Dis Donderdag middag
voor Paasnaweek - Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Opstanding.
Die poorte is oop -
besighede maak vroeg toe en almal jaag om die Paasnaweek verkeer te mis.
Hulle is egter te
laat; verkeersverslae vertel reeds van ongelukke en opgehoopte paaie. Die eerste mense is reeds dood op die R21. Vyf op een slag. Smart op die Paasnaweek – soos Maria lank
gelede.
Sommiges van ons bly
tuis om die verkeer te mis. Dis langnaweek.
By die kerk maak ons
gereed vir die Avondsmaal.
Adoramis - om in liefde te
aanbid.
Eucharistie - viering van die
laaste Paasmaal van Jesus saam met Sy dissipels.
Die tafels word gedek
met brode, vleisbrood, dadels, druiwe en meer. Glase vir wyn en druiwesap word mooi uitgepak.
Versierings word opgesit. Dit lyk goed.
Eers hou ons nagmaal - tekse word gelees, liedere word gesing, stilte, ons neem die brood en doop dit in die wyn. Simbolies.
Ons steek kerse aan en bid. Ons staan stil voor God en is dankbaar dat Hy toegelaat het dat Sy Seun met 'n soen verraai kan word en sterf, sodat ons kan leef.
Ons stap om na die
saal en geniet 'n gemeentefees.
'n Doringkroon word
om 'n lamp gesit as versiering. Afronding. Totdat die liggie aangeskakel word, en ek
besef dat selfs binne 'n doringkroon was Jesus lig, en dat geen donker
groot genoeg is om lig uit te doof nie.
Wanneer laas het ons
mooi gedink oor wat hierdie paar dae beteken - het dit enige effek op ons
toewyding?
Geseënde Paasfees aan
almal.
Vrede.
Reis veilig.
No comments:
Post a Comment