Verlies – ‘n nare woord. Gaan
gewoonlik met hartseer of spyt gepaard.
Dit impliseer dat jy iets verloor
het wat jy gehad het.
Nog ‘n briefie kom vanoggend
verby – nog iemand wat ek ken het aanbeweeg.
Sy het iewers in die gang af gewerk, ons het gegroet en soms bietjie
twak gepraat. Dis verby.
My dogter ry more saam met
vriende om ‘n doop by te woon, iewers in die platteland, 2 ure ver. Sy moet saam met iemand ry anders gaan sy
nie. Ek sukkel om te glo dat my
dogter veilig sal wees as daar iets langs die pad gebeur. Verlies.
Die staatspresident het al sy kredietwaardigheid
verloor. Ander het hulle waardigheid
verloor – hulle huil op die TV wanneer hulle vertel dat hulle by ‘n shebeen
gaan kuier het, wat toevallig naby die Guptas se huis is. Die omie langs die pad vanoggend het sy lus vir
die lewe verloor – waar is sy kinders? Waar is sy familie? Het hulle hom ook langs
die pad verloor.
Ek het my respek verloor – vir leiers
wat nie leiers is nie. Vir mense wat politieke korrektheid belangriker ag as
die waarheid. Waar reg net bestaan vir
die wat in posisies sit, waar mense dronk is van mag – en so hulle menswees
verloor.
Tog – op fb is daar ‘n post waar ‘n
ma vra dat mense asseblief nie vir haar seun wat by verkeersligte bedel, geld gee
nie. Sy heg ‘n foto aan. Die geld gaan vir sy dwelmbehoefte. Sy het nie haar liefde vir haar seun verloor
nie.
Stop by die verkeerslig vanmore – knoop
‘n gesprek aan met die venster-tot-venster verkoopsman. Hy reken die mense het nie meer kontant nie,
daarom verkoop hy nou van hierdie plastiek sakkies waarin jy ‘n kredietkaart
kan skuif.
Hy smile en groet toe ek weer
verbykom. Hy het niks om te verloor nie.
Ons praat by die selgroep oor die
moeilikheid in ons land en bedink hoe ons as Christene moet optree. Dis moeilik. Soms wil ons die manne wat
droogmaak gaan afstof, en dan wonder Marius wat sou gebeur as 100 of 200 van
ons manne opruk en daar gaan bid, gemoedere kalmeer. Nuwe prentjie in my kop.
Ek lees van ‘n paar
politici wat gister strate gaan skoonmaak het in Pretoria, nuwe hoop. Alles is
nog nie verlore nie.
Daar is tog goeie
mense op alle vlakke en plekke – daar is hoop.
Ek beleef my selgroep – dinge gaan altyd beter verder in die pad af, glo ons. Wat het ons regtig wat ons kan verloor.
Verlies – jy kan nie iets verloor
wat jy nooit gehad het nie. Jy kan nie God aankla as jy nog nooit in Hom geglo
het nie. Jy kan nie ‘n geliefde verloor, as jy hom of haar nooit regtig
liefgehad het nie. Jy kan nie oor die
gemeenskap kla as jy nog nooit bygedra het nie.
Jy kan nie oor die kerk kla as jy nie bywoon nie. Jy kan nie oor mense by die werk kla, as jy
nie met hulle gepraat het nie. Jy kan
nie kla dat mense jou ignorer, as jy nie deelneem nie. Jy kan nie kla oor wetteloosheid as jy self
oor die rooi verkeerslig ry nie. Jy kan
nie kla oor egoism as jy nie diensbaar is nie.
Jy kan nie oor enigiets kla as jy nie ten minste daar is/was nie. Alles gaan nie oor jou nie.
Jy kan nie jou lewe verloor as jy
nog net bestaan het nie. Lewe ‘n
bietjie. Verlies sal daar altyd wees,
maar aan die einde van hierdie lewe wen ons weer alles.
Reis veilig Ilke. MooiLoop kollega. Hamba kahle!