Dis Sondag in Rondebosch. Ons kuier by vriende, die dominee van die NG Kerk Rondebosch. Hulle bly baie naby aan Nuweland, die krieketkykers parkeer voor sy huis en stap aan. Ons wikkel ons by die hek uit en ry kerk toe, stop eers gou by Spar om hot cross buns te koop.
Dis Palm Sondag, die dag wat Jesus Jerusalem ingery het - op 'n donkie. Die krieketkykers se donkies parkeer elke moonlike plek toe. Die Ausies erken hulle kroek.
Die kerk is oud, oor die jare het baie groot geeste daar gekerk, nou is daar min mense, van alle soorte - almal saam om te aanbid. Oorkant die kerk is 'n treinspoor, en 'n muur vol grafiti, en 'n ouma en kleinseun wat tennis speel.
Ons sing psalms, met orrelbegeleiding. Skielik staan almal op om mekaar te groet. Soene en bladskud. Almal is bly om mekaar te sien. Oomblikke van georkestreerde chaos.
Sit asseblief, nou volg 'n paar minute van stilte. Stemmig, respekvol.
Daar is 'n koor wat sing, palmtakke word voor die kansel gelê. Verjaarsdae word van die kansel af geluk gewens. In die kerk is tannie Annie Beukes, sy word 104 in Junie. 104. Hoe kry sy dit reg? Genade en harde werk is haar resep - sien, harde werk gaan jou eerder oud maak as dood.
Johan preek en projekteer die liedjies op die skerm; ons volg die orrel - die gemeente is ook besig om 'n nuwe psalm aan te leer, maar hulle gaan dit nie vandag sing nie. Ons luister mooi, Barrabas se naam beteken eintlik "seun van die vader", hy word vrygelaat sodat die "Seun van die Vader" gekruisig kan word. Sodat hy gered kan word; en ons.
Die trein kom verby, en die letters skud op die bord - net soos die aarde met Jesus se kruisiging. Die projektor hou nie van die trein nie. En net om spiteful te wees kom die trein weer verby.
Die diens is verby, ons gaan drink tee en eet hot cross buns.
Almal groet, ons ry ook.
Vandag se diens? Ver verwyderd van die praise en worship wat "almal" wil hê. Dalk die eerlikse diens waarin ek in 'n lang tyd was.
Klein kerk, min middele, in die berg se skadu - groot behoefte.
Ek weet, God was en is daar, in die kerk by ons en in ons harte.
Hy is orals, ook waar die Aussies kroek en kameras alles sien.
No comments:
Post a Comment