Tuesday, 20 March 2018

Kaapse Besoek

Sondagoggend vlieg ons Kaap toe. Bietjie vakansie en stafbesoek - wil kyk hoe gaan dit met ma en Werner.
Die vlug is leeg en soos gewoonlik druk my bene teen die voorste sitplek. Ek probeer slaap maar dit werk ook  nie. Ek skuif na 'n ander sitplek, teen 'n venster en kyk oor die landskap van bo af.  Van klein tyd af is ek gefasineer deur paadjies, en van bo af kan jy baie sien. Ek wonder altyd waarheen hulle gaan en wie daarop ry.
Die man agter die stokke sĂȘ ons is 200 km van die Kaap af en toe tref dit my, die landskap onder ons is swart en bruin, dis verskriklik droog. Daar is net grond. Nog nooit kon ek die paadjies so duidelik sien nie.
Die vliegtuig begin al brieke aansit voor lappies groen uitslaan, maar nie baie nie.
Die vliegtuig draai in om te land, oor 'n plakkerskamp en arm woonbuurt. Die grond is so vol gebreekte glas dat dit lyk of ons oor 'n hiperaktiewe disco bal vlieg. Die son se weerkaatsing op die glas kla ons aan - "kyk hoe mors julle".
Ons vat die pad Robertson toe, vriende bewerk die aarde daar. Aktief, berekend, met insig. Ander haal uit, hulle plant. Brokkoli, uie, druiwe, rooibos vir tee - alles vir 'n bepaalde tyd, met 'n plan. Berekend. Woeker.
Ek sit op die stoep en skryf en ek wonder hoe dit is dat een groep breek en die ander bou. Wat maak dat een ou opgee en die ander presteer. Dieselfde geleenthede, twee persone, verskillende resultate?
Die toekoms is interresant, die boer reken hy het 10 jaar se water, vanoggend meet hulle suiker in die druif. Niks staan stil nie.

No comments:

Post a Comment