Wednesday, 15 February 2017

Valentyndag Nabetragting – Die dag voor en na.

Dis Woensdag middagete, en ek peins oor Valentynsdag.  Kom ons begin by Maandag.
Ek het "gehoor" moeksie soek 'n spesifieke kombuis implement; sy maak kos vir 'n lewe. Lekker kos, gevries of vars op die tafel, persoonlik of besigheid.
Sy werk hard en ek hoor.
Maandag het ek verjaar.  Ek kry baie gelukwensinge van vroegoggend af; nie gedink so baie mense gee om nie.  Sommige bel en ander stuur 'n boodskap. Almal is kosbaar.
Ek besluit om vir moeksie daardie implement te gaan koop - sommer vir Valentynsdag ook.  Sal 'n paar blomme bysit vir kleur.  Sy behoort aangenaam verras te wees.
Oppad winkel toe ry ek by verskeie mense verby - baie met 'n bord en 'n boodskap.  Sommige kruip weg agter die bode, kan jou nie in die oë kyk nie.  Ander kruip nie meer weg nie; dit maak nie meer saak nie.  Ander, lyk dit vir my, weet daar is mense met klein harte.  Hulle is oral, elke robot word beset deur swaarkry mense en opportunistiese verkoopsmense.  Toe ene agterkom ek wil niks koop nie, is die nonchalante opmerking "hoe lyk dit met 'n 20, ek het nog nie geeët nie".  Die robot red my.
Ek koop die implement, ek is opgewonde, kry een van moeksie se vriendinne in die winkel, sy reken "goeie keuse".  Wat weet ek, al wat ek wil hê is dat moeksie moet happy wees.
Ek is dankbaar ek hoef nie by 'n robot te staan nie.
Dis middag; ek spandeer 'n uur of wat saam met moeksie, ons kyk vir Bobby op die PVR.  Hy besoek 'n polisieman van Ceres wat in sy eie tyd en koste 'n hengse verskil maak in die omgewing.  Hy werk veral met kinders en slaap 3-4 ure per nag.  Vrywillig.  Al wat hy wil hê is 'n vliegkaartjie vir sy vrou se 50ste om oorsee te gaan.  Sy was nog nie daar nie.
Maar ek is gepla. 
Die polisieman sê as elke polisieman 10 ure, elke maand, ekstra tyd werk, sonder vergoeding - dan is daar 200 000 x 10 ure per maand waarmee 'n moerse verskil gemaak kan word.  2 Miljoen man ure, ekstra.
Terwyl ek skryf kry ek nog 'n oproep of twee - ek word vir 'n ontbyt genooi.  Dit voel goed.
Ek kry 'n oproep van Koos - hy laat my dink; wat maak ek met al hierdie coaching skills van my?
Ek dink ek verstaan skielik iets van die gepla in my binneste - wat gee ek verniet vir mense wat nie het nie omdat ek wil gee sodat hulle 'n beter kans het?
My Staffie kom verduidelik vir my dis etenstyd - ek gehoorsaam.
Valentynsdag – moeksie gaan stap vroeg en ek gaan ry op ‘n fiets wat nêrens heen gaan nie.  Sy kry die blomme en die kombuisimplement.  Sy is happy.  Dis goed so.  Ons gaan drink koffie later die aand – ‘n magdom mense sit orals, sommiges duidelik verlief, ander gaan deur die motions. 
Woensdag – die rooi hartjie sjokolades van Woolies is 50% goedkoper.  Jy kan weer bekostig om blomme te koop.  Alles is terug na normaal toe, of nie.  Bemarking van liefde was weereens suksesvol.  Hier en daar is ‘n paar glimlaggende gesigte, daar is egter meer ontnugterdes, hulle verwagtinge het nie gerealiseer nie.  Waaroor gaan hierdie commotion nou weer?  Mense se gesigte en wat hulle nie sê nie vertel die waarheid.
Ek wonder weer - sal dit nie beter wees as ons die moeite wat ons insit vir Valentynsdag deurlopend maak nie?  In plaas van een keer per jaar, hoekom maak ons nie eerder tyd een keer per dag om toegewyd met mekaar te gesels nie, hoekom drink ons nie eerder een keer ‘n week koffie nie, hoekom maak ons nie moeite om elke dag in liefde met mekaar om te gaan nie?  Of is dit makliker om voor die TV te sit, jou stokperdjie te bedryf, saam met pelle te kuier, jou ding te doen.  Asof Valentynsdag in een dag gaan regmaak wat in ‘n hele jaar geen aandag gekry het nie.  ‘n Vuur wat toegelaat is om dood te gaan steek moeiliker aan as ene waarvan die kole aan die smeul gehou word.  Jy kan nie ‘n maraton hardloop as jy nie weekliks tyd op die pad spandeer nie.
Ek dink aan my geliefde stelling – “die klontkop waarmee jy gaan oud word is die ene wat langs jou slaap”.  (OK, dis die “nice” weergawe.) Hoe lyk jou oudword plan, prentjie?
More is Donderdag en teen Vrydag behoort baie van die gemoedere oor Valentynsdag mislukkings (fails) te normaliseer.  Wat het verander?
Kom ons maak eerder soos daardie polisieman en deel jou liefde mildelik uit, daagliks, aan die naby jou en ver van jou.  Dan maak liefde die wêreld weer rond.  En dan vier ons volgende jaar se Valentynsdag die vordering wat ons gemaak het, ons maak dit ‘n dag van oorwinning en verwondering – eerder as ‘n dag van verwagtinge.
Kom ons kyk wat ons kan doen, 1 uur op 'n slag, vir die mense rondom ons.
Kom ons toets mekaar volgende jaar hierdie tyd.
Manne, onthou om julle vrouens lief te hê.  Vroue, doen moeite met die ou knorpot van jou.
En nou?  Ek voel beter, daar is mense wat lief is vir my, ek dink ek het 'n plan.  Ek is dankbaar ek hoef nie by ‘n robot te staan nie.  Ek is dankbaar ek kan elke middag huistoe gaan, na my vrou toe wat vir my lief is.  En my dogter.  Ek is dankbaar ek kon my vrou al oorsee laat kuier.

MooiLoop

Monday, 23 January 2017

So, wat staan ons almal te doen?

Koerante en TV nuus is “depressing”.

Die probleem is dat as jy nie koerant lees nie, is jy oningelig.  Indien jy wel koerante lees, is jy verkeerd ingelig (of misinformed).

Ek begin survival programme kyk sodat ek kan leer hoe om in die sneeu te oorleef, of weet wat om te doen as ek by ‘n vulkaan beland, of om te oorleef as een-of-ander duistere rede op ‘n klein boodjie op die oseaan dobber, of hoe om nie by ‘n uitstalling of straatmark geskiet te word nie.  Absurd.

My grootste uitdaging is om nie, soos ons vrinne van oorkant die oseaan wat houtskoene dra sou sê, ‘n gemoedsbekakking te kry nie!  Dis asof daar ‘n swart stroom media is wat jou wil insluk en vertel hoe sleg dit gaan en hoe gevaarlik dit is en net wys wat hulle wil hê jy moet sien.  Genade.

Dan is daar die stortkop brigade (maw politici).  Van gewone stortkoppe tot goue stortkoppe.  En hulle vertel graag vir ons hoe hulle dinge gaan regruk.  Sien, niemand doen niks verniet nie, veral nie ‘n beroepspolitikus nie.  Jy sien, dis juis hierdie sogenaamde leiers wat ons in hierdie gemors ingekry het – wat gaan hulle nou anders doen.  Daar is wel ‘n paar wat probeer.

Die oplossing is dat ons verantwoordelikheid moet aanvaar vir onsself en ons heil.  Dis egter moeilik, want dan is daar niemand om te blameer nie.  Indien ons doen wat gedoen moet word SAL dinge uitwerk.  Punt.  Wat ons moet doen is egter maklik om oor te praat en moeilik om te doen. 

Wat dink ek is die oplossing?  Die oplossing lê by die verandering van ons harte!
Hou om Vadersnaam op kla,
Staan vroeg op,
Werk hard,
Wees tevrede met wat jy het – daar is ‘n verskil tussen “wants and needs”,
Wees geduldig – Rome is regtig nie in een dag gebou nie,
Werk mooi met jou geld – as kontant koning is, is kontantvloei die koningin (maw die baas)
“Be nice” met almal, insluitende jouself,
Smile, maak net seker jou gesig weet dit,
Al gaan dit hoe moeilik, tel jou “blessings”, daar is baie,
Groet mense wat by jou verby loop, al dink hulle jy is gek – dalk is jy die sonstraal wat hulle nodig het,
Gee jou man of vrou ‘n soen. Druk hom of haar so ‘n klein bietjie langer, totdat jy voel dit kom van binne af,
Kyk jou seun in sy oë en erken hom as ‘n man – en gee hom ‘n druk,
Sit by jou dogter en luister na haar – sien die vrou wat sy word. Hou haar vas; dis jou kind.
Let op die eerste woorde wat jy sê wanneer jy mense sien – en die laaste woorde voordat jy wegstap / of wanneer jy jou kop op die kussing neerlê.  Wat is jou boodskap?  Dink jy mense sal uitsien om weer met jou te gesels?
Aanvaar dat ander nie soos jy is nie; omarm die verskille – dalk maak dit jou ‘n beter mens!?
Vergewe jouself en ander – dis makliker as om met al daai laste en wroegings rond te loop.

Ek, jy, ons, die gesin, die stad, die provinsie, ons land en die wêreld is nie afhanklik van leiers en politiek nie.  Alles begin by jou en my – ons maak die verskil.


Ongelukkig is daar net een van twee keuses – (1) maak ‘n verskil of (2) vrot in jou donker gat.  Daar is niks tussenin nie – jou keuse!  Daar is baie van ons wat ‘n verskil wil maak.

Monday, 5 December 2016

Kom ons Besluit gou!

Dit gaan baie beter met my, veral omdat ek nie meer rugby kyk nie.  Dit herinner my te veel aan swak besluitneming. 
Die interresante aspek van besluitneming is dat daar gewoonlik twee “gevolge” is.
Die eerste gevolg is die direkte gevolg – korttermyn – wanneer die besluit uitgevoer word en die onmiddelike probleem (simptoom) aangespreek word.
Die moeilikheid lê by nommer 2 – wanneer die werklike gevolg van die besluit oor tyd duidelik word (of die sistemiese gevolg).  Dis waar jy weet of dit die regte besluit was.
Voorbeeld – vat maar die regering se transformasie dryf.  Die gevolge van regstellende aksie en BBBEE en al daardie interresanthede raak nou na 20+ jaar eers regtig sigbaar – in ‘n flenters ekonomie en ‘n vermorselde Sprinbokspan.
“Resepte” is daar vir ‘n rede –
  • As jy besluit om minder sout in jou kos te gooi, gaan dit ‘n effek op smaak hê. Vir ‘n huisgesin is dit OK, want moeksie rule.  Vir ‘n restaurant kan dit jou besigheid kos.
  • In projekbestuur is daar die faktore van koste, kwaliteit en tyd.  Enige besluit oor die een het ‘n impak op die ander – nou en later.  Korttermyn suksesse kan lei tot langtermyn pyn.
  • Vir sport is dit (in my oë) ook eenvoudig – beste spelers, beste afrigting, beste administrasie en beste uitrusting = ‘n goeie kans op sukses.  As jy karring met die resep moet jy nie verwag om te wen nie.

Elke besluit het ‘n kort- en langtermyn gevolg.

Dink mooi!

Wat is die Waarheid?

Die gebeure die afgelope tyd in die kerk en in die howe het my laat dink.  Onwillekeurig laat dink.  Ek word gereëld beskuldig dat ek filosofeer.  Veral omdat ek hardop dink.
Filosofie. Wat is filosofie? ‘n Kort definisie is “dis ‘n soeke na die waarheid”.  Wie se waarheid?
Elkeen van ons het ons eie ervarings en waardestelsels wat dien as filters waardeur ons na goed kyk, interpreteer en dan besluite maak.  So, wat is die waarheid?  Ek twyfel of daar ‘n absolute waarheid is, maak nie saak waarvandaan dit kom nie – elke waarheid het ‘n waardestelsel en konteks waarvan ek en jy dalk nie bewus is nie.
Daarom het ons “tolerance” nodig – verdraagsaamheid in Afrikaans.  As daar nie tolerance is nie, moet ons dalk ons ego en intensies ondersoek – eerlik.  Hoe gay is gay? Hoe getrou is getroud?  Hoe gelowig is godsdiens?  Hoe eties is reg?  Hoe lank is ‘n stukkie tou?

Onthou – ‘n soliede lyn is op sy beste ‘n versameling kolletjies!
Image result for waarheid

Friday, 4 November 2016

Verlies

Verlies – ‘n nare woord. Gaan gewoonlik met hartseer of spyt gepaard.
Dit impliseer dat jy iets verloor het wat jy gehad het.
Nog ‘n briefie kom vanoggend verby – nog iemand wat ek ken het aanbeweeg.  Sy het iewers in die gang af gewerk, ons het gegroet en soms bietjie twak gepraat. Dis verby.
My dogter ry more saam met vriende om ‘n doop by te woon, iewers in die platteland, 2 ure ver.  Sy moet saam met iemand ry anders gaan sy nie. Ek sukkel om te glo dat my dogter veilig sal wees as daar iets langs die pad gebeur. Verlies.
Die staatspresident het al sy kredietwaardigheid verloor.  Ander het hulle waardigheid verloor – hulle huil op die TV wanneer hulle vertel dat hulle by ‘n shebeen gaan kuier het, wat toevallig naby die Guptas se huis is.  Die omie langs die pad vanoggend het sy lus vir die lewe verloor – waar is sy kinders? Waar is sy familie? Het hulle hom ook langs die pad verloor.
Ek het my respek verloor – vir leiers wat nie leiers is nie. Vir mense wat politieke korrektheid belangriker ag as die waarheid.  Waar reg net bestaan vir die wat in posisies sit, waar mense dronk is van mag – en so hulle menswees verloor.
Tog – op fb is daar ‘n post waar ‘n ma vra dat mense asseblief nie vir haar seun wat by verkeersligte bedel, geld gee nie.  Sy heg ‘n foto aan.  Die geld gaan vir sy dwelmbehoefte.  Sy het nie haar liefde vir haar seun verloor nie.  
Stop by die verkeerslig vanmore – knoop ‘n gesprek aan met die venster-tot-venster verkoopsman.  Hy reken die mense het nie meer kontant nie, daarom verkoop hy nou van hierdie plastiek sakkies waarin jy ‘n kredietkaart kan skuif.  
Hy smile en groet toe ek weer verbykom.  Hy het niks om te verloor nie.
Ons praat by die selgroep oor die moeilikheid in ons land en bedink hoe ons as Christene moet optree.  Dis moeilik. Soms wil ons die manne wat droogmaak gaan afstof, en dan wonder Marius wat sou gebeur as 100 of 200 van ons manne opruk en daar gaan bid, gemoedere kalmeer.  Nuwe prentjie in my kop. 
Ek lees van ‘n paar politici wat gister strate gaan skoonmaak het in Pretoria, nuwe hoop. Alles is nog nie verlore nie.  
Daar is tog goeie mense op alle vlakke en plekke – daar is hoop.  Ek beleef my selgroep – dinge gaan altyd beter verder in die pad af, glo ons.  Wat het ons regtig wat ons kan verloor.
Verlies – jy kan nie iets verloor wat jy nooit gehad het nie. Jy kan nie God aankla as jy nog nooit in Hom geglo het nie. Jy kan nie ‘n geliefde verloor, as jy hom of haar nooit regtig liefgehad het nie.  Jy kan nie oor die gemeenskap kla as jy nog nooit bygedra het nie.  Jy kan nie oor die kerk kla as jy nie bywoon nie.  Jy kan nie oor mense by die werk kla, as jy nie met hulle gepraat het nie.  Jy kan nie kla dat mense jou ignorer, as jy nie deelneem nie.  Jy kan nie kla oor wetteloosheid as jy self oor die rooi verkeerslig ry nie.  Jy kan nie kla oor egoism as jy nie diensbaar is nie.  Jy kan nie oor enigiets kla as jy nie ten minste daar is/was nie.  Alles gaan nie oor jou nie.
Jy kan nie jou lewe verloor as jy nog net bestaan het nie.  Lewe ‘n bietjie.  Verlies sal daar altyd wees, maar aan die einde van hierdie lewe wen ons weer alles. 

Reis veilig Ilke.  MooiLoop kollega. Hamba kahle!

Sunday, 25 September 2016

Verduidelikings?

Die afgelope paar weke het siekte en dood nogal sy draai in my omgewing gemaak.
So het genade en uitkoms en hoop ook sy deel gedoen.
Gister het ons kermis by die kerk gehad, met speletjies en 'n vleistafel en skyfskiet.
Ons het afgesluit met 'n wynveiling en 'n show.
Frank Opperman met "Die Hond".
Grappig en hartseer. Baie goed.
Frank vra die vraag "weet jy hoe dit voel"?
Baie antwoord met betaande oë. Hulle weet.
Ons pak op en gaan huistoe, pak af!
En ek besef - vir 'n gelowige is geen verduideliking nodig nie, vir 'n ongelowige is geen verdeuideliking moontlik nie.

Tuesday, 13 September 2016

Hearts of Stone

The Godfather, Part III: "when the Godfather, Don Corleone, is forced to visit the distinguished Cardinal Lamberto to tell him the bad news that a legitimate business deal involving the Vatican Bank has gone bad. The bank is run by the Archbishop and a coalition of Catholic businessmen. 

"The Cardinal listens to the Godfather; then he says something quite profound. He picks up a stone and says, 'Look at this stone. It has been lying in the water for a very long time. The water has not penetrated it.' Then he smashes the stone. 'Look,' he says peering at the smashed insides of the stone, 'perfectly dry. The same thing,' the Cardinal continues, 'has happened to men in Europe. They have been surrounded by Christianity for centuries, but Christ does not live in their hearts.' 


In this country of ours, did anything really change?

(Source: Rev. Jef Olson, "Reassessment of Ministry")