Tuesday, 24 December 2024

Opgee en Oorgee - 2025

 

Opgee en Oorgee - 2025

Vir baie jare het ek padwedlope gedoen, selfs aan ‘n maraton of twee deelgeneem, en wanneer jy hardloop kan jy nie met verdeelde gedagtes (two minds) oefen of deelneem nie.  Wat padwedlope my geleer het is dat jy net so toegewyd moet oefen en werk as wat jy aan jou geloof toegewyd is – sonder absolute toewyding is daar ruimte vir twyfel.  Twyfel in jou vermoë om die afstand af te lê, twyfel of jy moet aanhou, oor begin of opgee, of twyfel in jou geloof aan God.

Dit het my ook geleer dat ongeag hoe fiks jy is, hoe hard jy werk of hoe hard jy oefen – dit nie altyd goed gaan nie.  Elke wedloop is nie maklik nie.  Elke opdraande het ‘n afdraande waarna jy reikhalsend uitsien, net om desperaat die volgende opdraande in die oë te kyk – maar wanneer jy teenwoordig is (present), wanneer jy is waar jou voete is, dan raak die op- en afdraandes ‘n simfonie van beweging, van ritmiese voetval, sweet afvee, water drink, gesprek met mede-atlete en self, ‘n verby skuiwende landskap, en een van verwondering vir die gemak van beweging van sommige teenoor die loop-en-val van ander.

Wanneer jy by die einde kom, met of sonder gemak, die eindstreep oorsteek en nieteenstaande jou konstante belofte aan jouself om dit nooit weer te doen nie – kyk jy tog of die dalk jou persoonlike beste is, net om dan op jou volgende wedloop te besluit.

Dit hang af van hoe jy daarna kyk – maar in padwedlope, fietsrenne en baie soortgelyke sporte is almal wenners.  Wanneer jy oor die eindstreep gaan en jy ontvang jou medalje – is jy ‘n wenner.  Jy verloor slegs wanneer jy nie die eindstreep bereik nie, wanneer jy opgee – en tog moet jy soms opgee met dit waarmee jy besig is, want “hardloop” is dalk nie vir jou nie.  Ook so in die lewe. 

Maar ons gee nie oor nie – want daar is altyd iets anders waarin jy kan presteer.  En dalk is presteer nie om op die podium te wees nie, of jou persoonlike beste te verbeter nie.  Presteer is baie keer net om op die baan te wees, om net klaar te maak – papnat gesweet en met ‘n (moedige) glimlag.  Soos die man in die arena. 

Die ou wat wen is die swetende, blasende, moeë persoon op die baan – anders as die verloorder wat kommentaar lewer op die paviljoen.

Vrede en Voorspoed vir julle almal!

Johan Coetzee. 24/12/2024

(‘n Aanhaling uit my nuwe boek – Opgee se Gat.  In proses vir 2025)

No comments:

Post a Comment