Monday, 18 November 2019

Naweek in Langebaan

"Sal oom 'n paar wyse woorde op ons troue spreek", vra Ryno - en dit is hoe 'n naweek in Langebaan begin.  Omdat dit so 'n belangrike geleentheid is, moet die boodskap reg wees, dit moet sê wat gesê moet word. 

Die boodskap word geskryf en herskryf, en uiteindelik vertel die maak van Damaskusstaal die verhaal van hoe 'n huwelik 2 mense vorm. Die seremonie is in Langebaan en soos gewoonlik is dit 'n buitengewone mooi plek om te wees. 


Ek gee vir hulle 'n bottermes van Damaskusstaal wat deur Koos handgemaak is. Die boodskap werk en baie mense sê dankie, 'n pasgetroude dame sê niemand het dit so aan haar verduidelik nie. Die bottermes word sommer ingespan om die troukoek te sny - hoekom nie? Die familie en gaste kuier lekker - more is nog 'n dag.




Ons ry deur die Langebaan Reservaat en stop by Seeberg - vroeër was dit 'n
uitkykpunt, nou 'n besienswaardigheid. Ongelooflike uitsig. Die natuurskoon is asemrowend.  Ek wonder of die wat die uitkykpunt moes beman, ook soos ons gevoel het - dat dit sooooo mooi is, of het hulle die tyd omgewens? Verlang na hulle gesinne?


Ons kry pad na Johan en Ansie, dominee van Rondebosch gemeente. Ons woon die aanddiens van Huis Lückhoff by.  "God is Liefde" sê die kansel.  Teen die muur is die teks en gesange opgesit - met letters wat inskuif, soos lank terug.  Ek hou daarvan.
Terwyl Johan uit Lukas preek kyk ek rond.  Oom Koos is die raakvat ouderling, maar sy knie bodder. 


Daar is planne om die Kapel op te gradeer - die tapyt het beter dae gesien, die mure kort aandag en die klank het dringend opgradering  nodig. 

Daar is blomme op 'n klein koffietafel.  Juliette speel die klavier en ons sing uit die Liedboek, 'n heel paar verse elke keer, soos lank gelede. Die dominee sê watter verse.  Sonder 'n sanggroep en allerhande instrumente. Ek hou daarvan - my aandag word nie afgetrek van dit waarmee ons besig is nie.


Daar is tyd vir stilte - maar ek word nie stil nie. Ek kan nie. Regs van my sit 'n oom en tannie - oud. Die oom is maar netjies aangetrek en sy stapstok lê oor sy been. Sy lippe beweeg soos hy bid.  Ek kyk by die venster uit - links onder is volledige woonstelle vir onafhanklikes, regs is drie verdiepings met kamers en teen die straat is die gedeelte vir die met Alzheimer.  Ek besef ons almal word oud - en net soos sommiges hier, kan jou kinders jou ook vergeet .... daar is niks fout met hulle fone nie, hulle het net vergeet.

Ons draai om huistoe, die lewe gaan aan.  Ons het gekom om 'n paar wyse woorde op 'n troue te spreek, ek gaan huistoe met 'n verstaan van ons vergetelheid. 

Soos die Prediker sou sê; alles is 'n gejaag na wind, wysheid is om God te dien.