Friday, 4 November 2016

Verlies

Verlies – ‘n nare woord. Gaan gewoonlik met hartseer of spyt gepaard.
Dit impliseer dat jy iets verloor het wat jy gehad het.
Nog ‘n briefie kom vanoggend verby – nog iemand wat ek ken het aanbeweeg.  Sy het iewers in die gang af gewerk, ons het gegroet en soms bietjie twak gepraat. Dis verby.
My dogter ry more saam met vriende om ‘n doop by te woon, iewers in die platteland, 2 ure ver.  Sy moet saam met iemand ry anders gaan sy nie. Ek sukkel om te glo dat my dogter veilig sal wees as daar iets langs die pad gebeur. Verlies.
Die staatspresident het al sy kredietwaardigheid verloor.  Ander het hulle waardigheid verloor – hulle huil op die TV wanneer hulle vertel dat hulle by ‘n shebeen gaan kuier het, wat toevallig naby die Guptas se huis is.  Die omie langs die pad vanoggend het sy lus vir die lewe verloor – waar is sy kinders? Waar is sy familie? Het hulle hom ook langs die pad verloor.
Ek het my respek verloor – vir leiers wat nie leiers is nie. Vir mense wat politieke korrektheid belangriker ag as die waarheid.  Waar reg net bestaan vir die wat in posisies sit, waar mense dronk is van mag – en so hulle menswees verloor.
Tog – op fb is daar ‘n post waar ‘n ma vra dat mense asseblief nie vir haar seun wat by verkeersligte bedel, geld gee nie.  Sy heg ‘n foto aan.  Die geld gaan vir sy dwelmbehoefte.  Sy het nie haar liefde vir haar seun verloor nie.  
Stop by die verkeerslig vanmore – knoop ‘n gesprek aan met die venster-tot-venster verkoopsman.  Hy reken die mense het nie meer kontant nie, daarom verkoop hy nou van hierdie plastiek sakkies waarin jy ‘n kredietkaart kan skuif.  
Hy smile en groet toe ek weer verbykom.  Hy het niks om te verloor nie.
Ons praat by die selgroep oor die moeilikheid in ons land en bedink hoe ons as Christene moet optree.  Dis moeilik. Soms wil ons die manne wat droogmaak gaan afstof, en dan wonder Marius wat sou gebeur as 100 of 200 van ons manne opruk en daar gaan bid, gemoedere kalmeer.  Nuwe prentjie in my kop. 
Ek lees van ‘n paar politici wat gister strate gaan skoonmaak het in Pretoria, nuwe hoop. Alles is nog nie verlore nie.  
Daar is tog goeie mense op alle vlakke en plekke – daar is hoop.  Ek beleef my selgroep – dinge gaan altyd beter verder in die pad af, glo ons.  Wat het ons regtig wat ons kan verloor.
Verlies – jy kan nie iets verloor wat jy nooit gehad het nie. Jy kan nie God aankla as jy nog nooit in Hom geglo het nie. Jy kan nie ‘n geliefde verloor, as jy hom of haar nooit regtig liefgehad het nie.  Jy kan nie oor die gemeenskap kla as jy nog nooit bygedra het nie.  Jy kan nie oor die kerk kla as jy nie bywoon nie.  Jy kan nie oor mense by die werk kla, as jy nie met hulle gepraat het nie.  Jy kan nie kla dat mense jou ignorer, as jy nie deelneem nie.  Jy kan nie kla oor wetteloosheid as jy self oor die rooi verkeerslig ry nie.  Jy kan nie kla oor egoism as jy nie diensbaar is nie.  Jy kan nie oor enigiets kla as jy nie ten minste daar is/was nie.  Alles gaan nie oor jou nie.
Jy kan nie jou lewe verloor as jy nog net bestaan het nie.  Lewe ‘n bietjie.  Verlies sal daar altyd wees, maar aan die einde van hierdie lewe wen ons weer alles. 

Reis veilig Ilke.  MooiLoop kollega. Hamba kahle!

No comments:

Post a Comment