Friday, 21 June 2019

Pitsere - of "Boils" soos die Engelse sou sê!


Pitsere, het my ma gesê, kry jy wanneer jou bloed vuil is.
Om jou bloed skoon te kry, moet jy jou sisteem skoonkry.  Om jou sisteem skoon te kry moet jy Engelse Sout gebruik (dis nou as ek reg kan onthou).  Dan kan jy hulle uittrek deur 'n glasbottel wat warm gemaak is, daaroor te druk.  'n Vakuum word in die bottel gevorm en suig die pit uit.  Morsig. Vrek seer.


Soms, as jy een van die ongelukkiges is, kry jy ‘n “sewe kop pitseer”.  
Logies, dis wanneer daar sewe pitte in een seer is. Nagmerrie. En hulle moet almal uit.  Deur een gat. Een na die ander.  Een op ‘n slag.
Dan moet die wond van binne gesond word!


As jy kyk die aanstellings wat die ANC regering nou weer gemaak het is dit duidelik dat hulle nie die sisteem skoon kry nie. Cyril sout lyk my is nie sterk genoeg nie – want dieselfde koppe kom weer tevoorskyn, net op ander plekke.
En die vorige wonde is nog nie eers gesond nie!

Monday, 10 June 2019

Desperaat

Ek ry gistermiddag huistoe en by die Saxby/Ou Jhb kruising staan Connie. Netjies aangetrek. Ek ken hom. Hy het 'n kleurvolle bord wat sê hy soek werk.  Nie geld nie; werk. Ek het hom by Jakob se Put gesien, soekende na werk.
Hordes gedagtes stroom deur my kop - hoe help ek hom?
Ekself. Ek weet nie eens of ek iets voel nie. Emosies - hartseer, verstarring, skok, onvergenoegsaamheid, seer, seer, seer.  Iemand teen my lyf, wat werk soek, nie geld nie.
Werk, in hierdie tyd van swak ekonomie en swak leierskap. Politici wat 'n spel speel. Wat besluite maak wat hulle sakke bevoordeel. Besluite maak wat hulle partye bevoordeel .... hoe draai ons dit om?
Hoe vertel ek vir Connie dis OK, alles werk uit, God het 'n plan - terwyl niks vir hom OK is nie, niks uitwerk nie en God se plan onduidelik is!
Connie, 60+, wit, man, B Comm, ervare, wil werk - staan op die hoek van 'n straat met 'n plakkaat en soek werk - soos baie ander. Ander wat ek nie ken nie.
Regtig? Hoe lank nog?

Sunday, 26 May 2019

Coenie

Coenie de Villiers. Sanger. Klavierspeler. Musikant. Storieverteller. Leunnaar. Coenie het gisteraand in ons kerk opgetree - wat 'n "show".
Op note het hy ons vertel van Anna, sy ma, Solly en die Buick. Almal stories wat hy in die middel van die nag uitdink - sê hy - liegstories. Lekker sing stories.
Hy het gesing van vriende verby, die laaste maal, van die groot afgrond, die finale armdruk - tussen ons en die ewige. Vir 'n wyle was daar 'n geur van Leonard Cohen.
Hy het vertel van verlange as jy oorsee bly - en baie van ons het 'n oomblik gehuiwer. Wie word nie meer daardeur geraak nie. Die moderne eeu van bedreiging en winkende voorspoed, van trekarbeid en verspreiding.
Sy storie oor 'n optrede in Kanada het 'n senuwee geraak. Na die optrede kom 'n dame by hom aan. Bloedrooi oë. Emosioneel. Sy sê sy het "terrible" dinge van ons taal, Afrikaans, gehoor. Dat dit klink om soos met lemmetjies te gorrel - hoe weet jy elk geval hoe dit voel om met lemmetjies te gorrel, en dan nog leef om dit oor te vertel? Sy het egter die hele optrede met geslote oë gesit en alhoewel sy nie die taal verstaan nie, was sy nog nooit so meegevoer deur 'n taal soos Afrikaans nie. Geen lemmetjies nie. Geen gegorrel!
Dit is soos jy sê Coenie  - musiek is samebindend. Dit verdeel nie. Ook - musiek is 'n gawe van bo - net soos jy sing. Dit was uitstekend.
O ja, vir die wat nie weet nie, Land Rovers het lank gebruik gemaak van Buick enjins 😉
MooiLoop. Vrede. Afrikaans.

Sunday, 28 April 2019

Petrol en Eredienste

Ek is 'n petrolkop.
Ek kan my verstom en verlustig en sommer meegevoer raak oor wat alles op een oomblik gebeur wanneer jy met jou voertuig ry.
En dit maak nie saak of dit 'n klaarbetaalde, goedgebruikte, sonverbleikte galoppie is - en of dit 'n DDM (Duur Duitste Motor) is nie. Ja, en Land Rovers tel ook.
Vir 'n oomblik, probeer jou voorstel hoeveel duisende parte en stelsels en elektroniese boodskappe op elke gegewe oomblik skuur, draai, druk, trek, stuur, ontvang, verwerk, bereken ..... om jou en jou wiele aan die gang en oppad na jou bestemming te hou.
'n Meganiese wonderwerk, wat ons as totaal vanselfsprekend aanvaar.
Ons ry vanoggend met my LR kerk toe. Ek verlustig my in die klank van die enjin, die gladde oorskakeling van die ratkas, die skerp dog presiese werking van die remme, die klank van die radio - en ek staan (of sit om meer presies te wees) verstom oor hoe mens dit regkry om al hierdie komponente in harmonie te laat saamwerk, net sodat jy vinniger oor afstand kan beweeg na 'n plek van keuse. Verstommend.
Ons ry kerk toe vanoggend en stap by die kerkgebou in. Ons begin om mense te groet.
Die koffie span is op hulle pos, pak koppies en pierings uit, kook die water, sit die suiker uit - teelepels netjies in die pierings. Reg vir tee na die diens.
By die deur word ons verwelkom deur 'n selgroep.
Agter in die kas is die data span reg vir die hantering van die musiek en die aanbieding.
In die konsistorie is die musiekgroep besig om die laaste reëlings vas te maak - hulle het reeds in die week die liedjies gekies en geoefen, vanoggend voor kerk weer.
Voor in die kerk is die liturgiese ruimte versorg - pragtige blomme en bande en kleure - en die sewe kerse brand by die kruis. Almal brand want Jesus het mos opgestaan.
In die sandbak voor die kruis brand kleiner kerse, opgesteek deur mense wat wil - reggesit deur die Gebedsbediening.
Die kinders sing Jesus het my omgedop en word begelei deur die Kinderbediening.
Die sanggroep begelei ons, die dominee preek sy hart uit, die diakens neem kollekte op - ons word (en is) geseën.
Ons stroom na buite - daar is eetgoed op die tafels, die tannies sorg vir ons. Tee word gedrink en ons kuier saam - reël gou 'n fliek vir volgende naweek. Life is good.
En vir 'n oomblik besef ek dat die gemeente in hierdie gebou, net soos my motor, 'n verstommende hoeveelheid parte en dele is wat met mekaar interaksie het en sorg vir 'n gemeenskap. 'n Gemeenskap van gelowiges, met verhoudinge en intriges en uitdagings, nie altyd in harmonie nie, maar saamgebind deur die liefde vir Jesus Christus. 
'n Mellemeule rit deur die lewe. 
Ongelooflik.
Ek is 'n petrolkop - en 'n gelowige.


Wat 'n rit! 😊

Saturday, 2 February 2019

Dominee Tienie

Toe gaan kyk ek weer vir Ds Tienie, 2 keer die show en nou die movie.
Hoekom weet ek nie eintlik nie. Dalk omdat ek bitter graag wou sien dat 'n leier in die gemeenskap, wat die plot verloor het omdat hy almal wou gelukkig hou, weer 'n leier van sy gemeenskap word.
Dalk omdat ek ook baie jare in die kerk is en orals betrokke is - en myself dikwels die vraag "waarmee is ek besig?" vra.
Doen ons die regte goed?
Dien ons die regte mense?
Is ons besig met die dinge van God of die God van die dinge?
Soms dink ek ek weet. Maar net soms.
Ons beroep 'n nuwe dominee, met 'n profiel, en uitkomste - om ons die toekoms in te vat.
Waarheen?
Watter kant van Voortrekkerweg gaan ons onsself besig hou? 
Met wat? Met wie? Of gaan hy en ons 'n Ds Tienie op ons trek?


Dalk moet almal van ons Ds Tienie die movie gaan kyk, sodat daar minder dooie mense op ons stoep kan wees.

Tuesday, 22 January 2019

Week van Gebed

Dis vroeg Januarie en ons begin die jaar op ons knieë.
Ons hou 'n gebedsweek en Ds Martin gesels met ons oor die gesindheid en nodigheid van gebed.
Ons moet nie soos die Fariseers bid nie - op die straathoeke en met 'n groot omhaal van woorde.  Maar dis hoe hulle dit gedoen het, want dis hoe hulle geleer is - jy moet beindruk, mens en God.  Ek wonder - wat is dit wat ons vandag doen met die insig wat ons het - wat oor 'n jaar of 100 oor gefrons sal word.
Dis soos die Afrikaanse boer vir die Engelse meisie sê - jy is mooi, maar jy is Engels, dis moeilik!
Ons moet eerder soos die tollenaar bid - sonder opkyk, met die hand op die hart, vergewe my sondaar - asseblief.  Rou, eenvoud, sonder baie woorde. Sê wat jy bedoel.  Maar self dit is moeilik.  Gelukkig vul die Heilige Gees in waar ons tekort skiet - ek dink in my geval word alles ingevul wat tussen "Liefdevolle God" en "Amen" kom.
Ek bekyk ons kerk - daar is baie ruimtes. 'n Ruimte waar die dominee kan opdraf en sy ding doen, 'n ruimte waar daar gebid en kerse opgesteek kan word, 'n ruimte waar die voorsangers staan ..... en daar is 'n ruimte in my seerkry hart wat volgemaak wil word.
Ek sien - om geen verklaarbare rede - die boeresaal in Blumfelde, net anderkant Derm, in Namibia - waar die boeregemeenskap gereeld bymekaargekom het vir preke, biddienste en vergaderings; politiek, oorlog, droogte en boerdery vergaderings. 'n Sink skuur om die minste daarvan te sê, waarvan die kante soos vlerke opgelig kan word. Heeltemal horisontaal sodat daar 'n briesie kan deurkom om die versengende Desember hitte beveg. Met twee puttoilette, ook van sink, langs mekaar op die rivierwal - om te verseker dat daar verligting kan wees as die natuur roep.  En hy roep. Almal.
Ek wonder hoeveel gebede is daar al gebid. Terwyl die sweet van die bidders afdrup - dalk omdat dit warm is, dalk omdat die moeilikheid groot is.  Soos Jesus se sweet wat in bloed verander het.
Ek wonder hoeveel van daardie gebede is verhoor? Hoe vurig die omies kon bid - met 'n groot omhaal van woorde, asof hulle vergeet het dat God weet, asof hulle vergeet het om Amen te sê.
Ek buig my hoof en ek word stil, ek wonder of God hoor - soms twyfel ek, dis moeilik!
Dis gebedsweek - ons begin die jaar op ons knieë! In afhanklikheid.



Sunday, 20 January 2019

Oom Johan, die Voorman en die Bybel

Oom Johan stap al verby 80, 84 om presies te wees - maar nog steeds regop en fors, met sy hare perfek gekam en voorarms waarvoor Popeye skrikkerig sou wees.
Hy was nog altyd 'n man wat sy geloof en die Bybel baie ernstig opgeneem het, en daarom is dit nie snaaks dat die gou deel van enige gesprek raak wanneer hy in die omtrek is nie.
Soos dit maar met almal gaan, haal die jare ons in, en kort voor lank moet ons uit die groot woonhuis met die groentetuin trek, na 'n meer geskikte huis met minder uitdagings. So bly oom Johan deesdae oos van Windhoek in 'n estate, met sy rug teen die lyndraad, en op 'n goeie dag kan hy die stad sien.  Die wind waai altyd daar. Soms staan die wild van buite en kyk na die mense en hulle dinge in die binnekant van die draad - wat hulle moet veilig hou.
In estates is daar altyd 'n gekap en 'n gebou, en hier is dit niks anders nie. En waar daar gebou word is daar voormanne en arbeiders - baie voormanne is Basters en baie arbeiders is Ovambos. In die sweet van jou aangesig sal jy 'n ander man se huis bou.
Dis ook nie lank nie of daar is 'n paar arbeiders wat oom Johan raakloop en gou loop die woord dat jy 'n Bybel by oom Johan kan kry.
Man met inbors wat hy is, aanvaar hy geen besoeke buite etenstyd nie, en moet die manne eers werk voor hulle by oom Johan 'n draai kan maak. Saam met die Bybel gaan daar dan ook gesprek oor die Woord.
Weerbarstig vra 'n voorman toe mos  vir oom Johan "wat maak jy", want die manne moet werk. Dis toe dat oom Johan met 'n ystere kalmte vir die voorman aandui dat die etenstyd is - en met 'n vraag opvolg ..... "het jy 'n Bybel?"
"Ja, ek het" is die antwoord!
"Nou lees hom dan" volg die aanbeveling soomloos.
Einde van gesprek.