Monday, 1 June 2015

Kan Ek Hierdie Dans Kry? ‘n Analogie…

Toe ek heelwat jonger was, op die platteland, het ons graag gaan dans.  Dit was ‘n jolige, stowwerige en senutergende affere.
Dit was gewoonlik in die boeresaal of die stadsaal of skuur, maak nie saak waar nie, solank daar genoeg plat plek was om meel te strooi sodat voete lekker kon gly – ‘n stowwerige maar uitstekende oplossing vir ‘n ongelyke en soms growwe sementvloer.
Langs die muur het die meisies gesit, aangetrek om aandag te trek!  Die (jong)manne het hulself dan redelik strategies geplaas – meestal naby die kroeg – sodat hulle die meisies kon dophou; totdat hulle genoeg moed bymekaar gespkraap het om ‘n meisie te vra vir ‘n dans.
Dit was die toets - om te dans moes jy die moed bymekaarskraap om oor die vloer te stap, ‘n meisie in die oë te kyk, en haar te vra; “wil jy dans” of “kan ek die volgende dans kry”?  Die antwoord was meestal ‘n giggelende blosende afkyk ja of nee. 
Ja - ongelooflike “rush”.  Jy steek jou hand uit, die meisie neem dit, sy kyk jou in die gesig en glimlag (meestal, behalwe as jy ‘n reputasie het vir tonetrap).  Op die ritme van die musiek gee jy een tree vorentoe en sy een agtertoe – in pas, gelyk, georkestreer, sweef julle oor die vloer, draai en swaai; oorbewus van mekaar se teenwoordigheid, hand-op-hand, hand-op-skouer, hand-teen-rug, dalk wang-teen-wang.  En hoe langer julle saamdans hoe meer raak julle een, lees mekaar, verstaan mekaat, pas aan by mekaar, ervaar mekaar, raak opgeslurp in mekaar; een.  En hoe makliker raak dit om te vra – dans met my.  En soms het die meisie gevra; en watter man kan dan nee sê, of sou wou nee sê?
Soms, na die eerste dans, het die behoefte om met daardie spesifieke person te dans, verdamp.  Dan het jy net nie weer gevra nie, of sy het jou vermy.
Nee.  Hoe nou gemaak? Skaapkop, asemnood, breinsonderbloed, sprakeloos.  Jy draai om en stap weg; verloorder.  Maak nie saak hoe sterk jy jou hou of hoe braaf jou reaksie tot jou maters is nie; daardie nee vreet in jou binneste.
Die ergste is geen antwoord nie, wanneer jy moet aanneem dat dit ‘n nee is, sonder om jou poging te erken deur net “nee dankie” te sê.  Daardie stilte is die grootste vernedering; jy is nie eers ‘n antwoord werd nie. Net niks!  Geen reaksie tot die moed wat jy geopenbaar het om jou behoefte (aan ‘n dans) openbaar te maak, niks.
Die moeilikheid het gekom wanneer jy regtig van die meisie gehou het, en jy regtig graag met haar wou dans en jy steek die vloer vir die tweede en derde keer oor – sonder sukses; dan moet jy maar jou waardigheid behou en die aftog blaas.  Dalk met jou oë oor die muurblommetjies vee en wonder wie sou met jou wou dans – want die prinses was nie geneë nie.  Of dalk onttrek jy jou, want jy is nie goed genoeg nie; of dalk sien jy nie weer kans vir die vernedering nie en vra net nie weer nie.  Jou ego sien nie kans vir nog ‘n verwerping nie.
Dan (soms) gebeur ‘n wonderwerk, die tweede (of self derde) beste, raak nommer een.  Want sy het ja gesê.  Sy wou met jou dans.  Sy het moeite gedoen om gesien te word – en jy het gesien, magic.  En as julle saam dans, en julle bly nie in oefening nie, dan raak dit weer net so moeilik soos in die begin.  En dis juis hier waar die analogie (‘n storie agter die storie) gebruik kan word om jou toewyding (of commitment) tot ‘n verhouding te toets; enige verhouding – werksverhouding, geestesverhouding, finansiele verhouding, liefdes verhouding; maak nie saak nie, besluit self.
Dit is waar vir alle verhoudings – jy moet moeite doen, jy moet die vloer oorsteek, jy moet die vraag vra; dan moet ‘n antwoord gegee word, met omsigtigheid, want elke antwoord het ‘n impak; positief of negatief – jou antwoord breek af of bou op.  En as die “magic” verby is begin die werk.  Die dissipline om te reageer soos in die begin.  Die liefde om aan te hou gee wanneer die fonk nie meer so sterk is nie, en so ‘n nuwe fonk skep.  Die insig om te verstaan dat, alhoewel jy nie meer in ekstase is nie, dit nie noodwendig waar is vir die ander een nie.  Die wete dat daar meer vreugde in gee is, as om te ontvang.  Die waarde daarvan om te weet dat jou gee ander tot vreugde stem, en dan nog te gee.  Dat jou doel in die verhouding raak om ‘n ander te behaag, tot vreugde te stem, behoeftes te bevredig – ongeag hoe jy voel, ongeag wat jy wil, ongeag.  Wanneer gee en neem, een word!  Dis wanneer ‘n verhouding werk, wanneer my en jou behoeftes in ‘n groter geheel een word, en dit ons s’n word. 
Dan wag jy vir die vraag “kan ek hierdie dans kry”, en soms dans jy sonder dat die vraag gevra hoef te word, want jy weet die behoefte is daar, selfloos.

“Wil jy dans, my skat?”  Ek dag jy vra nooit ……

No comments:

Post a Comment