel goed werk, daar nie genoeg tyd is nie, en daar nog in die ry staan, dan gebeur dit dat jy genoop word om iets wat nou belangrik is eers vir bietjie later los, omdat daar iewers ‘n ander belangriker iets is.  Wanneer later kom kan jy nie onthou waar jy dit vroeër gelos het nie en dan spandeer jy baie tyd om goed wat jy vroeër moes gedoen het te kry, sodat jy nou kan doen wat vroeër moes gebeur het maar gelos het vir later sodat jy iets anders vroeër kon doen!  
Nou weet jy nie meer waar jou vroeër se later is nie!

Whatever, vroeër of later, iets sal ons doen; maak verkieslik eers klaar waarmee jy nou besig is!

Thursday, 1 February 2018

Wisdom Born out of Trauma

The human, as part of life, will experience, endure and survive trauma.  Trauma being any deeply distressing or disturbing experience.  Fortunately, we are genetically encoded to let go of and recover from trauma.  However, trauma does show the fragility, instability and vulnerability of our humanity.

Sometimes a person will, due to a traumatic experience(s), be forced out of their old way of thinking into a new way of being – resulting in a natural way of evolution.  The old way of thinking and relating no longer suffice, hence the need to adapt.

Only by letting go can we unlock ourselves from the past, be delivered into the future and prepare ourselves for our next evolutionary experience.

“I do not wish tragedy on anyone but ever since that accident, I never fail to tell my wife I love her. I kiss my children every day.  Life is richer, fuller and deeper than I ever have experienced.  It has more meaning and depth that it ever had before.” (Unknown)

So here is my question – if you read this and shook you head saying or thinking that this is true; why do YOU continue on your old path and stay locked in the past? 

Please, do not wait for trauma to claim the future! 


Change your thinking now – let go of the past.

(From the work of Dr Berceli)

Tuesday, 30 January 2018

Dubbele Standaarde

Wanneer daar verskillende reels is vir verskillende mense in dieselfde omstandighede.

Ons ken dit goed - ek mag sekere goed doen, maar as iemand anders dit doen dan is dit verkeerd.  Byvoorbeeld - ouens wat vinniger as jy ry is maniake en die wat stadiger as jy ry is idiote.  

Dubbele standaarde.

So lees ek vanoggend in die Beeld van Ouma Lies wat reken Roger Fereder, wat sy 20ste Grand Slam gewen het, is seker al 'n miljarder en moet van sy prysgeld vir liefdadigheid skenk.  Waarskynlik goed bedoel, maar dan kan ek aanspraak maak op jou salaris, want as jy meer as Rx verdien is jy ryk en daarom moet jy jou geldjies deel.
Wengeld is salaris vir ander.

Dan trek ons die wat hard werk en presteer, en daarvoor beloon word af sodat ander opgetel kan word ....

As ek van Federer verwag om 'n deel te gee, kom ons se 10%, gaan jy jou hand in die sak druk en 10% ook ingooi?  Is dit 'n ongeldige argument, moontlik, maar in beginsel kan jy nie van een ou verwag wat nie van 'n ander in gelyke maat verwag word nie.

Hoekom word rugby spelers meer betaal as swemmers?  Hoekom sukkel paalspringers om borge te kry terwyl naellopers makliker kry?  Vraag en aanbod, sal ek dink. Opportunity.  Hoekom word sokkerspelers vir miljoene verkoop en veerpyltjies maak dit nie uit die kroeg uit nie (hipoteties natuurlik)?

En so kan ek aangaan.
Ek het 'n kleintjie dood aan dubbele standaarde - en so is ek self 'n meester daarvan.
Ons moet mooi dink voor ons reels maak vir ander.

Sunday, 28 January 2018

Goed en Swaar is Bure!

Ek lewer verlede Vrydag 'n motiveringspraatjie oor "Hoe om Gemotiveerd te Bly en Veerkragtigheid". Resilience - vir die wat frons.

Die groep trek swaar, dis vroeg in die nuwe jaar en die donker wolke hang.
Hoe motiveer jy mense wat in die spreekwoordelike dal van doodskaduwee is - jy kan nie!

Dis toe dat ek vir hulle vertel van hoe k@k (net so) dit met my gaan.  Verbasing, die ou wat hulle moet vertel van motivering pak op hulle af.  Toe ek die groot woord weer gebruik is daar 'n paar fronse en toe ek nie ophou nie kon ek verwarring op 'n paar gesigte sien.  Wat nou?

Ek vertel hulle van my vriend wie se vrou oorlede is en wat baie swaartrek.  Ek vertel hulle van 'n vriend wie se vrou Woensdag gehoor het die kanker is terug. Ek vertel hulle van 'n vriend van my wat sommer net doodgegaan het - stres en 'n gevolglike hartaanval.  Ek vertel hulle van my seun wat nie werk het nie en my kontrak wat amper op 'n einde is.
Want sien - as jy vir iemand vertel van jou moeilikheid, dan sal daar altyd iemand wees wat vir jou sal se; jy het nog nie van my moeilikheid gehoor nie .... en dan sal die volgende mater sy deeltjie bylas - want ons moet mekaar tog altyd oordoen.

(Image from Pinterest)
En toe vertel ek hulle van 'n klient wat Donderdag vir my vertel sy is in remissie, ek vertel hulle van my ma wat al 16 jaar skoon is, ek vertel hulle van Retha, wat ongeag haar hartseer aangaan met haar lewe. En nog.

Ek vertel hulle dat goedgaan en sleggaan bure is - hulle bly langs mekaar.  Daar is altyd, orals, goed en sleg.

Ek vertel vir hulle dat ek hulle nie kan motiveer nie - dis hulle besluit.  Ek vra hulle om te begin gee wat hulle het - tyd, liefde aandag, betrokkenheid, om 'n klein verskil iewers te maak.  Kry 'n purpose! Maak planne! So sal die positiewe energie wat hulle skep, terugkeer na hulle toe.  Want sien, sodra ons opkyk van die stofpad voor ons, kan ons dalk die lig in die verte sien, kan ons dalk die verskil sien wat ons maak - met niks, net met liefde.

Ek vra hulle om seker te maak dat die goed wat hulle kan doen, nie deur die dinge wat hulle nie kan doen nie, oorskadu word nie.  Ek vra hulle om anderkant hulle huidige moeilikheid te kyk, waar hulle graag wil wees, en hulle energie daar te gaan haal.  Ek vra hulle om te soek vir die goeie in hulle lewens, nou, veral daar waar hulle dink dit gaan net swaar.

Goed en swaar bly langs mekaar - by 'n robot staan 'n bedelaar langs 'n Porche, in die winkelsentrum staan "ryk" en arm in dieselfde ry, in 'n hospitaal hardloop mense bekommer in, terwyl ander op dieselfde oomblik bly is om ontslaan te word.

Ek kan jou nie motiveer nie - maar ek kan jou vertel wat gedoen kan word om gemotiveerd te lewe.  As jy wil luister. Uiteindelik maak die swaar nie saak nie, net die goeie gaan aan.  

Dit gaan regtig nie so sleg met ons nie!